WAAR WOON JULLE? Ek en my man, Arnaud, en ons dogter, Milla (2), woon sedert Junie 2006 net buite Toulouse in die suidweste van Frankryk.

HOE HET JULLE DAAR BELAND? Ek het Arnaud drie jaar gelede in Kaapstad ontmoet toe hy daar studeer het. Dit was liefde met die eerste oogopslag en ons het 2 jaar in Kaapstad gewoon voordat ons Frankryk toe getrek het. Sy oupa se huis in Toulouse het 8 jaar lank leeggestaan. Ons het dit in 2005 begin restoureer en woon nou daar.

WAT DOEN JY? Ek is eerstens ’n ma - iets wat my baie besig hou! Huishulpe hier is duur en ek doen als self. Ek bestuur ook Urban Mamas (www.urbanmamas.co.za), ’n e-tydskrif wat inligting oor ouerskap aan Suid-Afrikaanse ma’s (én pa’s) verskaf. Ek het dit begin toe ek self ma geword het en besef het daar is nie ’n SA webtuiste wat mediese inligting en raad bied nie.

HET JY MAKLIK VRIENDE GEMAAK? Die Franse het my geleer om heerlike crêpes te maak en rosé te drink. Maar hulle het in die algemeen ’n baie geslote kultuur - dis moeilik om in te kom. Uitlanders is nogal geneig om hulle bymekaar te skaar. Die mense het ook sekere sosiale moenies wat vreemd is vir Suid-Afrikaners. Jy kan byvoorbeeld nie net na iemand stap en vra hoe laat dit is nie. Jy moet sê: “Verskoon my asseblief, Monsieur, ek is regtig jammer om u te pla, maar hoe laat is dit?” Ek het al ’n paar Suid-Afrikaners in Toulouse ontmoet - hier is ’n rugbyklub!

VERSKIL DIE ALLEDAAGSE LEWE DAAR BAIE VAN DIÉ IN SA? Mense gaan baie minder uit omdat dit so duur is. ’n Glas wyn kos sowat R60 en ’n eenvoudige bord kos nie minder as R300 nie. Mense kuier eerder tuis en gee etes wat tot in die oggendure aanhou. In die somer lewe die mense buite - hulle draf, swem, stap, ry fiets en hou Sondagmiddae piekniek in een van die pragtige parke. In die winter is die strate grafstil.

HOE IS DIE KOS? Ek geniet Franse kos, maar ek het meer daarvan geëet toe ek nié hier gewoon het nie. Hulle eet allerhande vreemde vleis waaraan ek nie my mond sal sit nie, soos konyn- en perdevleis en paddaboudjies. Ek moet erken ons eet omtrent elke dag ’n croissant of ’n chocolatine (vierkantige sjokoladecroissants). Dit het al ’n ritueel geword.

WAT IS VIR JOU SPESIAAL VAN JOU NUWE TUISDORP? Kersfees. Die hele stad skitter letterlik en feestelikheid hang in die lug. Die absolute stilte nadat dit gesneeu het, is ook iets besonders.

WAT MIS JY VAN SA? Alles! Ek mis die sonskyn, strande,’n goeie braaivleis en om rugby te kyk (of altans, om te maak of jy kyk) saam met vriende. Ek het ’n liefdesverhouding met die Kaap en onvoorwaardelike liefde vir Suid-Afrika. My hart lê daar - ek sal moet huis toe gaan om dit terug te kry!