“Hokaai stop die lorrie …..vanaand is dit net ek en jy. “   Ek weet nie watter soort lorrie Ray Dylan in gedagte het, maar die refrain van sy liedjie klink net reg vir ‘n dubbelkajuit Nissan Navara Titanium 4 x 4. 

Een ding is verseker, jy moet gereeld  stop dat mense kan kyk en loer  hoe die meneer binne en buite lyk. Ja, my buurman het ‘n deeglike inspeksie kom doen.   En van “net ek en jy ry”, weet ek nie, want deesdae word bakkies mos ook as gesinsmotor ingespan.

Net ‘n beperkte aantal van die titanium-model is in die handel beskikbaar. Die ramkat spog onder meer met titanium-gekleurde wiele en deurhandvatsels, asook bande wat kans sien vir enige soort oppervlak, ‘n haak en ‘n bosbreker (bull bar) aan die voorkant en selfs ‘n spesiale sleutel . Drie kleure – wit, swart en silwer is beskikbaar.

Met die 2,5 liter turbo-diesel-enjin kan jy verseker ‘n paar minder begaanbare paaie aandurf as jy lus is vir avontuur of ‘n boendoe-vakansie.  Die grondvry-hoogte van 233 mm maak sake  makliker as jy soiets oorweeg. Verseker iets wat al meer stedelinge vandag wil doen.

Ek kon die Navara – tot my spyt, want die Kalahari wink -  net op die snelweg en in stadverkeer op die proef stel.  Die uitsig is goed, ek kon gemaklik en vinnig  van baan verander en ook ‘n paar slaapkouse agterlaat.  Om hoog te sit, het verseker ‘n voordeel of twee as jy nie self ‘n langeraat is nie.  Die agterste sitplekke is taamlik regop, soos meeste dubbelkajuitbakkies s’n en hopelik kan die ontwerpers iewers ‘n plan hiermee bedink.  Maar dalk sal skoonma dan elke vakansie wil saamry as julle die rowwer paaie in die land aandurf.

Die Navara-reeks begin met ‘n King Cab teen R333 900 en het verskeie opsies en enjins tot by die bielie van ‘n V9X 7 spoed outomatiese Navara teen R610 000.  Die Titanium kos R372 000, maar dan moet jy wikkel volgens ‘n woordvoerder van Nissan, want die spesiale bakkie verkoop soos soetkoek.

Getoets deur Alida Vos