Sy het dankbaar regop gesit en rondom haar gekyk. Haar oog het geval op Sentraal-Amerika en sy het besef dat sy hierdie streek en sy verskeidenheid van inwoners tot dusver ’n ietwat afgeskeep het.

Vir ’n wyle het sy die primitiewe stamme dopgehou, hul begeesterde musiek en dansery geniet en die ingewikkelde kunswerke bewonder. Dié aand, nadat almal uiteindelik in hul eenvoudige skuilings tot ruste gekom het, het sy besluit om hulle te beloon vir die lojaliteit en entoesiasme waarmee hulle haar en haar gawes versorg en verbou. In die stikdonker nag het Moeder Aarde van boom na boom beweeg en met die een sagte kus na die ander die woude bevrug. Sjokolade is gebore.

Hierdie donker juweel is gedroog en gemaal en as ’n kragtige bitter drank geniet. Dit het energie verskaf, genesing gebring en uiteindelik die rykdom van menige stam en sy koninklikes geword. Ernstige boerdery het ontwikkel, die kakaobone is gemaal en verwerk tot ’n tipe puree en gebruik as luukse drank, gemeng met mieliemeel en geëet as maaltyd, gegeur met rissie en saam met vleis geniet, kon sonder om te bederf op lang reise geneem en genuttig word en is selfs as ’n soort geldeenheid ingespan.

Toe, in die vroeë sestiende eeu, bloot uit onbeskoftheid, verveling of op soek na ’n mooi blas maagd, val die Spanjaarde die plek binne en ontdek dié donker goud. Hulle neem kratte vol terug na die koninklike hof, dié spul raak onmiddellik gulsig en besluit om op elke kakaoboon beslag te lê. So verrys ’n Spaanse kolonie onder elke boom in Mexiko, Peru, Venezuela en Jamaika. Hulle verwerk en verkoop die gesteelde produk aan die res van Europa en verdien miljoene. Uiteindelik, in 1580, word die eerste kakaoplantasie in Spanje aangelê en daarmee is die koeël deur die kerk. Dis nie lank nie, toe’s die Hollanders en die Franse ook deel van die pret en só oorrompel die smaak van sjokolade uiteindelik die ganse mensdom.

Intussen het ’n paar nonne in die dorpie Oaxa begin om bestanddele soos suiker, kaneel en vanielje by die donker mengsel te voeg en begin brou aan die soetigheid wat vandag, vyf eeue later, een van die gewildste smake op aarde is. Die Franse adellikes eksperimenteer met vulsels en die Hollanders ontwikkel ’n proses om die olierigheid te verwyder. Intussen word kakao as poeier bemark en die verslawende smaak word uiteindelik bekostigbaar. Die Amerikaners voeg room en ander sondighede by en neem die voortou met die kommersiële stafies wat vandag vanaf elke rak vir ons loer.

Sjokolade het ’n effek op die mensdom wat gastronomies nooit voorheen moontlik was nie. Vir jare is daar onwrikbaar geglo aan die medisinale eienskappe van hierdie magiese middel. Kerke het dit as diabolies verklaar. Terselfdertyd het monnike en nonne die drankie gebruik om hul kragte op te bou tydens lang vasperiodes.

Prinse en edelmanne het harte gewen met hierdie liefdesgeskenk. Dit het van gewone mense met ’n paar idees magnate en biljoenêrs gemaak. In oorlogstye is dit gesmokkel en gebruik as die laaste luukse op aarde.

Dis weer herfs. Die windjie raak weer vlymskerp en die aande al meer verleidelik. Dis tyd om die gunsteling-truie uit te haal, die vuur te stook en die kookboeke nader te sleep.

En mag sjokolade hierdie seisoen in elke huis ontdek word. Sien, die waarheid is dit: bitter min mense het al in hul lewe regte sjokolade geëet. Die meerderheid van donker soetighede wat uit blink papier gewoel word, bevat feitlik geen sjokolade nie. Om kakao te vervaardig word die bone gerooster en daarna gepers om van die ekstra olie ontslae te raak. Groot maatskappye koop dan hierdie olie, wat geen sjokolade bevat nie, maar slegs daarna ruik, en gebruik dit saam met kleursel om die kommersiële soetgoed te vervaardig wat die mensdom dan as sjokolade opraap en verslind.

Draai die pakkie om en lees hom. Minder as 40% soliede kakao (of vervaardig met melk) en jy sit met gemors. Die verskil is ’n ander wêreld, ontdek dit en begin leef. Raak vaardig en onverskillig. Bak daarmee, kook daarmee, verlei daarmee. My gunsteling: ’n groot bitter blok, ’n silwer beiteltjie en ’n glas regte sjampanje.