HOE HET JULLE IN ZÜRICH BELAND? Ek het ontstoke in my dagboek sit en skryf op die moltrein in Londen op pad werk toe, want my fiets is gesteel. ’n Donkerkop ou by die deur het iets te sê gehad oor my dagboek, en ek het so ’n bietjie teruggesnou, en toe kom sit hy langs my en vra my nommer. Ek het eers nee gesê, maar later my e-posadres gegee... En 6 maande later stap ek kaalvoet in die paadjie af van ’n klein Switserse kerkie. Werni was net vir die naweek in Londen, en ons het bloot toevallig  ontmoet.

HET JOU FAMILIE DIE TROUE BYGEWOON? ’n Week ná die troue is ons na Suid-Afrika waar ons die langpad gevat het na Barberton, waar Werni met ope arms deur my ma, broer en susters verwelkom is. Ons het weer in die Laeveld getrou - te heerlik!

WATTER WERK DOEN JULLE? Werni is ’n bankier. Ek het in Engeland in die bemarkingsektor gewerk en wou in Zürich by die tweetalige onderwysstelsel betrokke raak. Ek het Duits begin studeer. Dit het maar sukkel-sukkel gegaan, maar vandag praat ek dit vlot. Ek hou skool by een van die top-tweetalige privaatskole langs die Zürich-meer. Ek geniet dit baie. Ek en Werni gesels Afrikaans by die huis, Engels wanneer ék baie moeg is en Duits wanneer hý baie moeg is.

HET DIE SWITSERS ENIGE VREEMDE GEWOONTES? Mense hier sê sommer vir vreemdelinge, terwyl hulle besig is om te eet: “Lekker eet!”- al ken hulle mekaar van geen kant af nie. En dié wat eet, sê dan boonop dankie!

HOE ÍS DIE KOS? Die diens is swak! Hier word min vleis geëet, maar baie groente, pasta en kaas. Ons het een maal vir my ma van die kaas geneem en sy het gevra of iets fout is daarmee - sy kon dit nie eet nie. Kaas-fondue en vetterige worsies is die inding. Die Switsers haat die reuk en smaak van skaapvleis en eet dit glad nie. Ons ry ’n volle drie ure na ’n Turkse slagter wat skaapvleis verkoop. Die vroue hier is maer, drink nie baie alkohol nie en eet baie slaai. ’n Mens mag lelik en onversorg wees, maar net nie vet nie.

HOE ONTSPAN JULLE? Dis nie soos in Suid-Afrika waar mense om die braaivleisvuur kuier nie. Mense in Zürich is lief vir die buitelewe. Hulle ski, stap en swem. Hulle kook nie graag nie en kry mekaar eerder ná werk by ’n eetplek.

INTERESSANTE STAALTJIES OOR JOU LEWE IN DIE VREEMDE?
Ek sit eendag buite ’n koffiewinkel en lees terwyl ’n tradisionele musiekgroep pragtig begin speel. ’n Man met ’n groot bord kom verby en ’n munt spin so van kant tot kant daarop. Ek dog hy kollekteer. Ek begin grawe na my beursie, en my boek val van die tafel af, maar ek besluit vándag dra ek by. Ek sit die man agterna en gooi die munt sommer so oor sy skouer in die bord. Al die omstanders het baie gelag! En ek het geen benul wat aangaan nie. Die aand vra ek vir Werni wat dit kon wees. Die bord is glo ’n musiek-instrument. Jy is nie veronderstel om goed daarin te gooi nie.

PLANNE OM JULLE LATER IN SUID-AFRIKA TE VESTIG?
Ons maak soos die wind ons waai. Ons gaan waarskynlik nog Rusland toe vir ’n paar jaar