Herinneringe aan ‘n vakansie kan so maklik vervaag. Maar tog bly die geur van vars gebakte pizza en die kronkelstraatjies van Venezia my duidelik by. Ditto vir die soet gelato en bruin skakerings van Bologna ... En ek herroep ewe helder die Italiaanse musiek op die piazza saam met Janine langs die see in Vernazza - groot glase oranje spritz in die die hand. In Italië kon ek myself letterlik verdrink in belewinge. En ek kan steeds die herinneringe met helderheid uitpak en opvryf en myself stil-stil daarin verdiep.

En, soos ek myself op pad huis toe in Turkeye belowe het, ek is daadwerklik ‘n vernuwe mens. My nuwe, vloeiende klere in roomyskleure getuig daarvan. So ook my vasberade pogings om my eie perke en grense te stel. Saans drink ek uithalerwyn en ek toor met olyfolie en tamaties in die kombuis, nes ek en Janine in Toskane by die kookkursus geleer het. Ek het my beste handdoeke en linne uitgepak en ek wend my parfuum, gekoop by die eksklusiewe Printemps-inkopiesentrum in Parys, elke oggend kwistig aan. Soos ek terugkyk na die skryfproses van Eat Pray Love.Ditto, was dit erg traumaties maar terselfdertyd ook uiters terapeuties vir my om in die verlede te gaan delf en ou briewe, drome en skrywes op te diep en hier op sarie.com daaroor te berig. Ek het my nooit kon indink dat ek soveel trane sou stort oor my verspeelde seisoene nie. My verhaal is beslis nie uniek nie; élkeen van ons het ‘n storie om te vertel. My sielkundige beaam dat mens die verlede moet eerbiedig en respekteer, en jouself gerus kan herinner hoe jy nie in die toekoms moet optree nie... Tuur mens terug, die verlede in, beslaan die hoog-en-laagtepunte soms ‘n volle biografie; soms net ‘n kort, stom begrafnisbrief óf dalk ‘n lang meesleurende boek of draaiboek, soos met Elizabeth Gilbert se boek Eat Pray Love.

Ek kom tot die slotsom, nadat ek weer na die film in Suid Afrika gekyk het, dat ek myself wel vergewe het vir beide my egskeiding én die feit dat ek myself so min na waarde geskat het die afgelope dekade. Ook begin ek weer om in die liefde te glo. My kop is lig, my oorvol hart is besig om stadig weer haar ritme te vind en warm Afrikaners-lewensbloed te pomp.

My dierbare moeder het in die donkerste tye van die afgelope paar jaar vir my die metafoor gegee waar ‘n afgebrande veld agter my lê en ek nou die sagte, groen lente binne-wandel. Ja, ek struikel soms in die afgebrande veldpaadjies van my ou self, maar ek betree elke dag opnuut ‘n nuwe seisoen en stap die toekoms met oop arms tegemoet: groen weivelde met waters waar daar rus is, vol van God se liefde en genade.