Teen skemer, op die vloedvlakte van die Luangwa-vallei in Zambië, het vier leeus ’n groepie rooibokke vasgekeer, treetjie vir treetjie nader beweeg op die ritme van die singende naam: Loe-hang-gwha . . . Die leeus se voorpote hang vir ’n oomblik in die lug voor hulle elke poot versigtig inwaarts vou en ’n entjie vorentoe neersit - asof hulle water toets. In die reënseisoen vul dié vlakte inderdaad op met water; nou is dit droog en grasagtig. Die rooibokke, oftewel impalas, trippel senuweeagtig en retirerend met swaaiende sterte, hul koppe omlaag en skigtig. Elke nou en dan grom een van die leeus en sak neer op die kort gras. Die voorbokimpala reageer met ’n waarskuwing: Vier kort, hoë snork-geluidjies. Die leeus se grom is swaar en sugtend. Dan weer: Vier snork-geluidjies. ’n Kollig op die houtdek van die Puku Ridge-tentkamp, skaars 100, 200 m van die leeus, verlig hul pelse dof en wit.

Dit blyk daar is nie vier leeus nie, maar vyf. Die impalas het nie ’n kans nie . . . ’n Groepie toeriste op die houtdek onder ’n reuse-tamarindeboom maak hul lippe nat met skemerkelkies. ’n Mopanievuur vlam teen die koue in die lug. Die naggeluide begin . . . voëls wat huis toe vlieg, ’n seekoei wat keel skoonmaak in uitgerekte kreune, ape wat vir oulaas krakeel en kef voordat hulle die bome opsoek, die laaste torrrtel-torrrtel van ’n duif. Dan, doodstil kom die maan op. Groot en rond in kleure wat selfs in die verbeelding nie moontlik lyk nie. Die maan is Fantaoranje en verander geleidelik in goud. En die sterre kom uit, laag en helder. Môre, vroegoggend, wanneer die son opkom en die sterre terugtrek, hang son en maan - nou glaserig wit - albei op die horison: Oos en wes in dieselfde wye lug.

Bosweelde
Welkom in die hart van Afrika. Welkom in Zambië. Dié land lê uitgestrek oor meer as 750 000 km², waarvan sowat 30% onder wildbestuur is - sowat 225 000 km². (Die Kruger Nasionale Park is 20 000 km² groot.) ’n Hawe vir dier en mens, van lodge tot lodge, waarvan daar baie in Zambië is. Party besonder luuks en weelderig - Sussi, Lechwe, Kulefu, Chichele en Puku Ridge. Dis stadsgerief in die bos tot by gesonke bad en haardroër. Doom en Peaceful Sleep is standaard. Dis immers malaria-gebied. David Livingstone-wêreld, die Skot wat in 1840 Afrika toe gekom het as 27-jarige sendeling en dokter - en die gebruik van sy linkerarm in ’n onderonsie met ’n leeu verloor het. Maar meer bekend as die eerste Europeër wat op 16 November 1855 die Victoria-waterval eers gehoor en toe gesien het. (Vanjaar is die 150-jarige herdenking daarvan, en die dorp Livingstone vier terselfdertyd sy eeufees.) Die waterval se plaaslike naam is Mosioa-Tunya: the smoke that thunders. Die water tuimel oor ’n skeur in die grote Zambezi 100 m na benede, amper 2 km breed, 550 000 liter³ water per minuut, en styg dan op in ’n konstante digte miswolk wat van ver af soos rook lyk. Af met gladde trappies van uitkykpunt na uitkykpunt tot binne-in die gedonder van die water. Dis een van die natuurlike wonders van die wêreld en nog grootser van die Zambiëkant as van Zimbabwe aan die oorkant. Met ’n reuse-reënboog, selfs in die nag, bekend as ’n lunar rainbow. Maar die plaaslike mense sê dis ’n spook-reënboog. Want, as jy gelukkig is, sien jy die reënboog duidelik in die lig van die maan, maar as jy dit afneem, verskyn dit nie op die foto nie . . .

 

Stadig maar seker word die skrapnelstukke van ’n jare lange oorlog in die dae van Rhodesië opgetel.

 
“After twenty minutes’ sail from Kalai,” skryf Livingstone, “we came in sight, for the first time, of the columns of vapor appropriately called ‘smoke’ rising at a distance of five or six miles, exactly as when large tracts of grass are burned in Africa.” En dan volg sy beroemde beskrywing: “. . . scenes so lovely must have been gazed upon by angels in their flight”. Al wat vir hom kortgekom het, was “berge op die agtergrond”.

Dié, en die brandende gras, is wel sigbaar uit die lug in ’n ligte vliegtuig van Livingstone na Mfuwe Internasionale Lughawe (lyk nie baie internasionaal nie, maar toemaar) in die Luangwa-vallei op pad na Puku Ridge en Chichele Presidential Lodge. Ook nie noemenswaardig bérg nie, eerder opgeskote heuwels. Wat wel indrukwekkend is, is die Kariba-meer waaroor die vliegtuig se skadu glip. Kariwa (= strik, soos in slagyster) hou net aan en aan, 220 km lank en plek-plek tot 40 km breed. Die grootste mensgemaakte meer/dam in heugenis toe dit in 1960 voltooi is. Maar dit het die riviergod, Nyaminyami, briesend en bruisend gemaak. In 1957 het hy ’n vloed gestuur (so glo die Tonga-mense van die gebied) en dit het die bouwerk beduiwel. Wat was die kans dat ’n tweede vloed die volgende jaar sou toeslaan? Duisend teen een. Toe gebeur dit wel, die water selfs 3 m hoër as die vorige jaar. Sien? het die Tonga-mense gesê . . .

Vandag verskaf die meer elektrisiteit aan Zambië en Zimbabwe, bied ’n woelige varswater-visbedryf en ’n inkomste uit toerisme. En met die manewales van pres. Robert Mugabe in Zimbabwe het pres. Levy Mwanawasa se Zambië die nuwe toerismebestemming van die streek geword. Stadig maar seker word die skrapnelstukke van ’n jare lange oorlog in die dae van Rhodesië opgetel. Op lughawens groei rose en selfs die doeanebeamptes is vriendelik. Welkom terug in ’n vervloë koloniale tydperk van verveelde oordaad - sonder die verveling. Dis White Mischief en Out of Africa in een.

Van lodge tot lodge
Die verwelkomingsdrankie is verfrissing in ’n glas: Helfte gemmerlim, helfte lemonade. Los plek vir ’n skeutjie lemoensap en 2, 3 druppels aromatiese bitter. Probeer dit. Die “nasionale” bier is Mosi Lager (spreek uit “mossie” = “rook”). “As mighty as Zambia’s Mosi-oa-Tuna.” En op die wynlys: Boschendal Blanc de Blanc, Zonnebloem Blanc de Blanc, KWV Shiraz of KWV Cabernet Sauvignon teen $20 (duskant R140) per bottel. By Chichele is die sigare by die prys ingesluit . . . Chichele Presidential Lodge is ’n tipiese prentjie uit die kolonies. Dis hier waar pres. Mwanawasa jaarliks in Desember kom vakansie hou - en nooit uit sy kamer no. 2 kom nie. (Koningin Elizabeth het een keer in no. 1 tuisgegaan.)

 

Die verwelkomingsdrankie is verfrissing in ’n glas: Helfte gemmerlim, helfte lemonade. Los plek vir ’n skeutjie lemoensap en 2, 3 druppels aromatiese bitter.

 
Die spyskaart is inderdaad geskik vir konings en presidente. Die lang tafel langs die swembad is wit gedek met kerse en maanlig. Op die rand van die lig staan rye kelners geüniform. Val ’n vurk, verskyn ’n skoon een misterieus uit die donker. Glase word op dieselfde manier vol gehou. Elke gier van elke gas geniet voorrang in die soel aand. Nog ’n impala-sosatie? (Toemaar, dis nie een van die impalas in die veld nie, dié enetjie kom van Zimbabwe.) Of impala-steaks oor die kole gebraai, met stampmielies, groente en slaai. Ook impala-Stroganoff op rys met groenslaai en vars brood. Of hoenderrol met ’n wyn-en-kaas-sous, broccoli met amandels en roerbraai-botterskorsie. Geroosterde filet met ’n groenpeperkorrel-sous. Lamtjops en boerewors. ’n Varswaterkurper (bream) in foelie gebak. Ratatouille of pannekoek met sampioene en kaas vir die vegetariërs. Nagereg - en die rede vir die ete - is sjokolademousse of roomys in ’n gemmerbrandewyn-mandjie, crème brûlée of banoffie-pastei (room, piesang en karamel op ’n beskuitjie-basis).

Een van die luukse boomhutte by Sussi Lodge.

Ons is nog nie klaar nie . . . Piesang-muffins, graanvlokkies, eiers en die res vir ontbyt. By Sussi gaps die apies die ontbytvrugte van die tafel en klouter daarmee in die dakbalke onder die rietdak, gooi later ’n piesangskil grond toe. Skaars 30 tree verder staan ’n olifant en dink onder ’n ebbehoutboom . . . Middagete is gewoonlik ’n laat-ontbyt met meer van dieselfde. Daar’s ook ’n voorontbyt soggens vroeg wanneer almal opwarm vir ’n wildrit. En teen sononder, versnaperinge op ’n plato in die veld en drankies van jou keuse terwyl die son sak en die gids sy kollig regkry vir die nagrit . . .

Muis, leeu en poekoe
Vlak langs die pad skyn die lig op twee maer leeuwyfies, slaperig. Hulle het hulself misreken met ’n ystervark - die penne steek nog vas in hul nek- en keelvel. En verder, twee ander, dik gevreet en die een dragtig, terwyl ’n derde leeu van agter uit die niet teen die oop Land Rover kom verbyskuur. (Trek jou bene onwillekeurig op en neig na links.) ’n Bloedreuk van die
jag hang nog in die lug . . .  ’n Ent verder sit ’n groepie kameelperde op hul knieë en slaap, koppe omhoog.

 

By Sussi kom soek die seekoeie die groen gras rondom die boomhutte uit, so naby soos hand uitsteek.

 
Stap-safari’s bring jou nog nader aan die veld. Olifante, buffels, hiënas, nóg impalas, meerkat en muis. Die reuk van gras, diermis en stof tussen baobab-reuse, skaars duisend jaar oud. Verstokte mopanies met hul arms in die lug, piepklein skarrelende mopanie-eekhorinkies (en nóg impalas), krokodille, seekoeie op hul stompie-bene. By Sussi kom soek die seekoeie die groen gras rondom die boomhutte uit, so naby soos hand uitsteek. By Chichele loop die sogenaamde Chichele Pride: Sewe leeuwyfies en twee groot mannetjies - met die moontlikheid van ’n kleintjie teen dié tyd. Hier, in die Suid-Luangwa Nasionale Park, hou ook sowat 400 van Zambië se 732 voëlspesies. By Puku Ridge rafel die bobbejane die tenthutte se dekriet uit soos stout kinders. Daar is drie troppe - tot 60 in ’n trop - aan ’t speel, raas, jaag, protesteer, lag, blaf en terg. Hulle eet alles wat voorkom. Volkome tweehandig stop hulle hul kieste vol. Die Alpha-mannetjie steur hom min terwyl ’n kleintjie kans sien om ’n poekoe te jaag. Volgens Smithers’ Mammals of Southern Africa is die poekoe ’n bedreigde bok-spesie. In Tanzanië is sowat 40 000 van hulle en hier in Zambië selfs meer. Hy lyk amper soos ’n impala, maar anders as die impala se wakker gesiggie, lyk die poekoe onnosel. Kan ook nie pronk of spring nie. Namiddag kom die poekoes . . . (O, amper vergeet van High Tea. Hier is High Tea hóóg, vieruur namiddag gaan nie verby daarsonder nie. Sjokolade-karamel-snysels, vrugteslaai, mini-pizza, vetkoek met maalvleis, kaaskoek, klappertert . . .)

Namiddag kom die poekoes, die bobbejane en impala’s wei-wei nader aan die tentkamp. Sit maar op jou private houtdek, hulle kom na jou toe. Ná donker is dit verbode om dit buite te waag sonder ’n gids, gewapen met ’n 458. En by jou bed ’n fluitjie - vir roep, ingeval. Dalk kom skuur die seekoei weer vannag teen die hut met takke wat kraak . . . Hier’s die Thornicroft-kameelperd, die Crawshi-sebra - elkeen dra sy strepe soos ’n vingerafdruk, want nie een s’n is dieselfde nie. By Sussi hou Zambië se enigste twee witrenosters, Fwanya en sy meisie, Molly. Hulle word dag en nag opgepas deur wagters met gewere. (As die gids dus sê julle is gelukkig om die renosters te sien, is dit net om julle spesiaal te laat voel - die oppassers weet immers altyd waar die renosters is.) Renoster, olifant, leeu, buffel. Miskien môreoggend, môreaand sien julle die ontwykende luiperd, die skaam een van die Groot Vyf.

* Die groepie impalas hét toe ’n kans gestaan. Dalk het hulle geweet: As ’n leeu grom, is hy nie ernstig oor die jag nie. Die leeus het later belangstelling verloor en in die bosse aan die oorkant van die vloedvlakte verdwyn.