Maar Maart is glad nie 'n slegte maand om te reis nie. Dis nie hoogseisoen vir toeriste nie en die winter staan einde se kant toe in Europa.

Toe speel ek 'n wensspeletjie en werk vir myself 'n droomreis uit - nie te uitspattig nie, maar darem ook nie aan die knypkant nie. Ek wil 'n paar uitverkore plekke sien waar ek reeds was (ongeveer almal), en ek sal bly in goedkoperige hotelle, as daar nog so iets oorsee bestaan.

My eerste bestemming is die Seychelle-eilande. Inwoners glo vas dat die paradys regtig daar was: Dis warm, die see is kalm en lou, dis groen waar jy kyk en jy kan jou onder 'n palmboom op die strand neerplak of tussen die ruie bosse teen die berg gaan ry. En jy kan saans laat langs die see loop terwyl die fiddler crabs na hul gate toe skarrel. So 'n week daar is genoeg. Daarna sal ek 'n plan uitwerk om Hongkong toe te vlieg. Daardie winkeltjies op Kowloon, die mooi klere wat jy in 'n dag se tyd kan laat maak, die juweliershandelaars, die flink diens, die uitsig vanaf 'n hoë punt op Hongkong-eiland, die skepe wat kom en gaan. Ek wonder hoeveel dit verander het sedert ek laas daar was.

Dan reguit na Tokio, waar, as ek gelukkig is en die lente vroeg kom, daar dalk al 'n paar kersiebome aan die blom mag wees. Ek sal vroeg opstaan om te sien hoe die winkels seremonieel in die Ginza open: Die kopers word met buigings genooi om binne te kom en elke klerk buig en verwag dat jy terug moet buig. My indruk van Japan is een van verfynde beskawing en trots. Ek sal beslis een van hul seremoniële teedrinksessies gaan bywoon. Ná 'n draai in die ou kultuurstad Kioto en die manjifieke paleis-pagoda van die Shogun sal ek oor die Stille Oseaan na Hawaii vlieg. Daar was ek nog nooit. Maar ek het al prentjies gesien van son en see en mense wat blomkranse dra.

Van Hawaii vort na Chicago. Heelpad sal ek duim vashou dat die stad waaroor ek selfs 'n gedig geskryf het, my nie met my herbesoek sal teleurstel nie. Dit gebeur nogal: Dat jy 'n wondertyd beleef op 'n plek en dan vol verwagting teruggaan - om bekaf terug te keer. Ek sal weer in al die strate gaan loop en die museums besoek en op die meer gaan vaar.

My volgende bestemming is Boston, Massachusetts. Daar loop jy van straat tot straat in die vroeë Amerikaanse geskiedenis. Die platteland na Lexington en Concord se kant kan 'n mens maar oor en oor besoek. Van die beroemdste Amerikaanse skrywers is in die begraafplaas Sleepy Hollow ter ruste gelê: Emerson, Louisa M. Alcott, Thoreau en ander.

Van Boston sal ek vlieg na Parys en weer op die Linkeroewer van die Seine by 'n klein hotelletjie gaan inboek. Ek wil weer die Venus van Milos in die Louvre sien en gaan kyk of die Mona Lisa my dalk hierdie keer werklik roer. Minstens 'n week in Parys en omstreke.

Van daar na Wene en reguit na die ou paleise en die Kärtnerstrasse met die Sint Stefansdom, waar ek een van die aandoenlikste preke in my lewe gehoor het. Ek sal 'n motor huur en ry deur die platteland van Morawië en Boheme na Praag. En ek sal hoop dat die amandelbome albei kante van die Karelsbrug blom tot op Hradcany, die heuwel van die paleise (ja, ek weet, dan kon daar nie kersiebloeisels in Tokio gewees het nie, maar dis dróóm).

Van die skone Praag sal ek 'n vlug kry na Rome en dwaal deur die strate, en heel eerste na die Piëta van die jong Michelangelo in die Sint Pieterskerk gaan kyk. Dalk kan ek nog per bus na Florence gaan: dié kunsstad in die wêreld. Verder net oor die see vir 'n goeie twee weke in Griekeland: van die Akropolis tot in Santorini, die lieflikste eiland in die asuur Middellandse See.

Ja, ek weet, ek sal terugkeer na 'n liederlik oortrokke bankrekening. Maar die lewe bestaan mos uit bestemmings, uit drome en werklikhede, uit verbeel en ervaar. En ek dink selfs die ewigheid is 'n reis vol lig tussen die sterre.