HOE HET DIT GEKOM DAT JY IN DUITSLAND WOON? Liefde! Ek het my 8 maande gelede by my droomman, Frank, in Berlyn aangesluit.

IS RUGBY EN BRAAIVLEIS DAAR OOK SO GEWILD? Duitsers is mal oor álle soorte sport. Rugby word nie hier gespeel nie, maar sokker (oftewel Fussball) is baie gewild. In
die somer braai hulle vleis, maar braaivleis en rugby is nie pasmaats hier soos in SA nie.

WAT DOEN DIE MENSE VIR ONTSPANNING?
Duitsers bestee baie tyd buite, veral in die somer. Hulle kuier oor en weer, lees en kyk sport. Hulle reis ook graag.

MOES JY DUITS LEER PRAAT? Ek het gelukkig Duits op skool geneem en tot in my derde jaar op universiteit. Ek was ietwat verroes, maar dit het gou weer verbeter.

WATTER SOORT WERK DOEN JY? Ek werk as eiendomsagent en het ook baie met toerisme te doen. Ek is heeltyd bedrywig, want soos ek gesê het, Duitsers reis graag.

HOE SAL JY DIE LAND BESKRYF?
Die argitektuur is ’n kombinasie van ultramodern en baie oud. Duitsland het ’n ryk geskiedenis, en hoewel baie dele deur oorloë vernietig is, staan heelparty plekke al baie dekades net so. Elke streek het sy eie besondere styl en geskiedenis. Daar is baie om te sien, reg van die suide tot bo in die noorde. Toeriste is nooit spyt dat hulle die land besoek het nie.

IS DIT ’N BAIE SKOON LAND? Soos elders in die wêreld is daar inderdaad dele waar dit minder skoon is, maar oor die algemeen is die Duitsers trots op hul land. Oral is vullisblikke sodat jy nie daarna hoef te soek nie.

HOE IS DIE MENSE? Die plaaslike mense is hartlik en besonder gasvry. Hulle is wyd belese en hou daarvan om oor aktuele dinge te gesels. Jy hoor dikwels interessante gesprekke.

DAN IS DIT MAKLIK OM VRIENDE TE MAAK? Ja, jy word gou in sosiale kringe ingetrek en leer maklik mense ken, maar spesiale vriende is skaars. Dit neem’n rukkie.

IS DAAR BAIE SUID-AFRIKANERS? Nie hier in Berlyn nie. Suid-Afrikaners bly meer in die Frankfurt-omgewing.

BESKRYF DIE KOS EN KULTUUR.
Gebraaide aartappels, Schnitzel en lekker dik sop is ’n wenner in die winter. Die kos is oor die algemeen nogal ryk, maar daar is ’n
toenemende neiging na gesondheidskosse. Die mense hier eet hul hoofmaal hoofsaaklik in die middag en in die aand broodjies en kaas of kouevleis. Die gebak is heerlik en baie
ryk, maar gelukkig nie té soet nie. Naweke geniet die gesin so teen 4 nm. koffie en koek. Sjokolade is ’n gewilde bederf.

IS HULLE GODSDIENSTIG? Berlyn is baie kosmopolitaans en daar is dus baie verskillende gelowe. Die plaaslike mense is gewoonlik óf Katoliek óf Evangelies. Godsdienstige feesdae soos Paasfees en Kersfees word gevier.

ENIGE PLANNE OM TERUG TE KEER?
Miskien oor so ’n paar jaar ...