My neus blink wit van die sonbrandroom en ek sluk lang slukke lekkerte uit ’n uitgeholde kokosneut. Op die Meeru Island Resort se love boat in die noordelike Malé Atol van die Republiek van die Maledive wieg ons rustig oor die turkoois en indigo golwe terwyl ’n paar dolfyne boogspring deur die water. Die lug is baie vogtig, die temperatuur 30 ºC. Op en af swiep die kamana - ’n motorseiljag - oor die water, asof dit sensuele ballroom-passies uitvoer. Kamana beteken hoeka iets soos “oulike, trotse dame” in die plaaslike taal, Divehi, ’n mengsel van Indies en Arabies. Dit voel kompleet of ek my in ’n TV-advertensie bevind . . .

Visse swem soos kronkelende linte tussen jou bene deur in die vlak water voor jou houthuis op stelte. Die reisbrosjures jok inderdaad nie! As warm, tropiese winde aan jou hare en sarong ruk-ruk, weet jy vir seker jy’s nou sommer baie naby aan die ewenaar. In die paradys. Voor die vliegtuig op die Malé Internasionale Lughawe land, sien ’n mens turkoois “juwele” in allerlei vorms in die inkblou water dryf. Dit lyk soos een van die eksotiese halssnoere wat die Mexikaanse skilder Frida Kahlo graag gedra het.

Ná die tsoenami
Kan ’n mens glo dis presies een maand ná die verwoestende tsoenamiramp op 26 Desember 2004? Hoewel die Maledive net sowat 82 sterfgevalle (en 26 vermistes) ná dié ramp aangemeld het, is baie eilandgemeenskappe daardeur ontwortel. Sowat 12 000 plaaslike inwoners was skielik sonder huise. Volgens dr. Abdullah Mausoom van die Maldives Tourism Promotion Board, is 68 uit die 87 vakansie-eilande honderd persent in werking ná die vloedgolf, terwyl 19 eilande gesluit is. Ses van hulle is baie sleg beskadig. “Toerisme dra regstreeks sowat 30% by tot die bruto binnelandse produk van die inwoners, maar 70% van die inkomste spruit uit toerisme-verwante aktiwiteite. Hoewel die bedryf nie té ernstig geraak is nie, was die skade wat aan die 200 bewoonde eilande aangerig is 'n baie groot skok vir plaaslike inwoners. Hulle het nog nooit so iets beleef nie."

 

As warm, tropiese winde aan jou hare en sarong ruk-ruk, weet jy vir seker jy’s nou sommer baie naby aan die ewenaar.

 

Sowat 3 000 inwoners het hul werk verloor. Teen 27 Desember verlede jaar was daar sowat 17 000 besoekers op die Maledive-eilande. Op 1 Januarie 2005 het getalle tot 2 500 gekrimp, maar teen 23 Januarie was daar weer sowat 6 500 besoekers. "Dit beteken steeds dat toerisme met sowat 62% gedaal het in vergelyking met dieselfde tyd verlede jaar," vertel dr. Mausoom. Tog is die regering hoopvol dat mense gou sal besef dat die paradys weer paraat is vir sonaanbidders.

Ismail Afeef, verkoops- en bemarkingsbestuurder van Crown & Champa Resorts, was op Meeru toe die eerste golf (daar was altesaam drie) net ná nege-uur die oggend by die restaurant ingestroom het. Hy was, soos baie gaste, besig met ontbyt toe hy hoor hoe vensters breek. Ek probeer my die skok indink terwyl ek een oggend my muesli, jogurt en stroopsoet papaja en groenspanspek eet. "Die water was sowat een meter hoog regdeur die oord," vertel Ismail. "Meubels het begin ronddryf en die elektrisiteit was in 'n stadium afgesny. Maar ons het dadelik werk van die saak gemaak. Ons het die gaste in die restaurant bymekaargekry. Reddingsbaadjies is uitgedeel en teen eenuur die middag was die kokke al weer gereed met die heerlikste geregte. Hoe, weet ek nie." David Feinberg, hoofbestuurder van Crown & Champa Resorts, vertel van 'n Duitse gesin op Meeru, wat ná die tsoenami gevrees het hulle gaan sterf. Hulle het na die tennisbaan op die eiland gevlug - hulle het gereken as hulle binne die baan is, sal hulle veilig wees, want as nog 'n golf sou kom, kon hulle immers teen die draad uitklouter . . . “Ek sal nooit die geluid van die water vergeet nie. Eintlik was ek baie kalm,” vertel Jacki McBrearty, ’n Suid-Afrikaner wat sedert November op dié eiland as verteenwoordiger van Airtours werk.

Op Dhiffushi, die eiland naaste aan Meeru, is die skade van die tsoenami ook nog vars in die inwoners se geheue. Hier is die lewe, anders as op die luukse “oordeilande”, betreklik eenvoudig. Inwoners verdien hul brood uit onder meer vis- en kreefvang en baie is vakmanne. Die kontraste tussen Eerste en Derde Wêreld is plek-plek amusant. Die meeste inwoners het selfone. En by baie van die primitiewe eilandhuise van hout of klip pryk satellietskottels of TV-antennes. Die vroue is egter gedoek en sku vir kameras of geselsies. Skugter glimlag hulle vir besoekers, kind op die arm. Die mans wys graag hul koopware - sarongs, houtsneewerk, batik, wierookstokkies, perlemoen-artikels en skulpe - in winkeltjies waar waaiers woer. Daar’s ’n paar interessante “hangmatte” te sien: Ou plastiek lêstoeloorblyfsels word soms met tou aan ’n tak gebind en dan wieg inwoners rustig in die tropiese wind vir ’n bietjie lafenis.

 

Interessante kos-invloede van Indië, die Verre-Ooste en Arabiese nasies, kelners wat nie skaam is vir glimlag nie en luukse verblyf (die lugreëling is voortreflik) - jou kokosneut loop spreekwoordelik oor.

 

Die negentienjarige Dhun Yami, ’n visserman en bouer van Dhiffushi, sê in gebroke Engels: “Dis die ergste ding wat nog ooit met ons gebeur het.” Hy glimlag breed, asof hy wil sê gister is geskiedenis en môre is nog ’n dag. Party inwoners het ál hul besittings verloor. Die plaaslike skool is oorstroom en is eers die laaste week in Januarie heropen. “Die kinders is al hul boeke en skryfbehoeftes kwyt, maar gelukkig het die regering ons bygestaan,” vertel Dhun. Rémy Faure, ’n Franse werktuigkundige, wat reeds sowat twintig jaar op die eiland woon, vertel dat hy die meeste van sy aardse besittings verloor het. “Maar gelukkig is my gesin veilig.” Hy dink nie eens daaraan om dié tropiese paradys-eiland te verlaat nie. Tsoenami of nie, dit lyk nie asof dit dié diep oortuigde Moslem-volk geknak het nie. “Kort ná die ramp het mense na die twee moskees op Dhiffushi gestroom en begin bid. Baie van die ouer mense op die eiland het geglo die tsoenami is as straf gestuur vir die mensdom se sondes,” sê Dhun. Manuella Bischof, ’n see-toesighouer van Switserland, wat onder meer op die Kamana werk, sê een van die grootste “voordele” van die ramp was dat almal op Meeru gehelp het om op te ruim. Sy beduie met haar arms hoe almal help dra het aan die rommel. “Niemand was te goed om hul kant te bring nie. Dit het werker en baas herenig en baie gedoen vir die moraal op die eiland.”

Turkoois herinneringe
Toe ek een oggend om die eiland stap (dis sowat 1,3 km in omtrek, maar as dit so warm is, voel dit of jy die Comrades hol!), verwonder ek my opnuut aan die mooigeid om my. Dhigga-bome, wat plaaslike inwoners vir houtsneewerk gebruik, palms wat koelte gee as jy op lêstoele op die strand ontspan, spierwit sand wat lyk soos strooisuiker, voëlgeluide, water silwerig-blou soos in sprokiesboeke . . .  Voeg hierby interessante kos-invloede van Indië, die Verre-Ooste en Arabiese nasies, kelners wat nie skaam is vir glimlag nie en luukse verblyf (die lugreëling is voortreflik) en jou kokosneut loop spreekwoordelik oor. Die pasgetroudes Hettie en Eugene Swanepoel van die Wes-Rand is een van vele Suid-Afrikaanse pare wat hier kom skubaduik, snorkel, sonbrand, kajak, swem, lekker eet en rus. “Nee wat, ek was so opgewonde om te kom dat ek glad nie eens aan die tsoenami gedink het nie,” sê Hettie. Eugene kon ook nie wag om sy vrou ’n bietjie meer touwys te maak met die skubaduikery nie.

Ek is skoon hartseer ná vyf dae toe ons vroegoggend met die motorboot vanaf Meeru na Malé vertrek. Die see is weer eens rustig en ’n paar dolfyne speel langs die dhoni (’n plaaslike vissersboot, enjinaangedrewe). Die see sproei fyn druppeltjies oor my arms. Malé se hawe is woelig. Dis vol kleure en geure. Die ideale agtergrond vir ’n fliek. Van ver af ruik ’n mens die vismark. Die Ministry of Atol Affairs (“binnelandse sake”) is in ’n koloniale gebou, vars en wit met groen afwerkings plekplek. Air Equator se bordjie pryk in die besige straat naby die hawe. Oral is kontraste. Daar’s om elke hoek en draai klein motorfietsies. Die lug is klam en warm, maar ons waag dit nie om arms of skouers te wys nie uit respek vir die Moslemgeloof. Dis ’n landskap wat die een cliché ná die ander optower. Amper te idillies om in ’n paar woorde saam te vat. Elke ervaring was soos een van daardie “turkoois krale” wat ek by ons landing gesien het. ’n Kosbare snoer vol herinneringe.