Dis die meelewing van mans, waarin daar ook ’n gemeensame, ontspanne eenvoud opgesluit lê. Hulle verstaan mekaar.

“Jis, Kortgat, hoe gaan dit dan nou?”

“Hel, jou maag raak darem nou groot.”

“Jy lieg, man! ’n Mens kry nie sulke groot visse in Margate se see nie.”

“Vat nog een keer aan my braaivleisvuur en ek bliksem vir jou!” (Gebiedsafbakening.) “Gaan haal liewer vir ons nog ’n bier.”

“Jy was een van daai ouens wat vir Percy afgeskryf het, onthou jy? Wat het ek jou gesê?”

“Hy kan steeds nie verdedig nie, man.”

“En daai wedstryd teen die Bulls?” (Dag en datum.) “Boel, man!”

“Jy moet erken: Percy het tegniék!”

“Dis wat julle ouens met die klein voetjies altyd sê, ja.”

“Met sulke ore sal ek nie praat as ek jy is nie. Daar’t seker iets verkeerd geloop by jou geboorte.”

“Ek hoor jy’t vir jou ’n nuwe 4x4 gekoop. Jy moes die X3YZ STI-model gevat het. Het jy dan nie eers jou huiswerk gedoen nie?” (Mans doen huiswerk voor hulle enige groot aankope doen.)

En as ’n vrou sou vra: Hoekom stry julle so oor niks? is daardie manne doodstil. Stomverbaas. Waarvan praat sy? Wie’t gestry?

“Maar hoekom praat julle al hoe harder?” (Wag tot hulle begin sing ...)

Laat enige vrou ’n paar manlike opmerkings teenoor ’n vriendin uiter, en daar’s dikmonde, baie trane, katnaels, burgeroorlog en later pleidooie om vergifnis en versoening.

“Weet jy wat sê sy vir my? Sy sê: Dit lyk nie asof jou dieet werk nie.”

“Sy behoort haar te skaam! Ek het nog altyd gedink sy’t oë soos ’n geitjie.”

Daar’s weliswaar ’n ongeskrewe reël tussen mans wat niemand oortree nie: Jy sê nooit iets leliks oor die vroue in ’n ander man se lewe nie: Nie sy vrou, sy ma, sy suster, sy antie of sy diensmaagd nie. Dis doodsake, hetsy van die vriendskap of die man.

“Het jy gesê my vrou is ’n geitjie?” Die gevolge is te grusaam om te kontempleer. (“Ek’t net gesê sy gedrá haar soos ’n geitjie.”)

Die teenoorgestelde is ook taboe: Een man sal nooit vir ’n ander man sê jou vrou het darem mooi boude nie. Dis moeilikheid soek. (Solank jy dit dink, is jy lojaal. Sodra jy dit sê, is jy geskiedenis minus ’n bier.)

Só verstaan mans mekaar in hul eie taal.

“Het jy gehoor van die ou wat by die kroeg inloop met ’n eend?”

Hulle lag ook vir hul eie grappe.

“Ek verstaan julle mans se gepratery glad nie,” sê sy. “Is dit nou nodig om so te kere te gaan oor Percy Montgomery en ’n 4x4? En wat’s so snaaks aan ’n man wat by ’n kroeg inloop met ’n eend wat kan praat? Hoekom praat jy nie liewer meer met mý nie?”

“Wat wil jy hê moet ek sê?”

Sy loop stom kombuis toe. Toe gaan die krag skielik af. (Blêrrie Eskom.) Toe steek jy vir julle kerse aan sodat julle lekker kan gesels, lekker lustig, sommer so op die mat, stel jy voor.

(Later gaan sit jy weer stilletjies die krag by die hoofskakelaar aan ...)