SARIE het al voorheen die Volvo XC90 se lof besing en dit is immers die huidige Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar, terwyl dit ook talle internasionale pryse op sy kerfstok het.

Volvo het ’n ruk gelede die XC90-modelreeks met die T8 Twin Engine-model uitgebrei. Die modelnaam dui inderdaad daarop dat hierdie voertuig ’n XC90 met twee kragbronne is – ’n konvensionele petrolenjin sowel as ’n batterypak.

Na gelang van omstandighede of die bestuurder se wens, werk hierdie enjins saam of apart. Ja, hoewel Toyota en Lexus dalk plaaslik meer bekend is vir hul hibriedvoertuie, is die XC90 uniek omdat jy die litium-ioonbattery by ’n gewone muurprop kan herlaai!

volvo-xc90-t8-twin-engine-25_1800x1800

Volvo is baie in hul noppies met die T8 Twin Engine se tegnologie, want dit ry steeds verstommend goed en voel steeds kragtig.

Die petrolenjin se 2,0-liter kragbron het ’n turboaanjaer en kompressor wat ’n stewige 235 kW ontwikkel, terwyl die elektriese motor 65 kW uitskop. Dit beteken ’n allemintige 300 kW in totaal, wat glad nie te versmaai is nie! Die manier hoe die enjins saam of apart werk, is kompleks, maar eenvoudig gestel sal die XC90 outomaties in hibriedmodus wees.

Die batterye word ook op slim maniere herlaai soos deur middel van remkrag of aksies van die petrolenjin. Dit beteken die voertuig besluit self wanneer die batterye se energie gestoor en herlaai word deur die petrolenjin. Dan kan jy ook besluit om die batterykrag te spaar en net in petrolmodus te ry.

Om die meeste uit die batterye te kry, kan jy dit vol laai deur dit met ‘n spesiale kabel by ’n gewone huishoudelike kragprop in te prop.

Die batterye kan binne drie uur herlaai word as jy 13 ampère gebruik, maar as jy tyd het, kan jy 6 ampère kies om dit oornag te laat gebeur. Volgens Volvo kos dit minder as R20 om die batterye van leeg tot vol te laai.

volvo-xc90-t8-twin-engine-10_1800x1800

Jy kan tot 43 km net met die batterykrag ry, wat genoeg is vir iets soos werk toe en terug. En as jy bo 125 km/h ry, gaan die enjin oorskakel na petrolmodus. Volvo maak ook daarop aanspraak dat die T8 Twin Engine ’n gemiddelde petrolverbruik van net 2,1 liters per 100 km kan hê.

Daar is geen twyfel nie, die XC90, ongeag watter enjin of model jy kies, is ’n indrukwekkende voertuig. Nie net is dit regtig mooi nie, maar dit is superluuks met gehalte-afwerking. Dit bied plek vir sewe passasiers en spog met ’n rits moderne veiligheidseienskappe.

In T8 Twin Engine-gedaante kry jy boonop ’n semi-elektriese voertuig wat ’n suksesvolle poging van Volvo is om ’n meer omgewingsvriendelike sportnutsvoertuig te skep. Dit is egter nie goedkoop nie en die prys vir dié model skop af by R1 095 600.

volvo-xc90-t8-twin-engine-17_1800x1800

– SARIE se eie motorkenner, Wilmer Müller, toets gereeld die nuutste motors op die mark.

Hier’s van sy vorige Ry-Indrukke:

Ry-indruk: Audi A4

Ry-indruk: Ford Everest

Ry-indruk: Hyundai H1

Ry-indruk: Mini One en Mini Cooper S-kabriolet

8 goed wat jy oor die nuwe Kia Sportage moet weet