Skaars het die eerste note van “Stille nag, heilige nag” opgeklink, of my normaalweg nogal onsentimentele ma se oë het oorgeloop. As ons kom by “soete heeemelse rus”, het my ouma se stem so gebewe dat sy sukkel om verder te sing. Ons kinders het die situasie met grappies probeer ontlont, soos kinders mos maar maak met dinge wat hulle nie begryp nie. “As Ouma nie ophou huil nie, kry Ouma nie ’n present nie!” het my boetie gereeld onder die versierde boom uitgeroep. Of, die volgende dag aan die Kerstafel, nog ’n desperate dreigement: “Die een wat huil, kry nie poeding nie!”

Later het ek agtergekom die ooms word ook soms bewoë, hulle steek dit net beter weg as die tantes. Onthou, ek het grootgeword in ’n era en ’n nasie van mans wat nie mog huil nie. Siestog, dink ek noudat ek self een van die betraandes onder die Kersboom geword het. Hoe swáár moes dit nie vir Oupa gewees het om nie te huil daardie eerste Oukersaand nadat Ouma dood is nie.

Want nou ken ek ook die mis in Krismis.

“Season of mists and mellow fruitfulness.” Dis hoe die digter Keats in 1820 ’n Britse herfs besing het, maar vir my roep hierdie woorde van kleins af die Kersseisoen op. Seisoen van vrugbaarheid, inderdaad, in die somerse Suid-Afrika van my kinderdae, maar ook seisoen van mis en verlange. Mis soos in ek mis jou, soos in iets wat makeer, soos in voorheen was dit anders.

Kerstyd bly ’n feestyd, veral vir klein kindertjies en vir groot families wat saam kan vergader. Maar in elke groot familie is daar ook altyd iemand wat makeer. En dan onthou jy onwillekeurig ’n vorige Kersfees toe die geliefde nog daar was. Miskien selfs erger as die agtertoe kyk van elke Kerstyd, is die vorentoe kyk. Die ondraaglike gedagte dat ’n geliefde wat nou nog hier is, miskien nie weer volgende jaar saam met ons onder die Kersboom gaan vergader nie.

Dís waarom my ma elke Oukersaand met trane begroet het, besef ek noudat sy een van die vele geliefdes geword het wat ék elke Oukersaand mis. Baie van my dierbares mis ek bloot omdat ek my ver van hulle bevind, in ’n ander land, omdat ek nie weet wanneer en óf ons ooit weer saam ’n boom gaan versier en presentpapier gaan verskeur en mekaar met soene en drukke ’n geseënde Kersfees gaan toewens nie. Ander mis ek omdat hulle vir altyd vertrek het, na ’n Ander Land waar omdraai onmoontlik is, waar ek nie kan gaan kuier nie.

Soos my ma wat al amper ’n dekade afwesig is - en ek sukkel stééds om gewoond te raak aan ’n Kerstafel sonder haar kleurryke, alkohol-deurdrenkte trifle. Boonop is sy in die Kersmaand gebore én oorlede. Daarom word ek dikwels hierdie tyd van die jaar deur ’n driedubbele verlange oorval. ’n Verjaardagverlange, ’n sterfdagverlange én die onvermydelike seisoenale Kersverlange.

Maar dit beteken nie Kersfees in ons huis het ’n vreugdelose affêre geword nie! O nee, ons eet saam en ons lag saam en ons waardeer mekaar net daardie klein bietjie meer as gewoonlik. En as my seun sien ek begin stry teen die trane, keer hy my met ’n frase wat al amper ’n tradisionele strydkreet in ons familie geword het: “Die een wat huil, kry nie poeding nie!”

En dan lag ek, want hoewel ek lankal opgegee het om my ma se trifle te probeer naboots, is daar ander poedings op die tafel waaroor my kinders gek is en wat hulle seker ook eendag sal probeer naboots. En as ek die Kersfees nie meer daar is nie, en my dogter wil bewoë raak oor sy haar ma meer as gewoonlik mis, sal daar hopelik altyd ’n kind aan tafel wees wat kan uitroep: “Die een wat huil, kry nie poeding nie!”

Só was dit nog altyd in ons familie. Só sal dit, as ek my sin kan kry, nog lank bly.