Voor ’n groot huis staan ’n man, ongeveer my ouderdom, en werk aan sy visdam. Toe ek met die afkom weer daar verbykom, staan hy nog en skep rooi vissies met ’n net uit.

Hy kyk op en groet. Ek vra uit oor die visse en die huis. Hy is daar gebore. Hy het uit daardie huis skoolgegaan. Hy bly sy lewe lank al daar. “Ek is lief vir die plek,” verduidelik hy. “Dis asof ek en my ou huis met mekaar gesels. Ons het elkeen ons buie, maar ons buie pas bymekaar.”

Ek kon nie saamgesels nie. Het al op te veel plekke gebly. Elke keer voor ek ’n huis se voordeur finaal agter my toetrek, nadat die meubelvervoerwa weg is, het ek eers deur elke vertrek gestap om te onthou. En dan was dit vort na die volgende woonplek.

Piet Cillié, befaamde redakteur van Die Burger, het 63 jaar in sy huis in Buxtonlaan, Oranjezicht, gewoon. Ton Vosloo en Rykie van Reenen het my eenmaal gepols dat ek met Piet-hulle moet praat om na ’n oord te trek, gedagtig aan versorging. Hy sou glo na mý luister. Ek is toe soontoe en het ewe taktvol gepraat oor “minder moeite”, ensovoorts. Toe ek klaar is, het Piet my kop só behoorlik gewas dat my ore nou nog tuit. Toe ek na my kar loop, roep hy my agterna: “En sê dit sommer vir die ander wat jou gestuur het ook!”

Piet en sy vrou, Bettie, is albei stil in hul huis oorlede en ek het elkeen begrawe. Ná Piet se dood het ek sommer as deel van die rou sy telefoonnommer geskakel. Dit het gelui en gelui. En ek het geweet my ou mentor sou nooit weer daar antwoord nie.

Hier in Johannesburg, lyk dit my, bly mense meestal nie lank in ’n huis nie. Ek verwonder my gedurig aan die “Te koop”- en “Verkoop”-bordjies in my buurt. In ons kolletjie sal dit eersdaags nog net ek en die bure oorkant die straat wees wat oor is. Ek snak ook na my asem as ek hoor teen watter pryse huise verhandel word.

Maar een huis jou lewe lank ... Dit moet seker ’n voorreg wees, daardie gebondenheid aan een adres. Ek verbeel my jy sal al die reuke en geure ken, al die krake van die dak wanneer die wind waai, al die plekkies wat barsies maak, al die huis se “buie” (want ’n huis het inderdaad buie, soos die man teen Tafelberg se skuinste beduie het), al die goeters wat nukke het om te breek, al die plantjies wat hulself saai en jaar na jaar weer opkom.

Ek glo al die stemme van die verlede is daar vasgevang, jou ma en pa s’n, jou broers en susters s’n, kuiergaste wat gekom en gegaan het - iets van hulle, dalk net ’n sweem van ’n gedagte bly daar agter. Natuurlik jou vrou of man s’n, jou kinders s’n, dalk jou kleinkinders s’n. Dalk is daar iets van klank in die mure vasgevang: woorde van liefde, en ook woorde van ergernis. Dalk nestel ou herinneringe in die vloere en muurpleister, vriendelike spoke van mooi dae en selfs donker dae wat weer lig geword het. Jy kan met dit alles bly saamleef. Die dinge van die aarde is juis aangrypend kosbaar omdat dit verbygaan.

Ek bly nou vyftien jaar hier, vreemd vir ’n Bolander in Johannesburg. Soms verbeel ek my ek ken hierdie huis al baie lank, dat die huis my “verstaan”. Die kern van die gebou is immers oud. Die rede dat ek hier aanhou bly, is miskien in hierdie huis iewers, iets wat my vashou. En partykeer vervies die plek my, en ek seker die plek.

Jesus het ook net sy ouerhuis geken en toe die pad gevat om te begin preek en hier en daar gekuier. Daar is tye dat ek my verbeel dat Hy hier by my kom sit vir ’n kuier. Of dalk is dit meer as verbeelding, iets van ’n aanvoeling, ’n wete. Dalk bly Hy nog altyd hier. Dalk trek Hy ook saam met jou en my.

Hy doen dit, ja. Hy dóén dit.