Dit is onmoontlik. Jou denke bestaan uit eindelose assosiasie-kettings wat aan mekaar verbind is. Die vermoeiende aspek van meditasie is om jou dwalende aandag terug te bring na ’n enkele fokuspunt.

Die basiese meditasie-tegniek is verbasend eenvoudig. Jy moet besluit waarop jy jou gedagtes vir ’n tydperk gaan toespits en dit dan doen. Die verveligste taak is om voortdurend jou dwalende gedagtes sagkens terug te stuur na jou fokuspunt.

Baie mense wat gretig is om meditasie te probeer ervaar dit as so nuut, so stil en so vaag dat hulle gou handdoek ingooi. Daar is geen onmiddellike bevrediging nie, geen gesweet soos ná ’n strawwe oefensessie nie, geen hupstoot soos ná ’n cappuccino nie. Tog is die kumulatiewe voordele van meditasie soveel meer verrykend as enige van bogenoemde.

Tydens meditasie betree jou liggaam ’n ontspanne staat – jou bloeddruk daal, jou bloedsomloop verbeter, jy begin dieper asemhaal, jou spiere ontspan, jou hormone balanseer en jou immuniteit versterk.

Genesing, herstel en vernuwing begin plaasvind. Die uitwerking op jou gedagtes is nog meer wonderbaarlik. Onrus en angs begin wegsmelt, depressie word verlig en jy ontwikkel ’n “ware”
selfbewussyn. As jy nie spiritueel is nie, hoef dit jou nie af te sit dat dit ook ’n diep spirituele praktyk
kan wees nie. Die liggaamlike en verstandelike voordele is genoeg rede om die tegniek te gebruik.

(Bron: Self, die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou deur dr. Linda Friedland (Tafelberg, 2005)