In die dorpie was niks. En niemand. En sterre. Sterre so helder dat stedelinge sal dink iemand het Kersliggies aangeskakel.

Die ou dorpshuis kon die minus-ses-en-'n-half-grade-koue nie buite hou nie. In twéé slaapsakke het ek gelê en luister na die stilte, wat genadiglik deur die kerkklok en saamsingende honde onderbreek is. Ons was op Sutherland. Ná 'n paar uur se veg met die droë koue het die kerkklok aangekondig dat die nag verby is. Saterdagoggend op Sutherland, en spitsverkeer word veroorsaak deur sowat 20 siele wat ons met hul Karooritme laat besef ons is in 'n ander wêreld.

Later ry ons na 'n dam waar forelle in yskoue, diep waters wegkruip vir die dorre stof onder die skroeiende son. 'n Eensame wind kom soek ons geselskap op en blommetjies begin skaam-skaam gesig wys. Verder is daar net die wydheid van die veld, die stilte en die oneindige blou.

As jy nog nie op Sutherland was nie, is jy arm. Ek wonder of Leonard Cohen nie dalk dáár die woorde vir een van sy liedjies geskryf het nie: "I needed so much to have nothing to touch - I've always been greedy that way . . ." Op Sutherland is daar genoeg niksheid om aan te vat. En is ons grootste armoede nie soms dat ons te véél dinge het om aan te vat nie? Te veel dinge wat ons aandag nodig het. Te veel dinge om ons oor te bekommer.

Op pad terug huis toe stop ons op Prins Albert en ek besef skielik dat die plek groter en besiger is as ooit tevore. As jy hiér voel "die stad" is vir jou te groot en te woelig, dan wéét jy jy was op Sutherland. Dan het die luukse van niksheid sy werk gedoen en jy gaan gesonder huis toe.

En so, met bevrore forelle veilig in die kattebak, ry ons uit die grote Prins Albert vir die laaste stootjie huis toe. Die son sak en dis asof ek Sutherland se kerkklok weer hoor lui. Ek verstaan sy boodskap: Gaan maar huis toe. Jy het genoeg om aan te vat. Jou mense. Die veld. En die niks.

Dis genoeg.