Jakkals trou met wolf se vrou, het ons altyd as kinders gesing en dan in die sonreën in die modderpoele rondgedans.

Die Kaapse reën. Dit bring soveel herinneringe. As die reën met ’n geraas op ons huisie se sinkdak neergestort het, het my ma ons drie alte graag vertel dat dit die aarde se eeue oue water is. Ons was verwonderd oor die feit dat dit dieselfde reën was wat genade gebring het vir ons voorouers en hul voorouers en hul voorsate. Water wat in siklusse oor honderde en duisende jare uit die hemel val.

Luister, hoor ek my ma steeds sê, die reën vertel ’n storie van oor begin. Van ’n vars, skoon begin. Nou nog as die reën ’n klopdans op my sinkdak in die Kaap doen, luister ek, en loop my gedagtes ’n lang, ver pad.

Ek onthou die vele kere toe ons op Caledon saamgebid het vir reën. Net vir die genade van ’n bietjie reën op ons dorre graanlande. En, my besef mettertyd, dat die reën ook skade en hartseer kan bring.

Ek was nog op laerskool toe die reën die Overberg een winter kasty het. Die spruit waar ons rondgeplas het, was meteens ’n magtige rivier. Brûe is vernietig en landerye het weggespoel. Diere is meegesleur, en huise het middellyf in die water gestaan. Op my fiets en met my eerste Kodak-kameratjie in die hand, het ek in skok die brullende rivier en spruite dopgehou. Die bruin water het groot bome in ’n kolkende massa saamgedra asof dit speelgoed was. En steeds het dit bly reën. Daardie dag het ek besef dat ’n mens ook kan vra dat dit óphou reën.

Op Hermanus was reëntyd die beste badtyd. Die badwater sou dan verkleur na ’n donker heuningbruin - als van die gesonde minerale wat die reën saam met hom uit die berge en klowe bring, het my ouma sonder meer gesê! Ons sou ook gaan kyk hoe die reënwater in strome en watervalle uit die berg tuimel, en van die ys-yskoue water skep om te drink.

In Gauteng het ek ’n ander reën leer ken. Daar verdor die landskap in die winter en die aarde (en ons!) wag byna angstig vir die eerste somerreën. Dan kom die verlossing - in kragtige donderstorms en die hemele wat sy sluise ooptrek. Jy luister nie net nie; jy ruik. En almal wat dít al ervaar het, weet daar’s niks beter as die soet reuk van reën op daardie stofdroë grond nie.

Hoe die reën sy besondere kleed oor ’n landskap trek, het ek een jaar ook op Mauritius gesien. Meteens was die eiland se skelwit en turkoois sagter, vriendeliker. Suikerriet het lila geblom, en die see en die lug was skakerings van grys soos die reën in vlae oor die oseaan beweeg het. Dis na daardie Mauritius dat ek soms verlang.

Die reën laat háár verlang, sê die sangeres Lize Beekman. Dít inspireer haar. Op Clanwilliam sing sy toe juis haar nuwe liedjie wat mý geïnspireer het om hier oor reën te skryf. Sy’t verdwaal in die Karoo, vertel sy, maar daar was ’n doel. Want toe reën dit... en sy sing:

Ek het ’n boer sien dans in die Karoo, met sy hoed in die hand, dakloos, en die water van Bo
Ek het ’n boer sien dans in die Karoo. Hy sê ons noem dit genadewater, meisiekind
Hierdie reën, hierdie water, dit bly ’n seën

Met winter hier, mag die reën ook vir jóú die belofte bring van ’n vars, nuwe begin.

Michélle van Breda

SARIE Junie 2007