En toe breek die heuglike dag aan, wat vir my meer soos ’n nagmerrie gevoel het. Slegs twee hondjies het oorleef. In ’n stadium moes ek, wat van sulke dinge net mooi niks weet nie, hand bysit in Penny se krisis-uur.

Min in my lewe het ek in ernstige gebed verkeer vir ’n hond, maar hier het haar benoudheid vir my net een te veel geword. Ek was sommer kwaad vir Peppy, die reuntjie wat verantwoordelik was vir dié situasie. Kon hy nie sien sy nasate sou gans te groot wees vir só ’n verfynde dame nie?

Só het ek en my gesin die misterie, die lyding en die wonder van nuwe lewe saam met Penny (en ’n verwarde Peppy op die agtergrond) beleef. Toe die twee kleintjies eers daar was, het ons gevoel ons klein heldin het op ’n magiese, universele manier deel geword van die susterdom van vroue wêreldwyd.

Binne oomblikke ná die nuwelinge die lig gesien het, wou die pa kom kyk wat aan die gang is - net om met ’n gekweste ego te ontdek daar is ’n ystervrou in die omgewing. Penny het na vore getree as ’n formidabele beskermer van die twee bondeltjies en Peppy het besef dat sy heerskappy vir eers ’n illusie is. Iets van die wonder, krag, verhewenheid en ook lyding van vrouwees het weer eens tot my gespreek.

As ek aan die vroue in my lewe dink, word ek bewus van die misterie van krag wat versteek is in die sogenaamde “swakker geslag”. Miskien steek daar meer in die Eden-verhaal as wat ons besef. Miskien het elke Adam tóg swakhede en tekortkominge wat net deur die krag van ’n Eva oorkom kan word. Miskien het die bravade van elke Peppy so nou en dan die toorn van ’n Penny nodig, en ook haar stille sagtheid.

Is daar nie ’n groot waarheid in die woorde dat Adam ’n hulp nodig het wat by hom pas nie?

Want ons almal wat deel is van die “sterker geslag” behoort maar gereeld te leer: Ons is nie so sterk soos ons dink nie. En daarmee kan net die stille, skone sterkte van ’n vrou ons help.