Sy is deesdae die eienares van Chateau Lalinde en bied ‘n tien dae ontdekkingsreis deur een van die pragtigste streke van Frankryk aan. Die reis is ontwerp is om jou bloot te stel aan die prag van die omgewing, die geskiedenis en kultuur, maar bowenal die wonderlike kos van dié streek. Boonop gaan jy tuis in haar geskiedkundige kasteel.

Chateau Lalinde Chateau Lalinde

Brigitte se kombuis. Brigitte se kombuis.

Is daar interessante plekke waarheen jy besoekers neem?

Daar is soveel plekke waarheen ek my besoekers in Dordogne neem. Daar is elke dag iets nuuts en tien dae is nooit genoeg om alles te deel nie!  Ons gaan eet ontbyt by Chateau Pecany, tuiste van Marie-France Siegler, ‘n vriendin wat die minnares was van Jacques Tati, die bekende Franse rolprentvervaardiger. Sy maak nou self films hier in die Dordogne. Sy woon in die kasteel waar sy gebore is. Oor ‘n tuisgemaakte croissant en ‘n bak stomende koffie vertel sy stories wat jou sal laat bloos, skaterlag en dalk ook bietjie huil.

Ons eet middagete by ‘n ander vriendin in haar ou klip plaashuis. Sy was vir jare die verteenwoordiger van UNESCO in Wes-Afrika. Haar kunsversameling laat jou snak na jou asem. Sy maak in ‘n japtrap iets watertand gaar op die oop vuurherd in haar kombuis.

Ons gaan kuier ook in die kombuis van die vrou wat jare lank die sjef was vir president François Mitterand en gesels oor die rolprent wat onlangs oor haar gemaak is,  terwyl sy ‘n paar van haar resepte deel en demonstreer.

Ons lê ook besoek af by die eienaar van die LaRoque  papiermeule in die dorpie tussen Lalinde en Bergerac. Die meule bestaan al honderde jare en die manier van papiermaak het niks verander nie. Die huidige eienaar maak papier en papierbord vir ‘n paar internasionale kunstenaars, asook die verpakking vir die parfuum wat sy vrou vervaardig. Die parfuum word reg oor die wêreld  uitgevoer word, maar is ook hier by ons beskikbaar. Ons gaan ons eetgerei neem na ‘n straatpartytjie waar tafels reg staan onder die sterre. Ons gaan kos kies by die stalletjies en dan gaan ons luister na die musiek en  dans tot laat.

Beynac Kasteel Beynac Kasteel

Ons gaan ons inkopies doen by ons plaaslike markie in Lalinde, terugkom na die château en ‘n sjef gaan demonstreer hoe die produkte voorberei kan word. Ons leer hoe om wyn te kies by die beste wynprodusente.

Dan is daar ‘n piekniek in Koning Richard die Leeuehart se agterplaas by Beynac-kasteel en ons gaan kyk waar Joan of Arc by die mure van sy kasteel opgeklim het (miskien was dit net in die fliek wat sy dit gedoen het!) Ons gaan luister na Bach en Mozart in ‘n klip kapelletjie. Die toer van 10 dae is volgepak met ervarings.

Vertel meer van die kos in die streek.

Lekker-eet vorm so ‘n groot deel van die alledaagse lewe in Frankryk en in die Dordogne is dit ook so. Goeie kos kan nie voorberei word sonder bestanddele van die hoogste gehalte nie en dis volop hier. Ons sit om ‘n tafel en gesels terwyl ons lekker eet. Ons praat politiek, godsdiens, kultuur, en lief en leed, maar ons  praat ook oor die kos. Ons bespreek dit wat ons eet, waar dit vandaan kom, hoe dit voorberei is, wat ons volgende maal gaan wees, waar ons dit gaan geniet. . . Soveel van ons lekker herinneringe en van ons menswees is verbind aan maaltye wat ons geniet het.  In Frankryk word hierdie verbintenis bewustelik erken. Daar’s nie so iets soos sommer in die verbygaan iets gryp en insluk nie.

Druiwe Druiwe

En die Franse is regtig bors-uitstoot trots op hul produkte. Dit geld vir hierdie streek wat so ryk is aan produkte wat sinoniem is met Franse cuisine: truffels kom van hier. ‘n Buurdorpie van Lalinde is die tuiste van die internasionale truffel-mark. Okkerneute en okkerneutolie kom van hier. Van die beste wyn in die wêreld kom van hier.  Monbazillac wyn, die ‘noble rot’ of botrytis soet wyn wat jou laat dink die engeltjies dans op jou tong as jy dit yskoud drink, se druiwe groei net op een plek en dis hier by ons.  Van die beste bokmelkkaas word hier gemaak. Die oesters van Arcachon wat ek in seisoen by my markie kan kry, is van die beste wat ek nog geëet het. En dan natuurlik, hierdie streek se belangrikste produk is foie gras – gans- en eend-lewer pate, maar voor jy oordeel, kom kyk hoe word dit werklik vervaardig.

Plaaslike produkte by die mark. Plaaslike produkte by die mark.

Omdat daar soveel vars produkte  beskikbaar is by die daaglikse boeremarkies, raak mens gou bederf met die onvergelykbare smaak. Dis soveel smaakliker en gesonder om net te eet wat plaaslik in seisoen is dat ek dit deesdae werklik moeilik vind om enige  geprosesseerde kos te eet.  In hierdie streek bestaan die konsep van ‘slow food’ al sedert die begin van tyd. Soos die grappie: “Waarom hou die Franse so van slakke?” Die antwoord:” Omdat hulle nie van ‘fast food’ hou nie!”

Een van die plekke waarheen ek my gaste neem,  is ‘n ‘ferme auberge’ – ‘n eetplek op ‘n plaas waar ten minste 75% van alles wat voorgesit word op die plaas self geproduseer is.

Maar, geen kos-ondervinding in Frankryk sal volmaak wees as dit nie ook ‘n maaltyd insluit by ‘n Michelin-ster restaurant nie. Dit het ons ook hier!

In die Mei 2014 uitgawe van SARIE vertel Wilna in die Kuberkuier meer van die Dordogne-streek.