My vrou noem dikwels my ''abnormale hoë seksdrang'' as die rede waarom sy my toenadering verwerp. Maar sy erken sy masturbeer soms. Dis vreemd, want sy inisieer nooit seks nie en is dikwels nie lus daarvoor nie. Is iets fout met my?

Dr. Eve, seksterapeut van Kaapstad, antwoord:

Vroue se seksualiteit is kompleks. Natuurlik moet jy jou eie rol in jou huwelik en jul sekslewe bevraagteken. Maar dit help niks om jouself te blameer nie. Net jou vrou kan jou meer duidelikheid gee oor hoekom sy minder in seks belangstel as jy. Maar moenie dat haar masturbasie-storie jou pla nie. Mense masturbeer. Dis gewoonlik mans en vroue se eerste seksuele ervaring - mens is dus gewoond daaraan. Dis maklik, minder gekompliseerd en 'n private, intieme daad en mense het die reg daartoe. Moenie daarmee probeer meeding nie. Dit kan nie vergelyk word met liefdemaak met 'n geliefde nie. Jy moet eers bekommerd raak as jou vrou masturbasie bo seks met jou verkies. Vat 'n kans en vra haar of daar dinge is wat jy seksueel anders moet doen, dinge wat haar meer sal plesier. Haar antwoord verras jou dalk. As sy sê sy weet nie, koop vir haar my boek, Pillowbook (Oshun 2007). Laat haar leer - en laat sy joú dan leer.

Besoek Dr. Eve se webblad by www.dreve.co.za