WAS DIT MAKLIK OM VAN KAAPSTAD TE SKUIF? Die vooruitsigte van witwatervaarte op die Nyl het gou ons tieners se teësin weggeneem. Ons het ’n draai in Namibië en die Overberg gemaak voordat Henry die pos as produksiebestuurder by Rwenzori, die grootste mineraalwater- en plastiekbottelvervaardiger in Uganda, aanvaar het. (Rwenzori is genoem na ’n bergreeks daar.)

HOE'S DIE LAND? Ons is gek daarna, pragtig met sy subtropiese klimaat en lowergroen plantegroei. Die mense is vriendelik en gelowig. Buitelanders is welkom. Hier’s luukse wildparke wat wemel van olifante, leeus, kameelperde, duisende bokke, en die Nyl het natuurlik seekoeie en krokodille vir Afrika. Met vier tieners in die huis is skool die belangrikste. Nee, vergeet van skoolgaan onder ’n boom in die veld. Dis ’n internasionale skool van wêreldgehalte. Die moeilikste vir die kinders was die taalverskuiwing. Daar is geen beperking op kleredrag en haarstyle nie, maar persoonlike dissipline is uiters streng. Die kinders bou huise vir minderbevoorregtes. Ek is hoof van die ondersteuningsentrum by die skool en moet hierdie jaar kies om my verpligte personeelontwikkeling in Parys of Tanzanië te gaan doen! Ek geniet myself gate uit.

HOE ERVAAR DIE KINDERS DIE LAND? Stephan (18), antwoord: Hier is avontuur en uitdagings galore. Tieners het ’n rojale sosiale lewe en die Nyl is ons speelpark - ons doen quadbiking langs die Nyl af, jetski op die Victoriameer (die tweede grootste meer ter wêreld en die voerder van die Nyl) en rekspring oor watervalle. Ná ses maande verlang jy na jou vriende en eie land. Sommige kinders sukkel vreeslik om vriende te maak, omdat kulture so verskil, maar die 53 nasionaliteite moedig die ontdekking van ander gelowe, kulture en tale aan en het my persoonlikheid positief gevorm.
Sheal (18): My vriendekring strek wyd, tot by die Fidji-eilande, en ek gaan binnekort in Engeland en Georgia (VSA) kuier. Ná die matriekeksamen in Mei gaan ek en my tweelingbroer as beraders na somerkampe in die VSA. Die groente en vrugte smaak hier soeter en lekkerder - iets te doen met die ewenaar en die suurgehalte van die grond. Steers en Shoprite is ook hier! Maar die land het siektes wat jy nie sommer in SA kry nie - drie van ons het al malaria gehad en dis nogal erg.
Liezel (21): Trosse piesangs, waatlemoene en papajas oral langs die pad gee ’n vrolike atmosfeer. Ugandese diens is stadig, maar hul tevredenheid en vriendelikheid vergoed daarvoor. Ek sal terugkom om vrywilligerwerk te doen - Afrika het 15 miljoen weeskinders, van wie 2 miljoen in Uganda is.
Laureen (16): Skool is gerig op navorsing, konsepte en jou eie siening daarvan. Gemeenskapsdiens gee skoolpunte. Ek moes ’n 12-jarige dowe meisie met gebaretaal leer swem. Selfs haar naam is ’n gebaar. Ná ses lesse kon sy oulik swem. Saterdae voer en speel ek en ’n vriendin met babas by ’n weeshuis. Dis nogal aardig om teen jou eie land basketbal te speel in Dar es Salaam, Tanzanië.
Daniël (16): Ons verken die land en het al gaan kamp by die Murchison-waterval, die grootste waterval in die 6 000 km lange Nyl. In die middestad loop bokke en hoenders rond, en ’n boer neem sommer gou sy vee deur die stad en almal moet opsy staan. My grootste begeerte is om weer water uit ’n kraan te kan drink!