WAT MAAK JULLE IN IERLAND? Werner is betrokke by vliegtuigherstelwerk - hier’s ’n bedrywige lughawe, waar herstelwerk aan vliegtuie van oor die wêreld gedoen word.
Ek het nie ’n werkpermit nie, maar is half bly, ter wille van die kinders. Hier doen jy al jou huiswerk self. Kinders gaan reeds op vier skool toe! Die onderwyspeil is baie hoog.

IS DIE IERE WERKLIK SO GASVRY? Ja, by die Iere was ons dadelik tuis. Eers was hul Engelse aksent ’n probleem, maar jy leer vinnig. Hulle het ook ’n eie woordeskat,
byvoorbeeld craig (uitgespreek as crack), is nie ’n dwelm nie, maar beteken pret of ’n lekker tyd. ’n Stout kind is bold. Iets wat regtig goed is, is grand. As dit dus goed gaan met jou, sê jy: “I’m grand!” Die seuns se Ierse aksent slaan al duidelik deur, maar tuis praat ons meestal Afrikaans. Ons betrokkenheid by die skool en die Protestantse kerkie van verlooptes (die predikant en sowat 95% van die lidmate kom van elders) het ook baie tot ons inskakeling bygedra. Die allemintige Shannonrivier, die langste in Ierland, is waarskynlik bekender as die dorp self.

IS DIT SO REËNERIG SOOS HULLE SÊ? Ons het ál vier seisoene in een dag! Dit reën baie, ja. As dit nie reën nie, is dit mistig of grys wolke hang voor die son. Gelukkig kom die son darem nou en dan deur. Dagtemperature wissel tussen 16ºC en 20ºC in die somer, en in die winter tussen 2ºC en 7ºC. Die somer het lekker lang dae. Die son kom teen 4 vm. op en teen 11 nm. word dit eers donker. Die winter se lang ure van duisternis kan wel swaar op die gemoed rus. Vir ons warmbloediges is dit bitter koud, maar eintlik is die klimaat baie gematig. Al is dit buite onder vriespunt, kan jy binne met ’n T-hemp rondloop.

IS DIE LEWE RUSTIG OP SHANNON? Stadig en rustig. Die lewenspeil en veiligheid is sekerlik die algemeenste redes waarom mense hierheen immigreer. Ons gaan stap
of ry fiets waar ons wil. Die kinders speel die wêreld vol.

EN JUL LEWENSKOSTE? Met ’n lae rentekoers was dit vir ons geldelik voordeliger om ’n huis te koop. Wil jy bou, kies jy uit beskikbare bouplanne, dus lyk die huise hier bykans almal eenders. Klasseverskille bestaan omtrent nie - jou motor en huis is onbelangrik. Nuwe, kleiner motors is volop, want belasting op groot motors is hoog en motors ouer as vier jaar moet elke tweede jaar ’n streng padwaardigheidstoets ondergaan. Sommige lewensmiddele is goedkoop, ander duur. Ons het vinnig geleer om nie na SA rand om te skakel nie, want jy raak hartseer as jy R15 vir ’n brood moet betaal. Ons het die nodige hier op Shannon. Groter ondernemings in die buurdorpe, Ennis en Limerick, is net ’n paar minute ver.

HOE LYK 'N ALLEDAAGSE SPYSKAART? Ierland produseer aartappels - drie verskillende aartappelgeregte op die tafel is dus glad nie snaaks nie! Een van die gewildste geregte is bacon and cabbage - opgekookte spekrol en kool. Lasagne, pasteie en bredies word met tjips voorgesit. Die Iere ken nie mielies nie en dink mieliepap is sleg. Hul barbeque is weer vir ons vreemd: Net hamburgers en varkworsies. Tuis hou ons by tradisionele boerekos. ’n Plaaslike slaghuis maak selfs vir ons boerewors.

VERTEL MEER OOR DIE MENSE. Die vertellings (meestal grappe) oor die Iere wat so baie kan drink, is nie juis waar nie, maar hulle is wel versot op hul nasionale drank,
die swart Guinness-bier wat hulle “moedersmelk” noem. Die alombekende pubs is aangename kuier- en eetplekke - vir die hele gesin. Iere hou daarvan dat jy saampraat.

AS DIE VERLANGE ERG RAAK? Niemand besef hoe erg die verlange na familie, vriende en alles wat bekend is, gaan wees nie. Ek en my pa e-pos daagliks vir mekaar.
Wanneer die verlange baie erg raak, troos sy briefies. En vriendinne wat gereeld skryf en af en toe bel, is baie kosbaar. Ek en my ma laat die SMS’e vlieg. Haar pakkies veroorsaak ook groot opgewondenheid in ons huis - tydskrifte, Afrikaanse kinderboeke en allerlei lekker goed.