Die enorme, sinkende plein is vroegoggend leeg met slegs swerms somber duiwe en plaaslikes wat werk toe drentel. Terug by my albergo (hotel) is my interaksie kortstondig met die waslapgrootte handdoekies ná die stort. Met Lucky, die eienaar se Westie-terrier, as onwettige gas by die ontbyttafel, geniet ek die moratadella (koue vleis) en pane (brood) met sjokeladesmeer.Daarna sit ek af na die naaste supermark vir water en vrugte. Ek ontdek Ciap Ciap-pizzeria, asook die konglomeraat van markware by die Rialto-mark. ‘n Paartjie tango op die markplein; 'n deftige heer kibbel oor die prys van vis met sy hond aan sy voete; ruikers vars rooi rissies brand vir potensiële kopers. Op campo St. Margherita hou ek pouse met ‘n al fresco-happie en beloer die plaaslikes se kom en gaan. Ek drink die skoonheid in, die kunstig-versierde geboue, die geskiedkundigheid, die vermenging van kulture... Dan stap ek deur die Dorsoduro-distrik - vol woonstelblokke met wasgoedlyne wat span oor die oop ruimtes en klein tuintjies. Ek gewaar ook ‘n universiteit, skoolgaande kinders en spelende honde. Die Punta della Dogana op die end van Dorsoduro lok my; ek verkyk my aan die vernuftige ingenieurswerke langs die Giudecca-kanaal op pad soontoe. Ek onderdruk die impuls om ‘n skool toeriste-seuns by die punt te verwilder; hulle drom lank saam om ‘n standbeeld van ‘n naakte seun met ‘n vis in die hand. Ook niks gewoond nie. ‘n Polisieman hou ‘n streng, wakende oog. My mini-romp laat my nie toe om die befaamde wit Chiesa della Madonna della Salute te betree nie, maar ek besoek wel ‘n ander pragtige kerk. Bo-op die Accademia-brug herontmoet ek die Suid-Afrikaners van Hermanus - wat ek en Janine op die trein in die Cique Terre raakgeloop het. En saam met hulle betree ek ‘n katedraal in die hart van die San Marco-distrik terwyl ons gesels oor ons onderskeie vakansies. Ons paadjies skei weer en ek vertoef vir ‘n wyle by Florian-restaurant op St. Markus-plein en luister na die strykorkes se klassieke uitvoering. Middagete spandeer ek, skyf pizza in die hand, op campo Maria Formoza. Die keistene dien as inkleurprent vir kinders - gehukkend kleur hulle die sement in met helder bordkryt. Moeders met stootwaentjies wat kopstukke gesels; ‘n gesin verkrummel ‘n sak Italiaanse vingerbeskuitjies as duiwekos; honde kerjakker; peuters baljaar met ‘n bal. ‘n Gesin gondoliere knibbel saam aan ‘n sak druiwe – so pas gekoop by ‘n stalletjie op die plein en afgespoel met fonteinwater. Dit voel asof ek ‘n gesprek afluister; ‘n buitestaander wat skelm die bure staan en afloer. Dan gaan tof ek myself op vir my apperitivo by die legendariese Cantina do Mori. Dié kroeg is na bewering die oudste in Venesië, en in pas met hul status, word moderne spritz nie bedien nie. Ek volstaan met prosecco en word betrek by ‘n groep Australiërs se gesprek. Ek verskoon myself later en stap na die Cannaregio-buurt waar luide musiek speel en jong mense jolig cicchetti (klein happies) eet. Ek bestel ‘n spritz en die kelner deel my die geskiedenis van dié oranje drankie mee. Die bootvakmanne vanaf Switserland het met die ‘resep’ opgedaag – oorspronklik word vyf tipes spritz bedien wat wissel van baie bitter (gemaak met Campari) tot by soet (gemaak met Aperol). Maar meestal word ‘n skeut van die helder oranje Aperol geskink saam met prosecco (vonkelwyn) en sodawater en dan word die glas getooi met vars lemoenskywe. En alhoewel ek reeds dié drankie orals in Italia gedrink het, is Venezia die geboorteplek van spritz. Salute! Ek kuier saam met ‘n paartjie van Engeland tot ná middernag. Op pad hotel toe neem ek foto’s van die verligte, oop St Markus-piazza in die maanlig. Ek kom 01h00 tot ruste en net toe ek gemaklik in my wiegende hotelkamer lê, wonder ek: Het ek vandag gelato geëet?

Deel 13 Kaapstad

Die kinderspeletjies in Venesië laat my onwillekeurig dink aan die kwessie van moederskap. Sonder om doekies om te draai (of te ruil), het ek destyds besef dat, indien ek ‘n baba sou wou hê, ek 100% die verantwoordelikheid vir ouerskap op my skouers moes neem. Dis nou buiten my rol om na my eksman om te sien. En daarvoor het ek nie kans gesien nie. 04 Oktober 2005 38 Maksimum? My embrioloog-buurvrou, Birgit, sê dat 38 jaar min of meer die boonste parameter van ouderdom is as jy jou eerste, gesonde kind natuurlik wil verwag. Dis nou wat die mediese risiko’s vir die baba betref, ensomeer. My ouma het haar laaste baba op 42 die lewe ingesien. Dit nogal in die ‘ou dae’ met goeie hospitale ver en slegs boererate naby. Ek wonder self oor my eie fertiliteit. Hoe weet jy as jy nie probeer nie? Maar o wee, wie wil nou ‘n kleedrepetisie beleef en dan is dit eintlik openingsaand?! Self wil ek darem eers behoorlik emosioneel (die lewenslange verantwoordelikheid) en fisiek (Body for Life) gereed wees vir die groot stap. Wat nog te sê van die finansiële implikasies? En tog meen die meeste ouers dat hulle wel op die een of ander manier in al hul kinders se behoeftes kon voorsien. Maar as onafhanklike kontrakwerker het ek my bedenkinge... So dalk tiek daai blêrrie biologiese klok dat die biesies bewe, maar ek hang nog aan ‘n tak. En ja, my man se klok slaan self ‘n luide slag – hy is immers tien jaar ouer as ek! Maar dan is hy ‘n ondeunde, jeugdige kind homself. Wie het nou ‘n baba nodig met hom in die huis? Dankie, ek sit maar nog ‘n bietjie langer in die wegspringblokke. Die waterkanale asook die magdom van kunswerke in Venesië, laat my gedagtes stroom-af swem en dink aan die tonikums vir my psige tuis – onder meer ‘joga langs die see’ en dan ook kuns. 31 Maart 2006 Kalmte vir my gemoed Spieëlgladde loodblou water is vanoggend plek-plek verbreek deur die swart glibberigheid van kelp. Stadig het ons liggame ontwaak in die asanas wat herinner aan die grasie van ‘n kat. Mettertyd het my gemoed bedaar, het die roosblou van die hemelkoepel aanklank gevind by my brose siel.Die oggendlug was vars, en met die seebries op my vel, het my malende gedagtes se gekolk verwasem tot sterwende vlieswolke voor die son. Die plons van klein branders het vermeng met die gekras van seemeeue, en dofweg, diep binne-in myself, het my 'ou self' stadig begin orent kom, begin asemhaal. 8 Mei 2006 Kuns & Kultuur  Picasso se kunsuitstalling is besonders: portrette en studies, skilderye, sketse en etse moes van oraloor af gesoebat, gehaal en verseker word vir die reis na Afrika. Met kleur en geur is vir ons vertel en gewys hoe Picasso se skilderye op 14-jarige ouderdom vergelyk met dié van later in sy lewe; sy eerste solo uitstalling was reeds op 19 jaar. 'n Skildery van Dora is laasweek vir 195 milljoen dollar verkoop, soortgelyk aan die studie in kobaltblou wat ek Saterdag met my eie oë besigtig het! Dit is nou nádat een van die wagte my vriendelik versoek het om agter die swart lyn te staan - blykbaar het 'n skoolkind kougom op een van die skilderye geplak! Memoirs of a Geisha was ook op my agenda vir die naweek. Ek en Elize was meegevoer na vervloeë Japan met 'n ryk tapisserie met helder kleure: fluweel en fyn lint is verweef met sprokie-mooi patrone. Die film is een van die min flieks waar die boek tot in die fynste detail weergegee word. Die Suid Afrikaner Dion Beebe verdien definitief sy Oscar vir die beste fotografie. Die drie ure het verbygevlieg in ryk sensasies en ons het die teater eufories verlaat.