Dit gaan só wees: Wanneer iemand sê dit sal góéd gaan met jou, sal ’n stemmetjie in my binneste antwoord: O, nee, moenie so seker wees nie. Onthou jou verlede!

Ek het nog altyd gewonder hoe mense wéét dit sal goed gaan. Dít was die een vraag wat ek my ma bly vra het. Nooit het ek ’n toets of eksamen afgelê sonder dat ek van haar ’n telefoonoproep, ’n kaartjie, ’n drukkie of ’n bossie blomme gekry het nie. Altyd was haar belofte: Dit sal góéd gaan. En dan het ek gevra: Hoe weet Ma? Haar antwoord, sonder vertwyfeling, was: Ek weet net.

Hierdie afgelope weke het dit inderdaad goed gegaan met SARIE. By die KKNK op Oudtshoorn het ons met meer lesers gesels en gekuier as enige vorige jaar. Toe wen ons goud in die ADvantage ADmag-wedstryd as die Beste Vrouetydskrif in SA vir 2007, en ’n week later raap ons 3(!) ATKV-Mediaveertjies op. Daarmee wen ons drie uit vier kategorieë vir uitmuntende tydskrif-joernalistiek.

Maar juis daar lê die ding. By die Veertjies. In ons spesialis-joernalis, Lydia van der Merwe, se afwesigheid is ek verhoog toe vir haar prys as wenner in die kategorie Ondersoekende Joernalistiek vir die storie “SA se beroepsmense swig voor opkikkers en dwelms” (SARIE, Februarie 2007). Nou . . . ek wás al baie voorheen op ’n verhoog voor honderde mense. Dít was nie die probleem nie. Ook nie die trappe op in my hoogste puntskoene nie. Nee, dit was die Veertjie self . . .

Ek onthou die blink koevert, die silwer trofee wat Coenie de Villiers aan my oorhandig en wat ek mooi saam met die koevert vashou. Hy vra dat ons kamera toe draai vir ’n foto. En toe voel ek die Veertjie gly op die koevert wat ek in een hand vashou. Ek sien dit kantel, dan grond toe tuimel. Ek bly koel en dink ek sal dit grasieus optel en weer mooi blinkvryf vir Lydia. Maar dan gebeur die onuitspreeklike. Dit tref die grond en spat aan duisend stukke. ’n Deel skiet op en maak ’n sierlike boog deur die lug voor dit bedremmeld tussen die ander gips-oorblyfsels gaan lê.

Is daar ’n groter vernedering? Bloot die gedagte aan dié soort ding laat jou nekhare rys. Wat jou in die nag verward en sopnat laat wakker skrik. Dis sulke goed wat TV-mense bymekaarmaak en op Oujaarsaand uitsaai as ligte vermaak vir mense wat niks beters het om te doen nie.

En die ATKV-gehoor? Hulle het uitbundig gelag, hoor ek. Sommige uit skok, sommige uit empatie, ander uit verwondering dat ’n trofee in soveel stukke kan breek. Die meeste, dink ek, uit: “Dank die Vader dit was nie ék nie!”

Oor die jare het my lysie van “insidente” langer geword, maar hierdie is verreweg die mees betreurenswaardige toevoeging. Julle sal my dus verskoon as ek die goeie wense - laat dit goed gaan met jou - met ’n knippie sout neem. Wat my wel beter sal laat voel, is as jy ’n “insident” het wat hierdie troef. Skryf vir my, vertel my, dalk kan ons saamdra aan ons bagasie!

Michélle van Breda

NS. En die ander twee Veertjies? Riette Rust het daardie twee vir SARIE gewen! Een in die kategorie Sake en Persoonlike Finansies vir haar storie “Onder 35 jonk-jonk geldslim” (November 2007) en die ander vir Vermaak en Ontspanning vir haar storie “Ontmoet die nuwe grotman” (September 2007). En ja, sy het sélf haar Veertjies gaan haal - en niks laat val nie!

SARIE  Junie 2008