HOE HET JY OP ’N SKIP BELAND? Ek het ge-locum in Ierland en was reg vir iets anders. ’n Vriend wat al agt jaar op die skepe werk, het die saadjie geplant en ek is sedert Augustus 2007 op die skip.

WAAR VAAR JY ORAL ROND? Ek is op die Conquest, ’n skip van 110 000 ton met 4 700 mense aan boord. Die skip onderneem 7-dagvaarte uit Galveston, Texas, en doen aan by Montego Bay in Jamaika, Georgetown op Groot Kaaimans (een van drie eilande in die Kaaimans-eilandgroep) en Cozumel, ’n eiland aan die Mexikaanse kus.

IS JY HEELTYD OP DIE SKIP OF SOMS AAN LAND? Die skip anker in die hawens vir die gedeelte van die dag dat ons daar is. As my werkrooster dit toelaat, kan ek afklim, die plekke verken, inkopies doen, swem en snorkel. Of ek gaan opland-uitstappies na interessante plekke soos die Maja-ruïnes. In Galveston, ons tuishawe, laai ons net passasiers op en af en vertrek weer. Ons oornag nooit op land nie.

IS DIT LEKKER OM NET MET TOERISTE TE WERK? Die passasiers is hoofsaaklik Amerikaners en die meeste is aangenaam. Soms moet ek egter my tong vasbyt en hoflik bly! Maar ek is ook die dokter vir die 1 200 bemanningslede. Mense wil altyd weet watse siektes ek behandel - van seesiek en sonbrand tot ernstige noodgevalle soos hartaanvalle, wat soms per helikopter na die naaste hospitaal geneem moet word. Aan boord is ’n klein intensiewesorg-eenheid waar die mediese span - twee dokters en vier verpleegsters - ’n pasiënt kan stabiliseer.

ENIGE INTERESSANTE STAALTJIES? Toeriste verskaf ’n ryk bron van staaltjies wat my menige oomblikke van binnepret verskaf. Een ou omie was baie lief vir sy drankies (’n algemene tydverdryf op die skip). Tydens ’n gratis wynproe het hy góéd geproe en val toe en doen geringe beserings op. Waarna hy die skip dagvaar vir pyn en lyding, “because they enabled me to drink by giving me free drinks ...”

LUUKSE SKEEPSVAARTE KLINK ALTYD SO IDILLIES. IS DIT? Televisie het ons ’n onreg aangedoen met die reeks Love Boat ’n paar jaar gelede. Glo my, dis nié die werklikheid nie. Vir ’n passasier is dit idillies, maar ons werk lang ure om dit vir hulle so te maak. Die grootste nadeel is dat ’n mens baie lang tye weg is van die huis.

IS TAAL SOMS ’N PROBLEEM? Die Amerikaners praat maar “Amerikaans”, soos dit wat jy in flieks hoor. Onder die bemanning ontstaan wel probleme. Hulle verteenwoordig 60 verskillende nasies, maar almal moet ’n basiese Engels kan praat.

JOU BESTE ERVARING? Ek sien mooi plekke. Kersdag verlede jaar was spesiaal. Ons het met rubberbote op ’n rivier met pragtige natuurskoon in Jamaika gaan vaar.

SIEN JY BEROEMDES EN BEKENDES? Nee, wat. Op een vaart was die sterre van die sepies Days of our Lives en The Bold and the Beautiful, maar ek het hulle nie eers gesien of herken nie (ek kyk nooit sepies nie!).

HOE LANK GAAN JY NOG OP DIE SKIP WERK? Vir die volgende drie, vier jaar en dan sal ek kyk watter nuwe uitdaging voorlê.