WAAR LÊ JUL WORTELS? Ons kom oorspronklik van Zimbabwe en is sedert 1988 stoere Kapenaars. In 2001 het Mike die geleentheid gekry om sy perdewedren-ervaring uit te brei deur hoofvoorgeër by die Singapoer-wedrenklub te word.

AANPASSINGS IN JUL NUWE TUISTE? Dit was maklik om aan te pas. Dis meestal ’n woonstel/kondominiumleefstyl met uitstekende geriewe. Die openbare vervoer is goedkoop, skoon en doeltreffend. Busse neem jou na elke uithoek van die eiland en die treindiens is onverbeterlik. Bekostigbare taxi’s is 24 uur beskikbaar. Ons is nou al vier en ’n half jaar hier. As ek móét kla, sou die grootste irritasie die motorbestuurders wees. Dis baie veilig om hier te bestuur. Spoedbeperkings word streng toegepas en groot boetes word afgedwing as jy ’n ongeluk veroorsaak. Maar motorbestuurders ken nie flikkerligte nie - motors slinger tussen bane rond sonder om ander padgebruikers in ag te neem. En, natuurlik, dis ’n klein eilandjie met ’n groot bevolking en elke stukkie grond word benut. Ek mis die groot ooptes van SA.

HET JUL EETGEWOONTES VERANDER? Eet is natuurlik Singapoer se nasionale sportsoort - daarná kom shopping! Ons onderskryf die gewoonte om elke aand uit te eet in die opelug-restaurante, feitlik op elke straathoek. En dis goedkoop. Enige dis is beskikbaar - van Westers tot Indies - en is binne 2 tot 5 minute op jou tafel! Maar ons mis boerewors en biltong. Die Switserse slagter doen sy bes, maar dis net nie die ware Jakob nie.

HET JUL KINDERS MAKLIK BY DIE SKOOLKULTUUR INGEPAS? Ons dogters het hier aan die Kanadese Internasionale Skool gematrikuleer en Jason geniet nog die wonderlike mengsel van nasionaliteite. Die skoolstelsel is heeltemal anders: Kleiner klasse met ’n oopkop en ondersoekende leerplan wat hoë eise aan die kind stel. En almal werk op skootrekenaars. Om goeie vriende te maak is moeilik aangesien die meeste kinders net ongeveer ’n jaar bly voor hul families weer trek. Daar word nie aandag gegee aan ’n klerekode en respek vir ander nie, maar die dinamiese, internasionale leerervaring vergoed daarvoor. Omdat Singapoer so klein is, word somerkampe in Kambodja, Thailand, Frankryk of Griekeland gereël om nuwe kulture te ontdek.

HOE HET JOU LEWE VERANDER? Ek het vriende gemaak met ander vrywillige werkers by die skool. Daar is gereelde samekomste - meestal vleisbraai - met ander gesinne. My lewe hier is baie anders (ek was ’n dagmoeder). Ek het leer gholf speel, iets wat ek nooit tuis sou gedoen het nie, ek speel tennis, kaart en woon in die week teepartytjies by. Naweke is meer normaal - piekniek êrens of swem en ontspan in die pragtige strandswembad in ons woonkompleks.

HOE VIND JY DIE KLIMAAT? Twaalf maande van somer! Singapoer is 96 km noord van die ewenaar en die temperatuur in die middel 30’s, snags tussen 25 en 30 °C. Die weer is drukkend soos Durban s’n. Lugverkoeling is ’n noodsaaklikheid en dit neem ’n tydjie om daaraan gewoond te raak. Die enigste verskil tussen seisoene is ’n paar grade warmer en droër met minder wolke in die “somer” en meer reën in die “winter”. Singapoer was vir ons in ’n mate ’n tuiste, maar dis nie permanent nie. Ons harte lê in SA. Die uitgebreide ondervinding hier is heerlik, veral om oral te kan reis en vakansie te hou - Indonesië, Maleisië en Doebai. Maar dis moeilik om so ver weg van jou familie en vriende te wees. Ons sou net vir drie jaar bly, maar sake het goed uitgewerk. Jason gaan volgende jaar hoërskool toe, so dis tyd vir ons om huis toe te gaan.