Ford Fiesta 1.0 EcoBoost Trend (PowerShift) outomaties

Getoets deur Alida Vos

Kom dinamiet deesdae in 1 l-EcoBoost-enjins met 3 silinders? Drie van ons, en Wagter, het die outomatiese Ford Fiesta 1.0 deeglik beproef toe ons weens ’n ongeluk op die N1 nie kans sien om ure in ’n tou motors te wag nie.

Ons kies toe ’n grondpad en daar wys die Ford wat onder sy voorskoot skuil. Op die snelweg was dit al duidelik dat die enjin nie verniet groot aansien het nie, maar ook op die grondpad was die outomatiese sesgang-ratkas met sy dubbelkoppelaar en seepgladde ratoorskakeling net ’n plesier. “Dis ’n regte Harry Potter-ryding hierdie,” was een van my reisgenote se kommentaar.

FOTO: QuickPic FOTO: QuickPic

Die brandstofverbruik pas jou sak, die motor hanteer heerlik, geen stof beland in die kajuit nie, en vou jy die agterste sitplekke plat, kan jy iets groters inlaai. Die ontwerp is sag op die oog, afwerking funksioneel en die enjin lekker woelig.

  • Prys: R236 600.