Dr. Eve, seksterapeut van Kaapstad, antwoord: Daar is geen medies goedgekeurde produk vir vroue se lae libido nie. Moenie jou deur produkte laat mislei wat die maan en sterre belowe nie. Navorsing wys te veel vroue sukkel om fisiek geprikkel te word. (Jou genitalieë swel en word klam). Selfs nog meer vroue is selde ''in die bui'' vir seks. As sy nie in haar menopouse is nie, sy  het nie enige chroniese siekte nie en is nie op medikasie nie, kan jy seker wees die probleem lê by haar leefstyl en/of verhouding. Sy voel dalk oorgewig, depressief, moeg, kwaad, wantrouig en wrewelrig teenoor jou. 'n Pil gaan nie daarvoor help nie. Baie vroue het steeds seks, al is hulle nie in die luim nie en word hulle nie fisiek geprikkel nie. Hulle vind redes daarvoor: Soos hul liefde vir hul maat, of sien dit as 'n plig. Vra jouself gerus 'n paar vrae af: Bevredig jy haar emosioneel sowel as seksueel? Vroue sê dikwels hulle wil nie seks hê nie want hul mans stimuleer hulle nie genoeg nie. Moet dus nie 'n oplossing op die winkelrakke soek nie. Doen iets wonderlik vir haar. Was die skottelgoed, vertel haar jy is gek na haar. En leer meer oor haar klitoris.

Besoek Dr. Eve se webblad by www.dreve.co.za