Miskien kon ek nog ’n ruk probeer om dit te oorkom en weer aangaan soos vantevore. Tóg, die skrif was aan die muur. Onvermydelik. Die wiel se draai het my ingehaal. Die oomblik het gekom en ek sou die skande moes verduur. Sou mense anders na my kyk? Wat sou my vrou sê? En natuurlik het ek gewonder hoe my kinders sou reageer as hulle uiteindelik weet.

Nes ek gevrees het, het die gespot onmiddellik begin.

Pappa se arms is te kort, Pappa is nou oor die muur, die ouderdom het hom finaal ingehaal.

Ja, dit was onherroeplik waar, ek kon nie meer met net my een bril klaarkom nie, ek moes noodgedwonge ook ’n leesbril byderhand hê. Die era van die multifocal het gekom.

’n Middeljarige skemerte het oor my neergedaal. Die prediker se profetiese woorde het onheilspellend waar begin word. Die dag het inderdaad gekom “... wanneer die wagters van die huis sal bewe en die sterk manne krom word en die malers die werk staak, omdat hulle te min geword het, en die wat deur die vensters kyk, verduister word ...”

Maar saam met die nederlaag, die gawe om weer te kon fokus.

G’n wonder nie dat Jesus gesê het jou hele lewe raak donker as jou oë donker is. Hy het natuurlik nie verwys na natuurlike sig nie, maar na die dieper kyk van die siel. Die vermoë om die dinge raak te sien wat regtig belangrik, regtig mooi, regtig waardevol is.

En hoe dikwels gaan ons deur die lewe in ’n waas en weet nie dat daar orals rondom ons groot en wonderlike dinge aan die gebeur is nie. Ons het op Sondagskool geleer van Moses wat in die woestyn by die brandende bos gekom het, en ’n stem wat vir hom gesê het om sy skoene uit te trek omdat die plek waarop hy staan heilige grond was.

Die verhaal laat my wonder. Was die brandende bos altyd daar? Het Moses net nooit vantevore daar verbygeloop nie, of was die heilige grond elke dag daar op sy skaapwagterspad sonder dat hy dit kon raak sien?

Só is daar miskien heilige grond orals om óns en wag ’n hoër hand om ons uit ons eie woestyne te lei sodra ons oë begin oopgaan vir die wonders op ons pad.
Daar brand bosse om jou. Reg in jou huis. In ’n kerk nie te ver van jou af nie. In boeke op jou boekrak. In die drome van jou hart.

Dis miskien tyd om te erken dat jy ’n bril nodig het. Ons almal het hulp nodig om elke nou en dan net weer te kan fokus en te sien hoe mooi dinge kan wees.

Praat met iemand. Raak stil en kyk. Dis wonderlik om te kan sien.