HOE LANK BLY JULLE AL DAAR? Ek en my man, André, werk albei by die departement van buitelandse sake. Hy is in 2002 oorgeplaas as eerste sekretaris na die SA ambassade hier in Ankara. Ek is met onbetaalde verlof.

WAT DOEN JY DEUR DIE DAG? Ek is op die uitvoerende komitee van die AICC, die internasionale liefdadigheidskomitee van Ankara. Ons is gades van ambassadeurs, diplomate en buitelandse sakelui en samel jaarliks sowat $100 000 in vir projekte by skole, hospitale en ander behoeftige instansies. Ons het ’n seun, Zandré (14), en ’n dogter, Zeldine (8).

WAT IS DIE TURKE SE KULTUUR? Hulle is baie patrioties en vertoon graag die landsvlag en afbeeldings van Ataturk (vader van die Turkse Republiek). Op spesiale dae hang die rooi vlae verdiepings hoog teen staatsgeboue, huise, ondernemings - selfs aan taxi’s en busse. En hulle is familievas en kuier saam op tradisionele vakansiedae.

DIE MOEILIKSTE AANPASSING? Die Turkse taal, omdat min mense hier Engels praat. Sekere woorde is foneties (byvoorbeeld “ekzoz” vir exhaust) en ander weer moeilik en totaal vreemd. Ek praat “kombuis”-Turks - goed genoeg om oor die weg te kom, maar nie so vlot soos my seun nie!

WAT GEBEUR OP VALENTYNSDAE? Verliefdes gee vir mekaar geskenke, rooi rose, sjokolade of Turkish delight en bring die dag saam deur. Duisende ballon-harte word in die strate verkoop. Ons gaan gewoonlik na die Sigaarklub se Valentynsete in die Hilton Hotel - ’n spoggerige sewegang-geleentheid. (Die kinderoppasser kos sowat R50 per uur.)

EN DIE WEER? Die somers is lekker warm, veral in Julie en Augustus, en die winters koud met sneeu in Februarie en Maart.

WATTER INTERESSANTE DINGE IS IN JULLE STRAAT? Simit (sirkelbrood)-verkopers, kinders wat skool toe stap, geel taxi’s met vriendelike taxi-ooms wat tee drink
en vol minibusse. Ons woon naby die Starbucks-koffiewinkel en die ontwerperswinkel DKNY met ’n silwer boom van 6 m hoog voor die winkel, vol groot Swarovski-kristalle!

WAT EET DIE TURKE? Voorgeregte wat bestaan uit groot, plat brode, swart olywe, wit jogurt, eiervrug, heuning en dik room. Hoofgeregte is gewoonlik fyngesnyde bees- of hoendervleis, kebabs en/of oondgebraaide skaapvleis met kruisement. Hulle drink baie vrugtesap, bier, ayran (jogurt met soutwater) en raki (amper soos die Griekse uzzo). Nagereg is gewoonlik baklava, vars vrugte of kunefe (bottergebraaide fyn pasta met sagte kaas gedoop in suikersous). Gevolg deur sterk, swart tee en Turkse koffie.

IS DAAR BAIE SUID-AFRIKANERS? Daar is baie meer Turke in Johannesburg as Suid-Afrikaners in Turkye. Ons sien mekaar gewoonlik op vierings van nasionale dae en spesiale geleenthede.

WANNEER KEER JULLE TERUG? Vanjaar. Ons mis die lekker weer, Spur, karamel-kondensmelk en varkvleis. En Turkish delight kom nie naby peppermint crisp nie!

WAT SAL JY MIS VAN DIE LAND? Die mense se ongekende vriendelikheid en warm gasvryheid. Ook basaars en pragtige geskiedkundige plekke soos asemrowende Istanboel.