Dit was my eerste, onwaardige reaksie toe ek hoor dat vliegtuigkaartjies dalk binnekort met amptelike waarskuwings verkoop sal word, soos sigarette. Want blykbaar is die skade wat rook aan jou lyf aanrig niks in vergelyking met die skade wat vlieg aan ons planeet doen nie.

Ja, goed, oukei, natuurlik het ek al gehoor van koolstofdioksied en ander gevaarlike gasse, en die groeiende bewyse dat die aarde besig is om soos ’n sukkelende kar te oorverhit. Ons kan blykbaar nie meer die kar in trurat gooi nie, daarvoor is dit klaar te laat, maar ons kan darem nog briek trap vir al wat ons werd is om te keer dat alles nie té vinnig afdraand loop nie. En ek is g’n filistyn nie, glo my, ek herwin en bespaar deesdae met oorgawe.

Agter die deur in my (beknopte) kombuis staan daar byvoorbeeld niks minder nie as vyf houers waarin ons gesin se rommel gerangskik word. Een vir papier, ’n ander vir plastiek, nog een vir glas, ensovoorts. Dit vat baie plek en kos baie moeite, want leë blikke moet uitgespoel word anders lok dit vlieë, en melkkartonne moet platgedruk en glashouers se deksels moet afgehaal word - en soms, moet ek bieg, verlang ek nogal na die dae toe ek sommer alles saam in dieselfde stinkende ou vullisdrom kon druk.

Sonder om ’n sekonde skuldig te voel.

Maar elke keer as ek my oë wil toeknyp en maak of ek nie van beter weet nie, is dit of ek my toekomstige agterkleinkinders in ’n soort Griekse koor hoor kerm. (Nee, ek dink nie hulle gaan almal met Grieke trou nie, ek bedoel soos in ’n antieke Griekse tragedie.) En wat van ons? Watse soort wêreld wil julle vir ons los? En dan voel ek onmiddellik so verdomp skuldig dat ek maar weer gedwee sorteer en herwin en probeer om petrol en papier en elektrisiteit en water en wie weet wat nog alles te bespaar.

Vyftien jaar gelede het ek, spottend, in ’n roman gekla: “Wat bly oor om die lewe die moeite werd te maak? Sigarette gee jou longkanker, dagga maak jou dom, koffie gee jou hartaanvalle, sjokolade maak jou vet, sonskyn gee jou velkanker, alkohol maak jou lewer klaar, geld gee jou slaaplose nagte, grimering maak die feministe kwaad, swangerskap gee jou spatare, politiek maak jou moedeloos en seks gee jou aids.”

Intussen het die lys van skadelike dinge en dade, helaas, heelwat langer geword.

Al hoe meer voorheen onskuldige aksies - soos om ’n entjie te gaan ry in jou kar, sommer net vir die sommer, of iewers heen te vlieg vir plig of plesier - word as gevaarlik beskou. En boonop nie net gevaarlik vir jou eie lyf en siel nie - daarmee sou jy nog kon vrede maak - maar gevaarlik vir die voortbestaan van die ganse mensdom!

Dis genoeg om mens te laat wegsink in ’n moeras van skuld en gewetenswroeging. Maar ek is keelvol vir skuld. (Ek wou ’n sterker woord gebruik wat met ’n ander deel van die anatomie te doen het, maar SARIE is ’n ordentlike vrouetydskrif, daarom sal ek nie laer sak as die keel nie.) Skuld is ’n verlammende, negatiewe emosie - en wat ons nou nodig het, is positiewe aksie. Ons weet almal ’n reis van ’n duisend myl begin met ’n enkele tree. Ons kan almal meer stap en minder ry, ligte afskakel wanneer ons ’n vertrek verlaat, vars plaaslike produkte eet pleks van kos wat in plastiek verpak en vreeslik ver vervoer is.

Maar ons gaan vermoedelik almal aanhou vlieg, want ons geliefdes woon deesdae in al die windrigtings van die wêreld. Ek het ’n sus in Amerika, ’n niggie in Mexiko, ’n tante in Aboe Dhabi (Verenigde Arabiese Emirate) - en ’n stukkie van my hart sal altyd aan Tafelberg hang. Tot daar dus eendag ’n meer omgewingsvriendelike alternatief is - tower-besemstokke? teletransportasie? tydkapsules? - sal ek maar net moet leer om daardie nare waarskuwing op vliegtuigkaartjies te ignoreer.

Buitendien, noudat ek nie meer rook nie, mis ek nogal daardie stekie skuld wat ek jare lank gekry het elke keer as ek aspris die doodsdreigemente op ’n sigaretboksie miskyk.