HOE HET JY OORSEE BELAND? Terug ná ’n paar jaar in die VSA was dit moeilik om weer werk in die Kaap te kry. Ek het my visier op die buiteland gestel en op die internet ontmoet ek toe ’n Engelsman. Ons begin klets en het só gekliek dat ek my 3 dae later op ’n vlug Londen toe bevind het, 3 weke by hom gekuier het en 3 maande later met hom in Kaapstad getrou het! Ons was albei te besig vir die dating-ding. Ons het ’n ruk in Londen gewoon, maar toe vra Jonathan ’n oorplasing na België. Hy’s ’n  rekenaarkenner.

WAAR WOON JULLE? Op Dinant, net buite Brussel. Die kinders is in ’n private Engelse skool en vaar goed. Penny-Lane is ’n goeie dramastudent en Ashley wil ’n vegvlieënier by die Royal Air Force word.

IS DAAR NIE TAALPROBLEME NIE? Geen. Ek praat Hollands. Die kinders praat ook Frans en Duits, en Jonathan ken net genoeg Frans vir die kafee op die hoek. Maar almal kan ook Engels praat.

WATSE WERK DOEN JY? Ek’s ’n foto-joernalis en artikelskrywer vir talle publikasies wêreldwyd. Reisjoernale is my passie. ’n Droomberoep? Sestien tot 18 uur per dag, ja, 365 dae per jaar, lang tye weg van die huis, dikwels in gevaargebiede. Om van spertye nie te praat nie!

WAAROM DOEN JY DIT?
Om nuus te vertel soos dit gebeur het, sonder om politiek korrek te wees. Ek hou daarvan om ’n land se toerismebedryf te help herstel of dat ’n artikel iemand deur ’n moeilike tyd help.

HOE HANTEER JOU GESIN DIT AS JY SO BAIE WEG IS? Met my onafhanklike tieners kan ek ’n paar weke lank weggaan en net ’n semi-chaos kry as ek terugkom. My man los natuurlik die raaswerk vir my. My stem is glo meer formidabel!

VRIENDSKAPPE? Ons is simbolies van die 21ste-eeuse familie: Totaal disfunksioneel. Ons het nie tyd vir vriende nie en ons sosiale lewe bestaan uitsluitlik binne werkverband. Naweke is stil. Jonathan beantwoord e-posse en Sondae lê hy op die sofa met die kat op sy bors. Ek skryf of doen navorsing vir my volgende reis en die kinders studeer of speel op hul rekenaars in hul kamers. Ons e-pos vir mekaar terwyl ons almal in die huis is!

TYD VIR BUITE-AKTIWITEITE?
Jonathan se enigste oefening is om te hardloop om ’n vliegtuig te haal, terwyl ek koes vir koeëls en wilde diere. Die kinders is darem aktief - Ashley speel klubrugby en Penny-Lane hokkie.

DIS SEKER LEKKER OM MIDDE-IN DIE TEGNOLOGIESE ONTWIKKELING IN EUROPA TE WEES? Wat ’n reuse-uitdaging! Onlangs in Parys was ek in ’n futuristiese Star Trek-tipe outomatiese toilet. Die deure maak outomaties oop wanneer jy die geld ingooi. Ek stap toe in ’n “gedekontamineerde” toilet met musiek. Maar: Ná 15 minute gaan die deur weer outomaties oop - soos ek en die hele Boulevard Carnot tot my skande moes uitvind!

DIE PAD VORENTOE? Daar waar die volgende avontuur my lok!

* Besoek Cindy-Lou se webwerf by www.cindyloudale.com