Êrens tussen die flitsende kameraligte en geskarrel van mense was die oud-Beatles Paul McCartney en Ringo Starr. Bo die chaos het ’n joernalis iets gevra, waarop sir Paul geantwoord het: “Ek’s trots op my dogter!”

So drie weke gelede staan ek op ’n someraand in die New Yorkse spog-winkel Saks Fifth Avenue. Aerin Lauder (kleindogter van Estée Lauder) stel haar eie parfuum bekend. Sy kom in ’n see van fotograwe ingesweef. Haar blinkswart Lanvin-rok en lang, diepgroen malagiet-en-diamant-oorbelle skitter. Sy’s die ster van die aand.

Vir ’n oomblik is daar pandemonium. Benewens die gaste, onder wie tydskrifredakteurs van oor die wêreld, druk elke winkelbesoeker in die rigting van die toonbank waar van die Lauders (pa Ronald, ma Jo Carole, neef  William Lauder en suster Jane) op ’n spierwit tapyt staan.

New Yorkse royalty, dink ek. Die toonbank verlig meteens en vertoon rye van die nuwe glans-parfuum. Aerin glimlag, en selfs ék uit verre Suid-Afrika is aangedaan oor ’n kleindogter wat volg in die spore van haar bekende ouma.

By die skemerparty later by The Museum of Modern Art (MoMa) volg CNN se kameras die Hollywood-ster Gwyneth Paltrow soos sy tree vir tree met haar elegante Tom Ford-ontwerperkierie ingestap kom. ’n Knie-operasie het haar nie gekeer om die kortste, swart Stella McCartney-rok en ’n paar peperduur, hemelhoë Louboutin-skoene te dra nie.

Ek staar haar openlik aan. Met reguit, sonblonde hare en lang, bruin bene is sy veel mooier as wat ek gedink het. Sy’s so bruin omdat sy gek is na branderplankry, loop die storie op die partytjie.

Kort op haar hakke is die leefstyl-ghoeroe Martha Stewart, ook met ’n kierie ná ’n heupoperasie weens ’n ou joga-besering, sê sy. En dan die model Hilary Rhoda, die nuwe gesig van Estée Lauder, wat herinner aan ’n jong Brooke Shields. Haar vietse lyf verklap dat sy op skool ’n kranige sportvrou was.

Op die verhoog sê Ronald Lauder sy beste titel is: “Aerin se trotse pa.” Aerin self dra haar parfuum op aan haar ouma, wat gek was na katjiepiering en soetemaling. En later die aand sien ek haar by haar man en universiteitsliefde, die aandelemakelaar Eric Zinterhofer, en dis duidelik dat hulle ’n intieme oomblik deel.

Die aand in my hotel dink ek aan bekendes en hul vreemde lewe, en aan ons nimmereindigende belangstelling in hul doen en late. In Amerika beslaan celeb-tydskrifte ’n groot deel van die tydskrifrakke. En daar’s iets soos celebrity worship, glo ’n ernstige sielkundige probleem! Maar vir die meeste van ons, dink ek, is dit bloot nuuskierigheid oor mense wat om watter rede ook al uitstyg. Ons wonder oor ’n wêreld so ver verwyderd van ons eie, en ons soek net ’n teken dat die sterre op die ou einde ménse is.

Aerin Lauder se partytjie wás ’n blink, sjiek affêre, maar ek het tog tekens van gewone menswees raakgesien: die sterk familieband tussen die Lauders, ’n pa se trots, ’n kleindogter se bewondering vir haar ouma, ’n Hollywood-aktrise se duidelike liefde vir die see, en ’n nuwe miljoen-dollar-model wat haar arm gemaklik om nóg ’n bewonderaar se skouers slaan en vir ’n selfoon-kamera glimlag.

Geld ofte nie, bekend ofte nie, uiteindelik is ons soeke dieselfde: liefde en erkenning.

Michélle van Breda

SARIE September 2007