’n Nuttelose tydverdryf? Aikôna. Jou brein is baie meer aktief terwyl jy dagdroom as wat voorheen gedink is, wys ’n studie in die joernaal Proceedings of the National Academy of Sciences. Breinskanderings wys dit gons dan behoorlik in jou brein se “uitvoerende netwerk” – die deel wat met komplekse probleem-oplossing vereenselwig word. Voorheen het mense aanvaar daardie deel van jou brein rus dan, en volgens die navorsers word dwalende gedagtes gewoonlik geassosieer met luiheid en onoplettendheid.

Maar dié studie wys jou brein is eintlik baie besig as jy dagdroom – baie meer as wanneer jy met roetine-take besig is. Jy kan tot ’n derde van die tyd dat jy wakker is, dagdroom. Maar dis in werklikheid ’n belangrike bewussynsvlak waar jy onbewustelik jou aandag wegvat van ’n onmiddellike taak om probleme deur te werk. As jy dagdroom, fokus jy dalk nie op jou onmiddellike doelwit nie – soos om ’n boek te lees. Maar jou kop kan die tyd gebruik om op belangriker vrae in jou lewe te fokus. Soos watter koers jy met jou loopbaan moet inslaan.

*Bron: ScienceDaily.com