HOE HET JULLE DAAR BELAND? Gerhard het destyds ’n werkaanbod as finansiële direkteur van ’n maatskappy hier op Long Island aanvaar.

HET JULLE KINDERS? Ek’s ’n besige ma van vier: ons drieling, Arthur, Lizbi en Ciska, is nou 11 en Zandi 15. Wanneer ek hulle nie rondkarwei nie, verf ek groot muurskilderye.

VERSKIL DIE KULTUUR BAIE VAN SA S'N? Baie meer as wat ’n mens dink. Amerikaners is meer konserwatief as wat die media uitbeeld. Familiebande en goeie buurmanskap is baie belangrik en sterk. Ons ken al ons bure en die meeste van hul naaste familielede! En almal hier is sportmal, nes Suid-Afrikaners.

WAT EET DIE MENSE? Pizza en pasta is gewild. Min mense eet skaapvleis, hulle hou meer van bees- en varkvleis. En pleks van braaivleis is hier hamburgers en worsbroodjies. Hulle is ook lief vir koffie en bagels vir ontbyt.

IS DAAR BAIE SUID-AFRIKANERS IN DIE OMGEWING? Nie hier op Long Island nie. Ons woon so ’n uur se ry van Manhattan af en soos ek verstaan, is dáár heelwat
Suid-Afrikaners.

WATTER INTERESSANTE DINGE SIEN JY SOGGENS OP STRAAT?
Vreeslik baie kinders wat sokker of basketbal speel terwyl hulle vir die groot, geel skoolbusse wag. Die bus het ’n stopteken wat aan die kant uitswaai wanneer dit tot stilstand kom. Verkeer aan albei kante van die straat moet dan stilhou sodat die kinders veilig kan op en afklim. Hier en daar sal ’n motor by ’n oprit uittrek, maar mense wat in Manhattan werk, ry meestal met die trein. Hulle het dikwels ’n ou motor waarmee hulle stasie toe ry (hulle noem dit ’n “station car”), want hulle gee nie om dat dit verniel in die son en sneeu nie.

SIEN JULLE BAIE VERMAAKLIKHEIDSTERRE? My seun se sokkerspan speel nou en dan teen Lindsay Lohan (aktrise en sangeres) se broer se span, so ons sien haar familie soms langs die sokkerveld. Gerhard reis baie vir sy werk (veral Los Angeles toe) en sien soms sterre op die lughawe. Hy ry ook gereeld verby ’n toneel wat op straat geskiet word, soos vir die program CSI. Die kinders raak kwaad, want hy stop nooit om handtekeninge te vra nie!

HOE LANK BEPLAN JULLE OM NOG DAAR TE WOON?
Soos dinge nou lyk, sal ons permanent hier bly. Dit het twee of drie jaar geneem om aan te pas, maar ons is nou gevestig.