HOE HET JY DAAR BELAND? Ná twee jaar in Londen was my studieskuld vir my technikon-graad in gasvryheidsbestuur nog nie afbetaal nie. Ek is toe saam met vriende Taiwan toe. Ek woon 20 km van die internasionale lughawe op ’n plek genaamd Tsjoengli.

HET JY MAKLIK VRIENDE GEMAAK? Die eerste jaar was werk soek en aanpas my grootste prioriteite, en my vriendekring was beperk. ’n Hele nuwe wêreld gaan oop
wanneer jy mense van ander lande en stede ontmoet.

EN JY GEE ENGELS VIR KLEINTJIES? Ek het begin om 4-jariges Engels te leer met behulp van boeke, flitskaarte en speletjies. My werk is glad nie vervelig nie. Ek gee nou Engels vir kinders tussen 5 en 12 jaar.

WAAR KOM JY OORSPRONKLIK VANDAAN IN SA? Jan Kempdorp in die Noord-Kaap.

JY VERLANG SEKER NA SA? Ja, ek beplan om in Augustus terug te keer. Ek het die beste familie en vriende by die huis. Ons land is darem maar mooi en ons het werklik die beste weer. Ek gaan my eie skool open en so ’n bydrae lewer om die groot geletterdheidsgaping tussen SA en Chinese kleuters te verklein. Vyfjarige kleuters hier kan ’n tweede taal lees, skryf én praat.

WAT MIS JY GLAD NIE? Belasting! Ek betaal maar 6% hier en ’n besoek aan ’n dokter of tandarts - plus medikasie - kos nie eens R20 nie.

VERTEL MEER VAN TAIWAN. Dis ’n baie klein eiland. Die meeste mense is Chinees. Hulle praat ’n ander dialek as in China of Hongkong. Die natuurskoon is wonderlik. Maar met die hoë bevolking, besoedeling, verkeersknope en konstruksiewerke is dit moeilik om die land werklik te waardeer. Die meeste geboue word gebou om die tifone en storms te weerstaan, en boet estetiese waarde in. Dit word baie koud én baie warm hier. Die geboue is nie verhit nie en jou vloere “sweet” soms só van kondensasie dat jy dit twee keer per dag moet droog vryf.

HOE IS DIE TAIWANNESE? Baie gasvry en ons kommunikeer meestal in gebaretaal. Westerlinge word gereeld aangestaar. Motoriste ry wild, maar padwoede bestaan nie. Interessant ook, is dat die jong mense al hoe langer word - die idee van klein Chinese mensies is aan die verbygaan. Jy sal ook byna nooit ’n Chinese man by ’n Westerse vrou sien nie. Die omgekeerde is wel waar.

EET HULLE VREEMDE DINGE ...?
Ek was eers baie skrikkerig vir die kos! Ek het ’n vrou eenkeer spottend gevra of dit hondevleis is wat sy my aanbied. Haar antwoord was heel nonchalant: “Nee, dis te duur!” Slange is nie ’n probleem om te kry nie. Mooncakes of roomys met boontjies of groentee daarin en uitgerolde en gedroogde seegras is van die vreemdste goed wat al oor my lippe gegaan het. Dis egter maklik om snaakse goed te vermy - “gewone” kos soos soet ham en varkworsies is volop.