Maar soggens begin ek woel lánk voordat die singende boot-eienaars in sig is. Die kerkklokke wag vir niemand nie en hul konstante gebeier is my kamermusiek. Die albergo (hotel) se sjokeladesmeer kan ek eers later geniet – ek verken St. Markus se katedraal vóór ontbyt.  Die vergulde mosaïekmure en brons viertal perde is omtrént skouspelagtig. Ek tree nader aan die rye kersblakers. Gister het ek my eerste kers in die hart van ‘n kerk, naby die Accademia-brug, aangesteek vir my eks-man. My wense vir hóm was vir heling, algehele aanvaarding van ons egskeiding en vir ‘n nuwe lewe, natuurlik sonder my. Maar vandag steek ek vir myself en my dierbare moeder kerse aan: Vir haar en haar tragiese lot van beide ‘n skiso-affektiewe man en kind (my sus); vir mý omdat my lewensreis haar pad gedeeltelik eggo. En vir ons albei vir geloof en volharding, maar verál vir hoop. Ek hoop vir ‘n nuwe Carla wat my talente sal ontgin; wat onvoorwaardelik die afgelope tien jaar se oorlewingstryd agter my sal laat en opnuut sal begin, met ‘n skoon palet. Wat lief is vir myself, en myself waardig ag en myself koester. Dankie Hemelse Vader... Die kerkklokke slaan - elfuur is cicchetti tyd in Venezia. Dán word drankies bedien saam met smaaklike happies. Ja, jy het reg gelees - 11h00 in die oggend. En ook weer 18h30 saans. Ek maak my tuis by Muro’s, naby die pesce (vis)-mark in Rialto. Diepgebraaide vis en ‘n glas spritz – hoe dan anders? Dan loop soek ek na die campo St Raffaele, vanuit die bekroonde boek “Miss Garnet’s Angel”. En sowaar as vet, ek vind die wit kerk wat bewaak word deur die Engel - seun en hond aan weerskante. Soekend val ek later weer in die pad – teen die einde van my vier dae in Venezia sal ek gewis kan sê dat ek dié stad grotendeels te voet verken het! Later vind ek die Madonna D’Ortodore kerk, asook die villa met die kameel teen die muur – alles net soos beskryf deur “Miss Garnet”. Magnifico! Ek kies koers na die stiller straatjies van die Castello-buurt en die legkaartstukkies voltooi ‘n lieflike toneel van die waterstad. Ek bestel pasta vongole by ‘n trattoria op campo Ruga. Die broodmandjie is maar treurig – lyk my pane (brood) is selde baie vars in Venesië; en alhoewel die skulpdiertjies erg na vis proe, geniet ek die kuier op die campo. Ek maak maats met ‘n kat en betrag die plaaslikes se kom en gaan. Vanuit my hotelvenster betrag ek later ‘n boot wat wasgoed aflaai met ‘n hyskraan – dit nogal deur ‘n hotel se ‘venster’. Skoon wasgoed kos seker ‘n fortuin; geen wonder die hotelhanddoekies is so eina-klein nie! Vroegaand se cicchetti word geniet by Cantina vino Schiavi naby Travaso. Skuins oorkant is die bouwerf waar gondolas herstel word. Dié vakmanne is oorspronklik van Switzerland af, wat die Switserse boustyl en ritse malvas in dié area verklaar. Die aantreklike kroegman skink nog ‘n spritz – baie bekostigbaar teen minder as R18. Net more koop ek ‘n bottel oranje Aperol om saam huis toe te neem. Die hengse ent terug hotel toe lê ek gemaklik af, mela (appel) gelato in die hand. More is my laaste dag in Venezia... Deel 14 - Kaapstad Vernuwing is nie ‘n nuwe begrip in my woordeboek nie. Inteendeel, ek het myself pal gedurende die afgelope dekade opnuut probeer vernuwe; doelwitte gestel; ge-‘detox’; nuwe projekte aangepak; reggepak en weer weggepak – alles net kulkunsies in my stryd. My sielkundige noem dat as mens angstig is, dan beplan en be-‘lys’ jy jou lewe vir ‘n vale om struktuur aan die onbekende te gee. Ek het ook eers in die laaste paar jare, en dan slegs met uitsondering, erken dat ek swaar dra aan my juk. Meestal vrolik voorgekom en ander, maar eintlik mýself, probeer flous. 01 November 2001 Dis November, die tweede laaste maand van die jaar! En ek is 100% gereed vir 'n nuwe Carla! Vandag is my eerste dag van vryheid... Vry om myself te wees; vry om dinge te doen waarvan ek REGTIG hou; vry om my nuwe kruie te kweek; om hard te lag; om te hardloop - self in die huis as ek regtig wil; vry om meer as manlief te eet as ek wil en kan; vry om baie energie te hê en alles wat ek doen te geniet! Ek lees die mees ongelooflikste boek wat Christel vir my gegee het: "Miss Garnet's Angel" deur Sally Vickers. Miss Garnet is 'n Engelse oujongnooi en afgetrede onderwyseres wat vir ses maande Venesië besoek. Sy is baie eng, presies, kuis en ondersteun die kommunistiese en ateïstiese leringe. Dan beland sy in 'n wêreld van katedrale, engele, kerke, pleine, water, lug, kuns en drome...  Sy word gekonfronteer met die Bybel, fabels en legendes, alkohol (deel van die Italianers se kultuur!) asook interessante karakters en gebeure. En wat doen sy? Sy gee haarself geleidelik geheel-en-al oor aan 'n nuwe self...  En dit is so in pas met my. Ek is doodreg vir 'n nuwe Carla. Die ware Carla. Wat maar kan lag EN kwaad word, wat haarself liefhet en weet dat sy slegs vir ander 'n bate kan wees as sy eers na haar self kyk en haarself bederf...   25 Januarie 2006
Winde van Verandering
Woeste winde waai die Kapenaars wild en wakker. Deksels man, as eks-Vaalie het ek na sewe jaar nog steeds nie geakklimatiseer nie. As die wind in Gauteng waai, dan pak die wolke saam en dit reën – met die uitsondering van die Augustus-winde. Maar nee, hier waai die wind vir ‘n vale – blykbaar vir geen ander rede behalwe as om ‘n ergernis te wees nie. Tuis kan jy nie die voordeur en agterdeur gelyktydig oopmaak nie, of anders klap die deure die kosyne uit die rame. En buite waai die wind sommer jou rok oor jou kop. Ons plaaslike bergie het gisteraand ‘n aanskouing gehad van my hele agterstewe met ‘g-string’ en al. Skaamteloos gestaar. Maar saam met die winde van verandering, kry mens sommer lus om self ook huis/ kop/ maag/ siel skoon te waai. Gou tjoef-tjaf na werk al daardie opgegaarde strokies te sorteer. Of daardie lastige herstelwerk aan die klere aan te vat, of dalk daardie 3 dae ‘detox’ te begin. Hier is ‘n kits-‘detox’ wat wonderlike resultate lewer - selfs die wit van jou oë is witter aan die einde:

KITS ‘DETOX’
Dag 1 Vas – drink slegs water of swart rooibostee.
Dag 2 en Dag 3
Eet soveel appels as wat jy wil, stronk en al. Drink baie water asook rooibostee as jy wil. Vul ‘n wynglas met ‘n stywe skeut lemoensap asook olyfolie en drink dit teen slapenstyd op die derde aand.
Salute! Maar ‘detox’ liewer oor ‘n naweek, sodat jy kan rus. Lekker wilde Woensdag!