So net na middernag gisteraand het die sirenes in Vredehoek begin loei. "Dit brand!" het ek benoude bure hoor skree (die wat toe al baba bottels, katte, kinders en ander noodsaaklike in hul karre begin laai het, want links van Tafelberg hardloop die vlamme al vir 2 ure van Rhodes Memorial se kant af). Dit voel wragtig soos 'n fliek! Toe ek buite kom het 'n kolkende bloedrooi rookbondel vanaf Duiwelspiek begin rol en binne minute het sigbare vlamme byna 2 verdiepings hoog gestaan.

Toe kom dit - ons moet ontruim...  Dit middernagtelike skok was wreed genoeg, nou moes ek besluit wat's belangrik. 'n Mens huiwer vir 'n oomblik - jy sien daardie duur jas (waarvoor jy maande gespaar het), jouHi-Fi en al jou CD's, jou familiefoto's, jou skoene, jou boeke, jou meubels - maar jy moet kies. Ek's daar uit met my saksofoon, my Bybel en my handsak. Net dit.

En snaaks genoeg is 'n mens op daardie oomblik eers regtig dankbaar vir alles wat jy het. (Selfs vir daardie vriende wie 2h in die oggend hul sitkamer bank vir jou in 'n bed omskep.)

Wel, ons kon almal teen 6h weer teruggaan - alles ongedeerd.

Wat sou jý ingepak het?