Ja, sê sy onmiddellik.

Weet jy presies hoe dit lyk? vra ek.

Ek weet wat die vorm en die gevoel moet wees, antwoord sy. Ek sien so af en toe iets soortgelyks in ’n tydskrif of ’n boek.

Wanneer beplan jy om dit te dra? vra ek. (Diane het geen inhibisies wanneer dit kom by aantrek nie, sy en haar klerekas het elke dag die grootste pret.)

Ek dink nie ek gaan ooit daarby uitkom nie, lag sy. Ek is te besig. Buitendien, dis ’n droomrok!

Mia sit aan die oorkant van die tafel.

Ek het twee! sê sy.

Ons lag kliphard. Ons het Mia nog nooit in ’n rok gesien nie.

Ek is ernstig! sê sy. Die een het ek op my matriekafskeid gedra. Dit was blou, lae en lae chiffon wat net so val soos water. Die ander een is vir eendag wanneer ek trou. Ek vermoed dit gaan presies so lyk, net wit.

Ek dink dadelik aan die paar droomrok-geleenthede wat ek persoonlik kon meemaak, my sussie in haar swart-en-silwer Blue Zoo-skepping op pad matriekdans toe, Topsi wat verjaar in haar oorspronklike en onvergeetlike Mary Quant-skepping, Kowie wat die kerk binnesweef in ’n klassieke kunswerk, Brümilda met haar bloedrooi aandrok in my musiekvideo, en Mariëtte wat die voordeur oopmaak in ’n tydlose blomrok. En ek besef dat dit elke keer dalk my droomrok was, elkeen het moontlik nog ’n gewaad wat iewers in die gedagtes lê en sluimer, lê en wag vir die regte oomblik.

Die regte oomblik. Ek vermoed dat dit die rede is hoekom rye ontwerpers al miljoenêrs geword het, hoekom daar daagliks ontelbare meters peperduur lap geweef word, hoekom daar in die laat-ure van die nag nog geborduur word, hoekom bedrewe hande sakke en sakke pêrels in formasies vasryg, hoekom elke moontlike dieet beproef word. Wanneer die ritssluiter uiteindelik opgetrek word en die skoene glip uit die sneespapier, gaan dit selde oor ontwerp, styl, gemak of ’n gunsteling-kleur, eerder oor die regte oomblik.

Die einde van ’n skoolloopbaan, die belofte van ’n huwelik, die opwinding van ’n belangrike verjaardagviering, die ontvang van ’n toekenning, die moordende vereistes van ’n reünie, die vreugde van ’n plat maag, die moontlikheid van ’n romanse, so word elke mylpaal bevestig, waar moontlik met ’n besonderse uitrusting.

Heel dikwels hoor ’n mens nog die horing-ou rympie, Ag, dis so ydel, ek trek eerder my ou staatmaker-rokkie aan, ek kry nog elke keer ’n kompliment. Laat ek dit uitspel, dit gaan hoegenaamd nie oor ’n kompliment of hoeveel diens (!!!!!!!!) iemand uit ’n rok kry nie, dit gaan oor die lewensbelangrike bepeinsing, selfondersoek, motivering en doelwitte wat gepaardgaan met elke knoop, naat of soom op pad na ’n droomrok. Die ontdek of raaksien van jouself, jou plek, jou rigting en jou vordering is van soveel meer belang as ’n perfekte omboorsel of verrassende ry kristalle.

Die droomrok kan van drie kante af bewonder word:

Vir ’n menigte is dié enkele tabberd die bereik van ’n lewensideaal, die beloning ná lang en volgehoue stryd tot ’n persoonlike doelwit of ’n kortstondige ontsnapping uit ’n werklikheid van spanning, verlore drome of ’n wêreld sonder romantiek. Vir ander is daar meer as een droomrok, dit verander gereeld, dit word dikwels geskep en meer dikwels gedra, dit is ’n viering van ’n hele lewe, ’n simbool van blydskap, ’n erkenning van sensualiteit, ’n plesier vir enige dag. En vir té veel is dit die een kledingstuk wat nooit aangetrek word nie, die simbool van mislukking of ver-af ideale.

Persoonlike smaak kan nie gekoop of voorgeskryf word nie, so is een se droom dikwels ’n ander se nagmerrie, elkeen struktureer sy lewe en sy klerekas anders, die keuse is sy eie. Ek self glo die wag is nou verby, die lewe is te kort, daar is te veel om voor dankbaar te wees. Bel die ontwerper, koop die lap, haal uit die krale, vandag en môre is die beste dag, met of sonder die prins, dun of dik om die middel, op pad na ’n kasteel of net hier by die huis, trek hom aan, jy’s in elk geval die koningin.