Saartjie is mos so bietjie van 'n stalker wanneer dit by celeb-styl kom. En sy sien die poncho is wat al die bekendes nou dra in die Noordelike Halfrond se koue winterweer.

Ek weet dit is nog vrek warm hier by ons en dit gaan nog vir 'n lang ruk so wees. Maar jy moet mos tog ingelig wees oor wat aan die bekendes se lywe gesien word. En wat is tans Sienna Miller, Olivia Palermo, Sarah Jessica Parker,  Rosie Huntington-Whitely, Cara Delevingne se gunsteling...

Die poncho! Burberry se allergewilde trench coat word vervang met 'n monogram-poncho.

Burberry het by die Londense modeweek klem geplaas op hul nuwe poncho vir winter 2014. Maar dit is nie net enige poncho nie, dis jou eie persoonlike poncho. Die show is afgesluit deur modelle wat trots paradeer in poncho's met die klassieke Burberry House-patroon, elk met haar eie voorletters daarop.

Kyk hier hoe ongelooflik het dit op die loopplank gelyk:

Die volgende bekendes is ook op straat gewaar met dié gewilde poncho:

Burberry bestaan al vanaf 1856 en is bekend vir hulle check motief en waterbestande trench coat. Die poncho is gemaak van wol en kasjmier. Christopher Bailey, die CEO & kreatiewe hoof van Burberry, se inspirasie vir die poncho is die tradisionele check kombers.

Die poncho is perfek vir die koue, reënerige dae en gemaklik om oor jou skouers te laat hang. Dis stylvol, maar terselfdertyd eenvoudig. En nou kan jy ook op Burberry se webtuiste jou eie voorletters intik en sien hoe jou persooonlike monogram-poncho gaan lyk. Dit maak ‘n perfekte geskenk vir jouself en laat jou sommer spesiaal voel, asof jy ‘n lid is van ‘n geheime Burberry-klub. Jy kan ook jou Burberry-serp met jou eie monogram koop.

My droom was nog altyd om 'n Burberry trench coat te besit, maar nou wil ek ook een van dié poncho's hê. Ek is regtig gaande oor die winter 2014-reeks van Burberry.

Hier is nog 'n paar van my gunsteling-items in Burberry se winter 2014-reeks: