Dag 6 – Certaldo

Maar reis op sigself verskaf goeie oefening – daarom ’n geldige rede vir ’n heilsame ontbyt. Die dag se donker bui tem die stemming aan die ontbyttafel aansienlik – die Amerikaanse toeriste blyk meer beleefd en besadig te wees vandag. Of is ek en Janine dalk net meer verdraagsaam? Nietemin, ná die ontbytkuier, neem ons afskeid van Ada en die albergo teen die berg. Bedrewe pak ons die uittog afwaarts aan – minstens weet ons wat ons voorland is. Ons bereik die stasie ongedeerd en is verlig om weer ons tasse te kan sleep. Oefening, dié kry ons gewis! Certaldo se piazza is nou stampvol gepak met skuitjies; die see ’n ontstuimige stoompot. Ciao,Vernazza! Ons ontmoet Suid-Afrikaners van Hermanus op die trein – allamapstieks, maar dit ís ’n klein wêreld dié. Ons koukus in Afrikaans oor die irriterende toeriste wat so volop is hier teen die kus... En ja, ek weet, ons word sélf ook as toeriste geklassifiseer! Dit is net dat ons waarlik die Italiaanse kultuur probeer indrink en probeer saamsmelt met die plaaslike inwoners. Ons klim oor op ’n ander trein in La Spezia en dan later weer in Empoli. Terwyl TrenItalia voortsnel deur Toskane, lig die miswolke en ons arriveer in Certaldo in helder sonskynweer. Buongiorno, Certaldo! Ciao, miserabele oggend! Certaldo is ’n klein dorpie met etlike haarkapperye en blomwinkels – ons glimlag as ons onsself voorstel dat al die inwonende signores mooie kapsels én fraaie ruikers tuis het. Ons gewaar ook ’n gelateria of twee – en natuurlik beproef ek weer die roomysgeure in dié dorp... Dan skaf ons proviand aan vir ons aandete en word verras deur die wyse kasregister van die Coop-winkel. Die gerekenariseerde gedoente weeg al jou inkopies en dan skandeer jy self al die items, waarna die masjien weer jou ware weeg. Sodra jy klaar betaal het, mag jy die ware inpak; dan moet jy jou betaalstrokie toon by die hek voordat dit outomaties oopswaai. En dit nogal in ’n klein dorpie in die middel van nêrens! Ons word opgelaai deur die arrogante Australiaanse bestuurder van ons Toskaanse albergo. Vandag lewer omtrent ’n volle kwota van ergerlike uitlanders op! Die hotel herinner sterk aan ’n museum. Trouens, dit was eeue gelede ’n monnikswoning. Ons kamer is kolossaal en met antieke meubels versier. Binne dié dik mure het sekerlik vele tirades en tragedies afgespeel... Daardie aand dek ons die tafel op die groot stoep en sit aan by ’n feesmaal van pomodori (tamaties), Toskaanse pane (brood) – tipies met geen sout, ’n volle bottel ansjovis wat spotgoedkoop was, romerige wit kaas, groen olywe, prosciutto crudo (parmaham), parmagiano reggiano-kaas en vino rosso (rooiwyn). Janine skink glasies limoncello vir poeding. Deur die soet slukkies en diep gesels, smul ’n magdom muskiete op hul beurt aan óns. Ons slaap sleg in ons museumsaal met zoemende insekte as agtergrondmusiek. Noodgedwonge koop ons die volgende dag rookspirale om die goed te verwilder. Probeer jouself indink hoe ek aan die winkelassistente moes beduie en verduidelik wat muskietweerder in Italiano is! Maar meer daaroor later.

Deel 6 – Kaapstad

My dagboekinskrywing in Mei 2004: Ek was vir ’n volle twee maande in Johannesburg werksaam by Penguin Films, wat ’n fees! Gereelde kontak met my vriende en familie plus géén huishoudelike verpligtinge nie. Ek kon leef en vry wees en werk en lag. Ek het by Janine en haar man tuisgegaan en het dit vreeslik geniet. Tans is ek weer terug in die Kaap, my ma het kom kuier en ons was almal saam by die KKNK. Dankie die Vader ook dat manlief se fabriek taamlik bedrywig is. Die lewe is nie altyd ’n lied nie, maar tans oorleef ons. Dankie, Here! Alhoewel ver van my familie en getroue universiteitsvriende, behou ek gereelde kontak deur my nuusbriewe. Ek glo en hoop waarlik dat ek my man se beroerte oorleef het. Ditto vir die gepaardgaande finansiële uitdagings. En gepraat van rande en sente, met God se genade het ons ’n skakelhuisie aangeskaf. Die trek self was erg traumaties; my eksman het geglo dat hy die minimum kon vermag. Dus het hy die minimum verrig. Hy begin ook om sy drome, ideale en selfs sy gevoelens op my te verplaas. En dan raak hy kwaad as ek geen van sy voorstelle of idees wil uitvoer nie. Ek kan nie meer sy aanhoudende gekielie/geknyp/gevryf en uitlokking van my emosies verdra nie. Met groot vreugde verwelkom ek ’n huweliksterapeut in ons midde. 11 Oktober 2004  Ek het Sondag Southern Cross klaar gelees. Dié boek uit eie bodem speel meestal op die Hoëveld af: bleek wintervelde, namiddag-donderstorms, Melville se restaurante, rooi lugbesoedelde sonsondergange. Ek het omtrént na my vriende in die ou Transvaal verlang... Ons was laas naweek by ’n spesiale ete: die vooraand van ’n kollega se vertrek na Mekka. Vier Christene tussen die amper 200 gaste in ’n piepklein huisie in die gangster-land van Bonteheuwel. Die kerriekos het in 100-liter potte opgedaag! Die volgende oggend het ek om 07h00 opgestaan om botterbroodjies te bak vir vriendin Marlene se baba se doop. Ná die seremonie het ek en manlief tee help skink in die kerksaal. Ons was net betyds tuis vir my skoonma se kuier; oorskietkoek van die Moslems én Christene is bedien. Maandag het ek poegaai by die werk opgedaag. Ons het ’n ses weke lange kursus, genaamd “The God Sessions” begin bywoon, en ek verwelkom die geestelike voeding; aardse spys en drank word darem ook saam bedien. Gepraat van eet – ek was die afgelope Saterdag in die Paarl vir middagete om my motiveringstoespraak vir volgende week te finaliseer. So kuier en eet ek ’n hond uit die bos uit en ek stap, of eerder drafstap, eers om 16h00 by die Kubaanse restaurant uit, want ek verwag ’n dosyn gaste vir ons eerste behoorlike braai by ons nuwe huis. Plus, ek moet nog al die inkopies gaan doen! Holderstebolder strompel ek om halfses by die huis in en ’n uur later daag die eerste gaste op. Ek kook onverstoord in die kombuis, en delegeer tafeldek, blomme rangskik, skottelgoed was en selfs die maak van Tia se poeding aan die vrinne. Tia se resep: Pak ’n laag Nuttikrust-koekies op die bodem van ’n bak. Klop ’n blikkie gekookte kondensmelk en giet bo-oor; daarná lepelsvol vanielje-roomys – moenie skaam wees nie. Laastens word ment-sjokolade mildelik bo-oor gerasper. Vries die poeding totdat dit tyd is vir nagereg. Sondag het ons laat geslaap en die hele dag lank in die bed gebly. Kyk, ek beplan dit nou al vir ’n hele week lank. Ons het Coke en tjoklits vir ontbyt geëet, toe gelees en geslaap en later braaivleis geniet – sommer so in die bed. Teen sononder het ons die moeë lywe sitkamer toe gesleep om bakkies poeding te verorber. Agtuur was ons weer terug in die bed om boek te lees. Ten minste het ek dié keer uitgerus by die werk aangekom...
Aandete! Agterstoep
Basseto-1 Basseto
Fattoria Bassetto Biblioteek
Certaldo piazza Certaldo Stazione
In die donker kamer was 'n donker kas Janine en Aandete
Limoncello op die stoep Museumgang
Museumkamer Toskaanse bord