VERTEL VAN EDINBURG. Edinburg is een van die mooiste plekke op die Britse Eilande, maar die winters is donker en koud. Die grys, ou sandsteengeboue is dan groen gemuf. Vanjaar het dit selfs baie gesneeu. Maar die koue is skaars verby, dan blom alles asof hul wekkers afgegaan het! Eers sneeuklokkies, dan krokusse oral in die gras. Daarna affodille - plate daarvan soos in Namakwaland. Die lente hier is byna skokkend in sy volle kleur. Die landskap is groen op groen. Die Britte het ’n obsessie met sonskyn. Hulle gee sommer huis op en trek agter die son aan. Ons sien TV-programme oor hoe hulle in Spanje aanpas! Hulle verwag almal moet Engels praat en is gou gaar verbrand (mad dogs and Englishmen, go out in the midday sun ... lui die liedjie mos).

HOEKOM HET JULLE KAAPSTAD VERLAAT? Ek het in 1999 besluit my werklewe op inligtingstelsels raak kort. Ek was bang my geld raak op. Ek het op die internet kontrakwerk gesoek. Elizabeth het gedink dis winkelvenster-kykery. Toe dit ’n werklikheid word, het sy besluit om liewer te bly. Ons kon mos elke dag per e-pos praat!

JY ALLEEN NA DIE VREEMDE? Elizabeth se susterskind was in Engeland, dus was ek nie familieloos nie. Vir Elizabeth se eerste besoek het ek die dae afgetel. Ná twee jaar kry ek toe ’n kontrak in Edinburg by ’n groot versekeringsmaatskappy. Elizabeth het in Oktober 2001 besluit om ook oor te kom. Sy is ’n mikrobioloog by ’n hospitaal hier in Edinburg. Dit was goed om weer in die vreemde te ontdek waarom ons aanvanklik besluit het om te trou! Ons twee dogters in SA het onafhanklik geword vandat ons hier is en ons mis hulle. Ons geniet dit om ons SA gasvryheid hier te beoefen. Vriende en familie, wat ons 21 jaar laas gesien het, kom kuier!

IS DAAR KULTUURVERSKILLE? Aanvanklik was advertensies hier nie vir ons snaaks nie. Dis ’n meetinstrument van die kultuur. Maar ons is nou ingeklee vir die lewe hier en maak die andersheid deel van ons leefpatroon. Cas Abrahams se kerriekookboeke sorg gereeld vir boboties. Maar vars salm is redelik geprys, baie gesond en heerlik. Die eerste Saterdag van die maand is daar ’n boeremark, The Grassmarket, waar vars vis, vleis, groente, pasteie, brood, tuisgebroude bier en wynsoorte gemaak van alles behalwe druiwe,
verkoop word. Akkerblaarwyn smaak amper soos chardonnay. Ons gaan vroeg en eet burgers gevul met spitgebraaide vark en tuisgemaakte appelmoes vir ontbyt.

WAT GENIET JULLE VAN “BONNIE SCOTLAND”? Op ’n Sondag stap ek van Edinburg oor Stirling langs die weskus op, deur die hooglande, verby Ben Nevis en Fort William en langs Loch Ness tot by Inverness aan die ooskus. Die pad loop langs baie mere. Dis verbasend ongerep en yl bevolk. Dis ook baie landelik - kliphuisies met rokende skoorsteentjies op groen gras tussen klipmuurtjies, wat die plase in klein kampies verdeel. Talle skape en beeste staan rustig en wei - geen tekort aan gras of water hier rond nie. Die snaakse skape met bruin koppe en draaihorings lyk meer soos bokke.

JULLE KOM NIE TERUG NIE? Ons is gelukkig hier - jou huis is waar jy is. Maar eendag sal ons in SA aftree. Ek skryf oor ons trekvoëlbestaan hier en wens ek het elke
e-pos bewaar om ’n saamgestelde ervaring as dokumentasie te kon hê van ons tweede lewe hier.

HOE GAAN DIT ANDERSINS MET DIE SKRYFWERK? JY HET IN 1987 MET 'N JEUGVERHAAL GEDEBUTEER (OM TE WEN) EN IN 1990 KORTVERHALE (TERUG NA KLEIN PARADYS). Ek is 11 hoofstukke ver met ’n roman, maar het vasgehaak!