YELLOWKNIFE! Ja, dié dorpie het ontstaan deur die handel in pelse. Die baai, en uiteindelik die dorp, is genoem na die Yellowknife-stam van die Chipewyans, wat rondom die 1800’s in die gebied gewoon het. Hulle het hul naam gekry van die koper-meslemme wat hulle gemaak het.

WAAR OP DIE KAART SAL 'N MENS NA YELLOWKNIFE SOEK? Dis die hoofstad van die Noordwestelike Gebiede van Kanada. Dis aan die oewer van Yellowknife-baai, ’n deel van die Great Slave-meer, wat Yellowknife afsny van die res van Kanada. Die naaste groot stad is sowat 1 000 km suid. Twee keer per jaar verloor ons deurgang na nasionale paaie - in die herfs en lente - weens die sneeu. Dan is die veerboot oor die Mackenzie-rivier vir tot 3 weke gesluit. Gewoonlik is die ys dik genoeg om op te ry en dit word soms dikker gemaak deur water op die ryvlak te spuit, wat dan vries. Die yspaaie strek oor sowat 1 400 km.

HOE KRY 'N MENS DAN JOU RY? Net die gedagte daaraan is oorweldigend! Dit help ook nie veel as alle bakens toegesneeu is en jy moet rigting hou nie. Gelukkig is die padgebruikers baie verdraagsaam. Alle padreëls word getrou nagekom. In die winter word jou motor oornag in die elektriese verhittingstelsel ingeprop om die smeermiddels
vloeibaar te hou, en as jy gou by ’n winkel wil inglip, los jy ook die motor se enjin aan. Motordiefstal bestaan nie, want soos die inwoners verduidelik: “Waar gaan jy die gesteelde motor nou wegsteek?” Kom jy uit die winkel, vee jy eers die sneeu met ’n spesiale borsel van jou motor af.

HOE'T JULLE HIER BELAND? Ek en my man is albei in die mynbedryf. Hy is hierheen verplaas om te help met die oprigting van ’n nuwe myn. Ons is nie seker wanneer ons terugkeer SA toe nie, maar ons wil die tyd hier gebruik om te reis.

WAS DIE AANPASSINGS GROOT? Die grootste was die klimaat - die lang, bitter koue winters, van Oktober tot Mei. Die gemiddelde dagtemperatuur wissel van 12 tot 21°C in Julie en -24 tot -32°C in Januarie! Sonskyn-ure wissel van 5 uur per dag in die winter tot 20 uur in die somer. Die houthuise en -geboue is spesiaal ontwerp vir isolasie teen die koue. Kleiner vensters is van dubbele, soms driedubbele glas. Alle geboue het sentrale verhitting met elektrisiteit of gas.

HET JULLE SOSIAAL MAKLIK INGESKAKEL? Aanpassing in die gemeenskap was maklik omdat Yellowknife baie kosmopolitaans is. Net sowat 17% van die 18 000 mense
is inheems; die res is meestal van Britse of Franse afkoms. Die Kanadese is baie gasvry teenoor vreemdelinge en toon belangstelling in jou kultuur. Vreemdelinge sal jou gou uitvra na jou aksent. Die meeste mense sê Afrikaans is sag en vloeiend en die ritme baie soos Frans.

WAT IS VREEMD DAAR? Die amptelike tale is Engels en Frans, maar die meeste Kanadese praat Amerikaanse Engels. Hulle praat van ’n paved road (teerpad), en moenie ’n hysbak ’n lift noem nie - hulle sal dink jy verwys na sekere vroue-onderklere.

VERSKIL HUL EETGEWOONTES VAN ONS S'N? Geen bepaalde cuisine nie. Die meeste bekende handelsname is hier te kry - totdat jy kaaskrulle vir jou kind wil koop of ’n
Peppermint Crisp-tert vir jou man wil maak. Rooibostee is wel baie gesog. Daar word duidelik aangedui dat dit ’n SA produk is én hoe om dit uit te spreek: Roy-boss. Kitsgeregte en -deeg is ook baie gewild. Die vreemdste is die nie-breekbare eiers! (Eiers is klaar gebreek en in klein, verseëlde kartonboksies verpak. Jy kan selfs die eierwitte apart koop.)

WAT DOEN JULLE DAAR OM BESIG TE BLY? Omdat die inwoners so afgesonderd leef en die winters so lank is, is mense baie kreatief. Daar is sowat ses kunsgalerye en die
stad is versier met kunswerke van plaaslike kunstenaars. As jy by ’n Kanadees aan huis gaan, trek jy jou sneeuskoene uit en die gasvrou bied jou gewoonlik ’n paar mokassins aan wat sy self gemaak en met krale geborduur het. In die somermaande word talle kuns- en kultuurfeeste in die stad aangebied. Dis ’n gesogte toeristebestemming met heelwat sneeu-aktiwiteite, tradisionele sleeritte, getrek deur poolhonde, en natuurlik die noorderlig (aurora borealis) om te sien.

VERLANG JULLE BAIE? As dit te erg raak, kuier ons saam met ander Suid-Afrikaners in een van die plaaslike restaurante en gesels oor sonnige SA terwyl ons kyk hoe ligte vliegtuie op die meer land.