HOEKOM BORNEO? Nege jaar gelede het ons Londen, waar ons vyf jaar gewoon het, verruil vir Borneo. Ben werk die afgelope negentien jaar vir die Royal Dutch Petroleum Company en hier is hy in diens van die Brunei Shell Petroleum Company. Die meeste oorsese werkers van Shell se wederhelftes kry nie werkpermitte nie. Ek het ’n  “Afhanklike Pas”-stempel in my paspoort, wat my verbied om hier te werk. Ek is ’n argitek en kranige fotograaf. Ek het blokfluitlesse by die Shell-skool gegee. By die Shell Pananga Klub is ek lid van die bestuurspan en president van die Pananga fotografiese vereniging. My grootste projek (ongeveer R5 miljoen) was die ontwerp en toesig oor die bou van ’n nuwe swembad.

VERTEL MEER VAN JOU NUWE LANDGENOTE. Byna almal praat goed Engels, en die meeste vroue werk. Hulle hang die Moslem-geloof aan, families is groot en dis nie buitengewoon om gesinne te sien met ses of meer kinders nie. Mense is baie vriendelik en sal nooit skreeu of hard praat met ander nie - dis teen hul geloof. Die vroue dra kopdoeke en geblomde rokke van ingevoerde sy wat hulle laat maak as baju of kebaya - die tradisionele styl. In gevalle waar ’n gesin kinderloos is, sal ’n broer of suster wat self baie kinders het soms een kind aan die kinderlose paar gee.

VERSKILLE? Troues is anders. Die bruidegom vier dit eers by sy ouers se huis en ry dan na die bruid se familie vir die seremonie. Volgens tradisie sit die bruid se ouma op die grond in die slaapkamer die eerste wittebroodsnag - om seker te maak alles verloop seepglad! Ons gesin is almal lank, en ek en die kinders is blond met blou oë. Ons troon bo hulle uit. Hulle wil altyd die kinders aanraak en hul hare bevoel. Soms raak dit ’n bietjie te veel vir die kinders as honderde hande heeldag oor hul koppe wil stryk. Alkohol moet ‘n mens oor die grens koop. Die land word deur die skatryk 58-jarige sultan regeer. En ek het foto’s geneem by die prins van Brunei se troue!

EN JOU ONMIDDELLIKE OMGEWING? Ons woon in ’n tropiese omgewing - Pananga Park. Die temperatuur is omtrent heeljaar 32 grade Celsius. Dis baie nat met ’n hoë reënval. Die staat Brunei het ’n bevolking van 340 000. Ons woon in ’n Shell-kamp ongeveer 100 km van die hoofstad, Bandar Seri Begawan (“Abode of Peace”). Die binneland is pure oerwoud. Akkedisse en slange kom klim oor ons dak of drink uit ons waterbakke in die tuin. Daar’s ’n trop apies wat baie nuuskierig is en soms kom sit en speel hulle met ons tuinmeubels of lê in die hangmat. In Kampong Ayer, ’n waterdorp naby die hoofstad, woon 30 000 inwoners op die water.

WAS DIE AANPASSING MOEILIK? In die begin wel. Die baba was agt maande oud, ek moes als saambring - tweeduisend weggooidoeke! Ek kon glad nie klere in my nommer koop nie. Ek is mal oor die hitte, hoewel ons met die lugreëling aan slaap. Dis lekker om groen te sien ná Londen se grys. Groente en vrugte was ’n probleem, maar word nou ingevoer van Australië. Ons kan selfs SA appels en soms proteas koop.

WAT MIS JULLE VAN SUID-AFRIKA? Tafelberg, familie en vriende. My ma se kos, die geur van jasmyn in die voorjaar. Daar’s nie jaargetye in die trope nie. Pick ’n Pay in Constantia en Mrs Ball’s-blatjang.

WAT HET JY VAN JOU NUWE LANDGENOTE GELEER? Geduld. Familie en vriende is die belangrikste deel van jou lewe.

WAT WEET HULLE VAN SUID-AFRIKA? Nelson Mandela. Ek en my dogter het hom en sy vrou ontmoet by Kampong Ayer op die Brunei-rivier met hul besoek in 1997. Ek het ’n baie groot SA vlag vasgehou. Dit was een van die trotsste oomblikke van my lewe. Madiba het op ons afgepyl om te kom gesels en die volgende dag was dit voorbladnuus in die koerante met ’n groot foto waar ons by hom staan! Hoendervleis-oomblik. Die foto pronk in my huis. Vir die koningin se verjaardag het ek eenkeer ’n tradisionele Afrika-rok en -kopdoek gedra en sy was baie geïnteresseerd in my springbokvel-handsak. Ek is baie trots op Suid-Afrika!