Waar woon julle?

Prescott, in die Amerikaanse staat Arizona, een van die plekke wat jy moet sien voor jy doodgaan! Dis ’n sogenaamde “tri-city”, drie dorpe in een: Prescott, Prescott Valley en Chino Valley.

Ons woon tans in ’n semi-woestynstreek tussen die sahuaras (mensplante). Dis ’n beskermde spesie wat eers ná 35 jaar hul eerste loot uitstoot.

Die weer?

Baie warm in die somer met temperature van by die 40 °C en geen wind nie. Hier’s donderweer soos in Pretoria en die elektriese storms is pragtig. Dis koel as die son sak en snags huil die prêriewolwe (coyotes) – sodat rillings teen jou ruggraat afhardloop.

Is die mense ingelig oor SA?

SA bestaan basies nie hier nie, en baie mense weet nie eers waar dit is nie. Hulle het geen idee wie Nelson Mandela of Jacob Zuma is nie. Hulle weet wie emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu is en die jongklomp weet darem iets van die Wêreldbeker-sokkertoernooi.

Was die aanpassing groot?

Almal is baie vriendelik en behulpsaam. Ons is maklik opgeneem in die gemeenskap en die aanpassing was nie te erg nie. In Phoenix, ons naaste groot stad, woon sowat 25 000 Suid-Afrikaners en daar is ’n internasionale winkel waar jy onder meer Mrs Ball’s, Ricoffy, regte kerriemengsels, Flakes en Crunchies kan koop. Ons mis ons taal. Om die Bybel en die preek in die kerk in Engels te hoor bly maar vreemd op die oor. Ons praat steeds Afrikaans in ons huis.

Vertel van die klub waaraan julle behoort.

Die Springbok-klub kom elke tweede maand bymekaar. Dan braai ons of maak potjiekos. Bykosse wissel van mieliebrood, pap en sous tot melktert of rolpoeding (roly-poly).

En die kos daar?

Ons maak ons eie biltong en boerewors en bak beskuit van ’n resep wat in SARIE verskyn het. Ons het darem al kondensmelk hier opgespoor. Die verskeidenheid is soveel groter as in SA met byvoorbeeld 92 verskillende soorte brood in ’n supermark. In die begin het dit lank geneem om kruideniersware te koop omdat die keuse wyd is en jy sukkel om goed te kry wat naastenby bekend is of bekend proe. Rooivleis is baie duur, maar hoender weer baie goedkoop. Die vleis is van baie goeie gehalte en die groente en vrugte is alles uitvoergehalte.

Wat mis julle die meeste?

Ons oudste dogter, Thandi, wat steeds op Somerset-Wes woon, kuier saam met vriende en familie, ’n swembad om in af te koel in die warm somer en natuurlik die see.

Beplan julle om terug te kom?

Nie permanent nie. Ons geniet die vryheid hier. Die samelewing is georden en wetsgehoorsaam. As jy nie binne dié raamwerk wil lewe nie leer jy baie vinnig die gereg ken, en hulle tree ongenadig op teenoor oortreders.

Vreemdste ondervinding?

’n White Christmas en eggnog. Hulle gee nie om hoe hul karre hier lyk nie (stampe en duike maak nie saak nie), het baie tatoes (soms oor hul hele lyf ) en jy mag nie hier alkohol gebruik voor jy 21 is nie. Amerika gebruik nie metrieke maat nie en werk in galonne, duime en voete, en daar is ook die verskil tussen Fahrenheit en Celsius.

Lekkerste van daar wees?

Ek het “afgetree” en reis heelwat saam met my man vir sy werk in Amerika. Hendri is ’n ingenieur in die lugvaartbedryf. Ek skryf vryskut, speel gholf en leer ook Spaans praat.

Bly jy oorsee?

• stuur e-pos na pgreen@media24.co.za