Miljoene der miljoene Suid-Afrikaners het koue, hitte, lang ure en seer voete trotseer om by die stembus uit te kom. Op party plekke het die rye kilometers ver gestrek. Dan gló ons mos in hierdie land in die power of one!

Die mag van een - die vermoë van één mens om 'n verskil te maak al sien ons nie altyd dadelik die resultaat nie - bly vir my fassinerend en verstommend.Want ék vang myself dikwels dat ek dink:
"Nee, wat, daar's niks wat ek kan doen om die situasie te verander nie.Hierdie uitdaging is veel groter as net ek.

"Ons twyfel so maklik aan ons eie vermoëns. Glo so gou dat ons stem tussen 'n duisternis ander wegraak.Tog is die geskiedenis besaai met mense wat bomenslike goed regkry. Elke dag sien ons gewone mense soos ek en jy wat die wêreld 'n beter plek maak.

Kyk nou na die Suid-Afrikaners oorsee wat vanjaar vir die eerste keer sedert 1994 aan ons verkiesing kón deelneem - hoofsaaklik deur die toedoen van één mens: 'n Onderwyser van Pretoria wat vir 'n ruk in Londen werk. Willem Richter het (met die hulp van die Vryheidsfront Plus) tot in die hoogste howe van die land baklei vir dié reg vir duisende landsburgers buite Suid-Afrika. Op Trafalgar-plein, buite SA-Huis, het hulle opgewonde met vlae en Springbok-truie gewag om hul kruisies te trek.

Dié wat daar was, sê dit was soos 'n karnaval. Selfs die Stormers in Nieu-Seeland kon dáár in die vreemde stem. Ek dink meer van ons by die huis verstaan ook nou beter dat baie Suid-Afrikaners oorsee nié hul rug op ons gedraai het nie,maar dat hulle daar is om te werk en ondervinding op te doen - en dié kennis wil kom terugploeg. Soos dié boodskap op Facebook beaam: "Ek's lief vir my land en ek mis Suid-Afrika elke dag. Ek wag vir die dag dat ek kan terugkeer."

Net nou die aand sien ek weer 'n CNN-dokumentêr oor die ongelooflike Wangari Maathai van Kenia, wat in 2004 die eerste vrou van Afrika en eerste omgewingsaktivis geword het om die Nobel-vredesprys te wen. Sy onthou hoe sy as kind grootgeword het in 'n land "ongelooflik groen en onbeskryflik mooi".

Maar 20 jaar later moes sy toekyk hoe bome uitgekap en die landskap leeg en vernietig agtergelaat word, en bydra tot die armoede van haar mense. Byna vrou-alleen het sy die Green Belt Movement begin en landelike vroue aangemoedig om teen minimale betaling 'n boom te plant. Brutale inmenging deur die Keniaanse polisie, selfs haar inhegtenisneming en geldtekort, het dié merkwaardige vrou nie van stryk gebring nie.

Vandag is 35 miljoen bome al in Kenia aangeplant en werk haar organisasie ook in ander Afrika-lande. Sy praat met wêreldleiers, en almal weet háár stem word gehoor.

In Januarie is Barack Obama as Amerika se nuwe president ingehuldig op die rug van sy: Yes, we can! Ja, dit ís 'n verkiesingsboodskap en uiteindelik sal die geskiedenis hom beoordeel. Maar ons kan nie die magic van daardie drie eenvoudige woorde ontken nie.Want eintlik wéét ons hoeveel krag in ons eie gedagtes en dade skuil. Dis net om daardie eerste alleen-stap te neem.

Dís 'n uitdaging wat elke dag op elkeen van ons wag. Anne Frank het juis gesê: Hoe wonderlik is dit dat niemand 'n enkele oomblik hoef te wag om die wêreld beter te maak nie!

Geniet vandeesmaand se SARIE. Alles het begin met enkele mense se enkele gedagtes. Maar met 'n yes, we can! is daar uiteindelik 200 blaaie om jou te inspireer. Tot Julie-maand, wanneer SARIE teen 8 Junie op straat is en ons ons 60ste verjaardag vier!

En onthou om ons nuwewebtuiste te besoek: sarie.com. Vir my, jou en ons by SARIE lê daar 'n hele nuwewêreld van gesels voor!