Die grootste vergadersaal van historiese Europa kom hier voor – oordadig, glansryk en vreeslik swierig. Ek stap saam met die stringe toeriste oor die ‘Brug van Sugte’ vanwaar gevangenes vir oulaas die see (en vryheid) kon sien. Ek luier op die brug – van buite is dit verskans met enorme reklame-materiaal. Van binne is dit eenvoudig met blote sement wat bekoor. Oornag het die gety opgestoot en St. Markus se piazza is nou oorspoel. Orals staan toeriste tou op stapels bankies. Reën drup-drup en ek misgis myself en beland met my linkervoet gedeeltelik in die water. Dêmmit, nou moet ek heeldag met die nat tekkie rond-slomp. Ek sit af na die Billa-supermark om 20 plakke sjokolade te gaan koop. Dis nou vir geskenke tuis. Ook pasta-meel, ansjovis en ‘n bottel Aperol – die hoofbestanddeel van spritz. Laasgenoemde is natuurlik vir myself. Vandag is my laaste dag in Italia en ek wil vir oulaas my siel voed met kuns en skoonheid – en natuurlik my maag met spys en drank. Uit die aard van die saak is my geleende reistas nou te klein en ek koop nog ‘n reissak vir al die nuut-verworwe geskenke. Ook ringe, serpe asook Italiaanse koerante vir Elize en Kiara - wat beide Italiaans bestudeer. Ek besoek weer my gunsteling campo St. Margherita: eers drink ek ‘n spritz by ‘n fraaie trattoria en knibbel later aan ‘n krakerige pizza-skyf. Ek verkyk my aan die plaaslikes wat ware vervoer in inkopiesakke op wiele asook honde in reënjasse en kinders wat baljaar. Tussendeur sit ek met my voete in die son en probeer my sokkie en skoen droog kry. Campo St. Maria Formoza, waar ek eergister die gesinne betrag het, is waar ek Venezia vaarwel toeroep ná vier dae. Italia is amper geskiedenis. Ciao Italia! Ek tel my tasse op, groet Lucky-dier en die hoteleienaar en neem ‘n vaporetti stasie toe. Op pad gewaar ek ‘n boot-weergawe van die loeiende Italiaanse oranje-en-geel ambulanse. Kan jy glo! Ek bestyg die oornagtrein en my Billa-padkos word spoedig geniet voordat van my reisgenote arriveer - ‘n paartjie vanaf Brasilië. Hulle is vriendelik en ons voel sommer gou soos huisvriende. Hulle help om die kompartement en die bagasie te orden en ons sitplekke te omskep in beddens; ons is nou in kahoets. Die ander reisigers arriveer by latere stasies: eers ‘n stug, konserwatiewe paartjie van Sirië en dan later ‘n vrou van Nigerië met haar twee-jarige in gelid. Nagrus waai oombliklik by die venster uit. Ten spyte van die gebrek aan vars lug en stilte, probeer ek slaap, my handsak dien as kussing. Pikdonkernag word ons opgeklop deur wat klink soos die Gestapo. Militêre manne hamer met hul knuppels teen die deur. Ons sluit oop en ek is dankbaar vir die vars lug. Name en gesigte word staccato-skerp vergelyk met paspoorte; mens sou sweer ons is op ‘n blerrie parade. En natuurlik word daar met die Nigeriër fout gevind. Agterna mor sy vir ure oor die diskriminasie. Ek neem haar nie kwalik nie. Die beddens is hard, die kompartement klein en bedompig en die arme kleintjie kermend. Blykbaar is daar slegs ‘n nagtrein tussen Venesië en Parys, en die trein is hoeka oorvol bespreek. Kan jy glo – party passasiers het nie eers ‘n kompartement met ‘n bed nie!

Dié treinrit is die laagtepunt van my vakansie, maar ek verdra dit, want sóver het alles met God se genade nog nét voor die wind verloop.

Toe die daglig deur die treinblindings begin sypel, gaan borsel ek my tande, en skud ek my vere reg vir Parys. Deel 15 Kaapstad
02 Januarie 2011. Ek het ‘n fees van ‘n middagete genuttig by Brad en Anree in hul Noordhoek-tuiste – dié is vol van vakansie-gevoel. En hulle praat ernstig met my oor diep sake. Brad voel dat ek, in terugskoue, iets edel uitgerig het deur die afgelope agt, nege jaar van my lewe aan my huwelik en my eksman te wy. Daardeur het ek ‘n daadwerklike verskil in my eksman, sy ma en sy kinders se lewens gemaak. Anree herinner my op háár beurt dat ek en my eksman wel goeie tye saam beleef het – alhoewel ek dit nie self kan herroep nie. Sy herinner my hoe ek en hy eens die gees van menige party was; hoe liefderik ons met mekaar was. Sy meen dat ek destyds nié die verkeerde lewenskeuse gemaak het nie; dat ons wel vir mekaar bedoel was. Die noodlot het ongelukkig ‘n beduidende rol gespeel. 21 November 2005 Soet & Bitter  Regte egte esdoringstroop, getap van die boom met die pragtige blaar. Ons is Sondagoggend getrakteer met ontbyt deur Anree-vriendin en Brad – hy is afkomstig van Kanada. “The President’s Choice Maple Syrup” het ons mildelik oor die malse palet van bloubessies, aarbeie en frambose gesprinkel. Heerlik soet was die stroop oor die bros spek en Franse braaibrood.Ai, dit was ‘n lekker bederf om rustig te kuier met hulle en pragtige baba Luca, in hul sonverligte tuiste.   Die res van die rusdag is verwyl met, wel ... rus! Rustige lees van die koerant; ‘n urelange middagslapie en die lees van amper ‘n hele boek – “Map for Lost Lovers” deur Nadeem Aslam. ‘n Beskrywende verhaal van ‘n Pakistani familie in Brittanje - die intriges van ongeoorloofde liefde verweef met wraak, geset in ‘n kultuur ryk met geur en kleur. Skokkend maar menslik, ryk aan lewensdramas asook beskrywings van bome, plante, blomme, motte en voëls. Die einde... bittersoet. Die somber treinrit in die nag, laat my dink aan ánder donker tye. Tog is daar wel soet oomblikke, waar ek kan asem skep en teug aan die lewe.
18 April 18 2006 Asemteug  Ek lewe en haal asem, diep asem. Ons Paasnaweek was rustig en belaai met geestelike pitkos. Ons sosiale lewe het drasties afgeskaal en is amper so beperk soos ons huidige begroting. Ons naweke word gekenmerk met hardloop in Nuweland se bos en tee op die stoeptrappe, terwyl Nina-kat haarself in die tuin vermaak. Ons beleef en neem in teen ons eie, bedaarde tempo. Spokie is vandag vir 'n volle maand vermis. Maar die strelitzia het drie knoppe, die vetplante blom, die varkore se nuwe blare sprei groen uit. Groei, lewe en dan ook afstand en die dood.