Kaptein Albertus Beeslaar, die aweregse polisieman en held van Karin Brynard se boeke, gaan sy verskyning eers laat in 2014 maak.

Ons almal sal maar geduldig moet wag vir dié skrywer se derde boek. Ons het Beeslaar leer ken in Plaasmoord en in Onse Vaders waar hy en sy kollega, Johannes Ghaap, die moorde oplos. Nie sonder ‘n geskuur en geskaaf tussen die twee nie. Tuisland verskyn in die tweede helfte van die jaar by Penguin. Karin Brynard beskryf die verhaal as volg: “Tuisland is 'n moord in die Kalahari - Kaptein Albertus Beeslaar raak op 'n ongewone manier betrokke - eers as verdagte self. Dan moet hy 'n nes van politieke intrige oopkrap en 'n uitgeslape moordenaar tussen die Kalahari se reuse woestynleeus loop uitsnuffel.” Ek sien baie uit na hierdie boek.

By dié uitgewerverskyn daar ook Lauren Liebenberg, skrywer van The Voluptuous Delights of Peanut Butter and Jam, se Cry Baby. Die boek gaan oor ‘n Super Mom en ‘n probleemkind. Grace kyk met vrees hoe haar 5-jarige seun, Sam, ontstellend verander. Hy was ‘n oulike, lewendige seuntjie, maar nou maak hy die bed nat, kry nagmerries, baklei by sy skool en verset hom teen haar. Wat nou gemaak? Hierdie boek gaan oor moederskap, die dinge wat families onderling verbind, die hede en die verlede. Liebenberg skryf hier oor kwessies wat duisende vroue raak.

Daar is heelwat boeke om na uit te sien by Lapa Uitgewers volgende jaar. Vir almal wat meer oor spinnekoppe wil weet is daar The Field Guide to the Spiders of South Africa deur die gerekende navorser, Ansie Dippenaar-Schoeman. Dis die eerste veldgids met inligting oor al 70 Suid-Afrikaanse spinnekopfamilies en dis ryklik geïllustreer net meer as 2 000 kleurfotos.

Chanette PaulVir Chanette Paul aanhangers is daar vroeg in die jaar Raaiselspieël oor Frieda Ferreira wat haar pa Nils se moord moet oplos al sit daar reeds 'n man agter tralies daarvoor. Nie omdat sy wil nie, maar omdat haar pa daarop aandring. Van agter die doodsgordyn.  Later in die jaar verskyn Ewebeeld, nog ‘n heerlike Chanette Paul-spanningsverhaal met ‘n goeie skeut romanse wat gaan oor Lanie, oftewel mevrou Ludolf Furstenberg nommer drie;  sy wil eintlik uit die huwelik wat haar knel ontsnap.

In die middel van die jaar verskyn Peet Venter se Waar boosheid broei oor Thys Krige wat ‘n opdrag aanvaar om die aanhouding in Zimbabwe te ondersoek van ‘n joernalis Henk Human, wat intussen vrygelaat is. Terselfdertyd kry hy ook ‘n aanbod om spesiale ondersoeke vir Misdaadintelligensie te doen. Hy aanvaar die Zimbabwe-opdrag, en kom op ‘n video af wat Human gemaak het van ‘n menseslagting waarby onder andere Suid-Afrikaners betrokke was. Krige volg die spoor terug na Suid-Afrika toe, en aanvaar Misdaadintelligensie se aanbod toe Human weer verdwyn. Krige begin ‘n organisasie oopkrap wat betrokke was by die slagting in Zimbabwe, asook vir Human se ontvoering en aanhouding.

Fanie Viljoen skryf oor ‘n sensitiewe onderwerp in sy boek, Uit  wat gaan oor ‘n jong seun wat moet vrede maak met sy seksuele oriëntasie. Brent is in graad 10. Hy het hope pelle. Hy speel rugby. Hy trek aan volgens die nuutste modes en hy hou van partytjies. Op een van hierdie partytjies leer ken hy en Nita mekaar beter, maar watter geheim steek Brent vir almal weg? Die geheim lê in die titel. Die seer van uitkom as ’n gay seun word in hierdie belangrike boek vasgevat.

Marita van der Vyver is immer gewild en haar boek, Die coolste ouma op aarde verskyn in Oktober.  In hierdie prettige prenteboek gaan ons ’n paar moderne, ongewone en fantastiese oumas ontmoet.

Keina SwartKeina Swart se eerste tienerverhaal, Bloujaar, verskyn by Protea Boekhuis. Dit gaan oor Rampie Malherbe wat  in graad 7  “na ’n nuwe skool toe moet gaan: daarvoor gaan Rampie Malherbe sy ma nie gou vergewe nie.

Want sommer net so verander Rampie se hele lewe. Die een oomblik is hy en sy pa nog op die gholfbaan – en die volgende bly daar ’n Groot Skrik in Rampie se maag en word sy Dêrra ’n maer vreemdeling met bok-oë en hangskouers. En as alles by die huis goorder voel as ’n Wiskundetoets op ’n Vrydagoggend  . . . hoe hanteer ’n mens  vreemde vriende, simpel sussies en ’n SW-juffrou wat praat soos Jan van Riebeeck sonder om so bietjie die pad byster te raak?”

By Jonathan Ball gaan Mark Gevisser se Lost and Found in Johannesburg verskyn. As kind het hy ‘n obsessie gehad met kaarte, spesifiek die Holmden’s Registry. Hy het sy eie speletjie, ‘Dispatcher’, met dié eksentrieke gids gespeel en homself verplaas na verskillende plekke in die stad, wat andersins vir hom verbode sou wees tydens die apartheidsjare. Hy deel sy persoonlike vertelling van hoe kaarte en fotos van kindsbeen af ‘n rol gespeel het in hoe hy dinge in sy tuisstad ontdek, en homself ook in die proses gevind het.

Op ‘n ligter noot is daar A Girl Walks into a Wedding deur Helena S Paige, die tweede boek in dié reeks ‘choose-your-own-erotic-destiny’-verhale. ‘n Jong vrou word deur haar vriendin gevra om haar strooimeisie te wees. Nou moet sy besluit wie sy na die troue gaan vra – die geheimsinnige man wat sy aanlyn ontmoet het? Of moet sy alleen gaan en kyk of daar losloper-talent by die troue is? Elke scenario wat deel is van ‘n troue (die kombuistee, die bruid se rok, die koek ens.) word deel van die verhaal en die jong vrou word telkens gekonfronteer met nuwe besluite. As leser kan jy self besluit watter verloop die verhaal neem.

FOTO: Phyllis Green FOTO: Phyllis Green

Uit diestal van Random House Struik is daar ‘n verskeidenheid boeke om na uit te sien.

Steve Hofmeyr  het reeds drie romans op sy kerfstok en in Maart verskyn sy jongste roman, Laaste Dans, Drienie by Zebra Press. Die storielyn wissel tussen die hede en die verlede en vertel luitenant Muller Joubert se verhaal, maar ook die van ‘n tannie wat hom vertel van haar laaste dans in 1941 en die liefdesverhaal wat reeds 70 jaar wag om vertel te word.

Die fotograaf Michael Hammond en skrywer Hanlie Retief span saam om ‘n boek oor Orania en sy mense te doen wat in Maart by Umuzi versky. Hammond het  aangrypende fotos van die plek en sy mense geneem en Retief het onderhoude gevoer met interessante persoonlikhede. Die boek behoort ‘n interessante blik te gee in dié Afrikanervolkstaat waaroor baie teenstrydige opinies bestaan.

Vir mense wat belangstel in harde nuus verskyn uit die pen van die joernalis, Jacques Steenkamp ‘n boek oor die Griekwastad-moorde. Die saak het opslae gemaak en is een van die mees opspraakwekkende en sensasionele sake in Suid-Afrika. Die boek is gebaseer op onderhoude met alle rolspelers, van die ondersoekbeamptes, kundiges, familie en vriende van die oorledenes. Die Griekwastad-moorde (Umuzi) sal ook in Engels beskikbaar wees.

From Savannah to Sea is die kookboek/kykboek/leesboek deur Nico Verster. Dié jong sjef het die resepte ontwikkel, die teks geskryf en self die fotos geneem vir sy besondere kookboek. Hy het die afgelope dekade in van die mooiste dele van die land gewerk, onder meer Jamala Madikwe safari lodge in die Noordwes Provinsie, Beyond Phinda woud en vlei lodges in KwaZulu-Natal en Birkenhead House boetiek hotel in Hermanus. Die boek bevat 55 resepte, maar ook amusante vertellings van sy tye by die plekke. Dis ryklik geïllustreer met sy fotos van die wildlewe en ook kos.

Pan Macmillan publiseer volgende jaar ‘n baie interessante verskeidenheid van boeke. Die gewilde spanningsverhaal-skrywer, Amanda Coetzee se vierde verhaal in haar Badger-reeks,  One Shot beloof om jou weer naels te laat kou. Die enigmatiese speurder Badger moet al sy vernuf inspan teen ‘n dodelike skerpskutter. Die skerpskutter het ‘n donker verlede in Afghanistan en Suid-Afrika en laat ‘n spoor van bloed in Bedford agter, terwyl Badger na hom soek.

FOTO: Jonx Pillemer FOTO: Jonx Pillemer

Larry Joe: From the Streets to the Stage  is Larry Joe se roerende lewensverhaal wat boeiend deur Joanne Jowell vertel word. Joe was vir sewe jaar voortvlugtend voordat hy hom na ‘n droom aan die polisie oorgegee het. In die droom het hy gesien hoe hy voor ‘n groot skare optree en hoe trots sy dogter op hom is. Net daar het Larry Joe besluit om ‘n lewe van misdaad en dwelms agter te laat en sy lewe om te keer deur hom na musiek te wend.

Aanhangers van Steven Boykie Sidley sal verheug wees om te hoor Imperfect Solo verskyn vroeg in die jaar. Sy helde is altyd so bietjie van anti-helde en met Meyer is dit weereens so. Hy is vasgevang tussen die roekeloosheid van die jeug en die gelatenheid van ouer word, en die onwaardighede daarvan. Deur sy liefdesdramas soek hy ook nog na die perfekte saxofoon solo.

Later in die jaar is daar vir modeslawe ‘n biografie oor die ikoniese, maar hoogs eksentrieke modeontwerper Vivienne Westwood. In hierdie biografie word nie doekies omgedraai nie en Westwood vertel haar lewe, warts and all. Vivienne Westwood geskryf deur Ian Kelly in samewerking met dié uitgesproke ontwerper gaan ‘n baie interessante boek wees oor iemand wat diep spore in die modewêreld getrap het.

Ek sien baie uit na die volgende aflewering van Jeffrey Archer oor die Clifton- en die Barringtonfamilies, Be Careful what you Wish for.  Die epiese verhaal beweeg nou in die sestigerjare in en daar is weer ‘n goeie skeut rugstekery, liefde, verlies en ambisie wat deur die jonger geslagte van die families vertel word.