Die bultende are in sy nek en die gedetailleerde hande en voete, vertel ’n verhaal van meesterlike vakmanskap. Die half-gebeitelde beelde in die nabye omtrek vertoon die talent en arbeid benodig om só ’n seepgladde, momentale kunswerk te skep. Wie sou ooit kon droom dat Dawid in die massiewe blok marmer sou skuil? Ek herroep Michelangelo se woorde: “Genialiteit is bloot net eindelose geduld”. Vroeër het ek diesélfde befaamde kunstenaar se brons deure, met die tema “Poorte van die Paradys”, by die agthoekige basilika neffens die Duomo bewonder. By die Piazzale Michelangelo, ’n verhewe benaming vir ’n parkeerterrein bo die rooi dakke van Firenze, bekyk ek later ’n brons replika van die Dawid standbeeld. Ten minste kan ek sy sitvlak en ‘jy-weet-wat’ nou skaamteloos betrag! Daarna klim ek die steil trappe teen die heuwel agter die beeld uit – dit lei na ’n abdy en die San Miniato al Monte–kerk wat reeds in 1009 gevestig is! ’n Monnikekoor verlei my en ek verluister my aan die sagte, skone klanke. Dan begin my keel roep en ek keer terug stad toe vir ’n aperitivo op die sentrale Piazza Repubblica. Janine het gister huis toe vertrek, en in Italiaans vra ek vir ’n tafel vir een persoon: “Un tavolo per uno, per favore”. Die elegant gegarneerde spritz moes my reeds gewaarsku het dat dié plesiertjie ’n aardige bedraggie gaan kos. Of anders moes ek dit geraai het toe ek opmerk dat al die kelners in room das-en-baadjies geklee is. Maar nee, ek teug aan die strooitjie, eet die appelliefie vanuit die blaarskede, lig die framboos vanuit die bodem van die glas en knibbel aan al die bykomstige versnaperinge. Eat Pray Love Die rekening, wat ek teen dié tyd al mooi vlot in Italiaans kan vra, is astronomies. Ek glimlag bedees, dok op en verkas – geen aandete vir my vanaand nie! Tydens my passegiata, of te wel, stap na ete, merk ek ’n plakkaat van Mangia Prega Ama (Eat Pray Love)by ’n fliekteater op en stap terstond binne. Die duur fliekkaartjie laat my wonder of aandete nie dalk wél goedkoper sou gewees het nie ... Ek vergaap my aan die pas bekende Italiaanse tonele en geluide in die film: die irriterende geloei van die oranje-geel ambulanse; bakkies romerige gelato; die alomteenwoordige, luide kerkklokke; klein koppies caffè. Die fliek is in Italiaans – en boonop verskriklik vinnig en vlot. Later sou ek in my gidsboek lees dat die Italiaanse oorklankingsbedryf ’n reuse industrie is. Ek verstaan omtrent nie ’n dooie duit van die dialoog nie, my fraseboek ten spyt. Gelukkig is ek bekend met die soortnamige boek Eat Pray Love, en kan ek meestal saam met die Italianers skater en grens. En ek voel taamlik tuis, veral toe daar ’n pouse in die middel van die film is en ’n man verskyn met ’n skinkbord eetgoed te koop, pure inryteaterstyl! Self-vergifnis is die moeilikste Effe melancholies stap ek later hotel toe: ek glo dat God my vergewe het vir my egskeidingsbesluit; op my beurt het ek weer my eksman vergewe vir al die verlore jare. Maar ek besef, net soos Liz by die ashram in die fliek, dat ek mýself nog nie vergewe het nie...
Ek koop ek ’n duo gelato (twee skeppies roomys) as troos; waatlemoengeur asook stroopsoet meringue. Geen wonder Firenze ruik soet nie – daar is ’n gelateria op elke hoek! Die verligte vertoonvensters hou my geselskap op pad terug. Digby my hotel sypel soete Bach-klanke vanuit ’n vyftiende-eeuse kerk en ek gaan binne en sit en luister; my siel opnuut gelaaf met Italiaanse skoonheid. Daardie nag verval ek in ’n diepe slaap terwyl die reën weer swaar uitsak oor die stad van Dawid. Deel 9 - Kaapstad
Ek gaan grawe weer in my dagboek, blog en joernale, op soek na fragmente van myself, my wáre storie. Al wat ek vind is leë verhale besaai met eindelose aktiwiteite; die lewenstempo freneties. Dalk selfs vals? Die sagte reën in Florence herinner sterk aan die Kaapse winters. 25 June 2007 Hart van die Winter Sedert Saterdagoggend vou die Kaapse winter soos ’n grys wolkombers styf om die stad. Ons is gehul in ’n dons wolkkokon en ons gee onsself willoos oor aan die skemer sagtheid in die skoot van die reën. Ja, ons verlustig ons in die kilte van die hemel en vergader rondom die vuurherd. Ons verkwik ons liggaam en siel met nektar van die gode en skink glase robynrooi wyn; warm brood word gebreek en saam met stomende kommetjies sop aangegee. Die aroma van gebakte appels en kaneel regverdig tweede porsies, en rooibostee verwarm ons hande en harte. Sowaar, dis winter in die Kaap... Teen dié tyd het my eksman al fisies goed herstel ná die beroerte. Psigies in ’n mindere mate. Met ’n druk werk-en sosiale program, verdoesel ek my eie geestelike stryd. Die alewige fasade is die spieël wat ek aan ander, maar veral aan myself, voorhou. Nie dat ek myself herken nie. Ons is wel deel van ’n wonderlike, ondersteunende selgroep en kerk van 2005 tot 2010. Aangepor deur die talle kerke in Firenze, klim my gedagtes die kliptrappe op na die Moederkerk in Adderleystraat, Kaapstad: 25 Desember 2008 Kersfees Kyk, ek was smoorkwaad. Dit was reeds na nege, en manlief was steeds op die sypaadjie, besig om sy skoenveters vas te knoop. Vir wat dan so stadig? En kon hy nie maar wag totdat ons sit nie? Die kerkdiens was nog nie amptelik geopen nie, maar vanuit die kerkdeur kon ek reeds die dominee se welluidende stem hoor. En toe ons oplaas deur die eeue oue kosyne tree, word ons begroet deur ’n see van kerkgangers in houtkompartemente. Het Hermann Schutte reeds in 1836 beplan dat die hele gemeente van die Groote Kerk ingehok sou word deur houtafskortings tussen elke kerkbank? Naarstigtelik soek ons na ’n sitplekkie, en ’n diaken snel ons te hulp en swaai ’n deur in die midlyf-houtdoolhof oop. Later, ná die kerkdiens, val manlief homself amper disnis as hy weer vanuit ons houtkampie tree en homself misgis met die trappie. Die Grote Kerk Kersfees 2008. En ons sit swetend in die Moederkerk, en sing behaaglik aan melodieuse Kersliedere. Ons verdiep ons in Ds. Botes se Kersboodskap en verkyk onsself aan die paar houtgekerfde leeus met die hout kansel op hul skouers. Die Anton Anreith kansel-kunswerk dateer vanuit 1789. Die blaasorkes en manjifieke orrelspel op die groteske pyporrel vuur die Kersfeesvieringe tot musikale hoogtes. Ons voel-voel met ons skoene se punte aan die gebeitelde datums in die vloerklip, en bewonder later die kleurlegkaarte van die glas vensters, die outydse muurgeskrifte en die grafstene van die begraafdes onder die kerk. Imposant is die Kaaps-Gotiese Groote Kerk in Adderley straat sowaar. Blye nuus met Kersfees tyd Luilekker ontspan ons die res van die middag saam met die Woods-gesin. Die selgroeplede is die naaste aan bloedfamilie – maar is ons nie almal in Christus familie nie? Oondgebakte lamsribbetjie, ’n keur van helder plaasgroente en bros aartappels voltooi die spyskaart. Vir ’n verandering het ek nie ’n vinger gelig nie, behalwe vir die bak Griekse slaai. Later volg raai-raai speletjies om die tafel en ryk Kerspoeding met geel vla. Peuter Gary plas in die poel, sy oupa vertoon snaakse films en Christine rus hoogswanger op die stoep. Ons eet sagte kaas en soet groenvye en deel geskenke uit. Ons is dankbaar vir die Woods’e se gasvryheid, vir familie en vriende se omgee, en God geskenk - Jesus. Ons kom amper donker eers tuis, net betyds om ons eie huis se kersliggies weer te laat flikker. En op die oggend van die 26ste ontvang ons die goeie nuus – die Woods’e se babaseuntjie is dié oggend vroeg gebore!