Een ding is seker: kleur is in, maar selfs meer as dit, patrone! Die strate van Parys is op die oomblik 'n kaleidoskoop van kolle, geometriese ontwerpe, diervel en blomme, blomme, blomme. As mens so kyk na die foto's op Harper's Bazaar dan sien jy hoe almal van aktrise Uma Thurman tot Britse mode-darling Alexa Chung patrone van kop tot toon dra.

Ook gesien: polka-kolle van verskillende groottes wat saam gedra word.

Terselfdertyd het Tommy Ton*, blogger en fotograaf by www.style.com, afgekom op selfs meer kleur, van neon tot pastelle, en baie daarvan in die vorm van patrone. Dat patrone nou saam gedra word, en dikwels aspris botsende patrone saam, is duidelik.

Een voorbeeld is etniese patrone, waar byvoorbeeld 'n groot Mali-patroon bo gedra word, met 'n romp of broek van 'n fyner maar helder patroon. Daar was ook volop blomme op alles van rokke tot baadjies. Meer as een vrou het 'n blombaadjie saam met 'n kolletjies-das ingespan. Darem met 'n wit hemp om dinge bymekaar te hou.

Is jy gemaklik om patrone te meng en hoe?

*WIE IS TOMMY TON?

Tommy Ton is 'n internasionaal bekende foto-blogger. Hy's baie bedrywig in die modewêreld en blog op jakandjil.com en www.style.com. Dié foto's is almal van sy werk op style.com.