Suid-Afrikaanse spreker en skrywer van Omvattende Vrouegesondheidsgids (Tafelberg, 2008) en haar gesin woon sedert 2009 in Perth, Australië. Aan baie reis en baie werk, is sy gewoond: Sy was al weer vier keer in Suid-Afrika, en met ons onderhoud op pad
na Singapoer, Londen en Amerika om seminare en konferensies toe te spreek. Sy skryf aan 'n nuwe boek, het vyf kinders tussen 11 en 22 (die oudste studeer in SA), en sy doen deesdae haar eie huiswerk!

NIE ’N SUPERVROU NIE

 "Toe ons Australië toe is - my man het 'n pos
daar aanvaar - het ek myself eers afgegee om my twee seuns van 14 en 11 gevestig te kry, maar nou raak ek weer baie besig. Ek is eenvoudig gelukkiger en meer vervuld as ek werk. Fisiek is dit uitputtender, maar dit lig my, ek voel gestimuleer. Die werklikheid is egter dat ek nie 'n supervrou is nie, ek raak moeg. Ek is 46, ek word ouer, maar ek kan my werk skik, en ek het strategieë in plek." 

BELANGRIKSTE STRATEGIE

 "Daai mental buzz brand vroue uit. Dis nie jou kinders, jou besige werk
of al jou verpligtinge wat jou uitput nie, maar daardie lysie in jou kop van alles wat nog moet klaarkom. Ek probeer minstens twee keer per dag mediteer, al is dit net vir 'n kort rukkie. Enige asemhalingstegniek werk ook goed. "Besige vroue is geneig om in beheer te wil wees. Ek sukkel daarmee, veral noudat ek sonder huishulp is. Ek moes myself leer om te laat gaan, alles hoef nie heeltyd in orde te wees nie. En jy mág maar verwagtinge hê van jou kinders. Ek is nou vir drie weke weg, en hulle kom reg." 

MY ENERGIEBEGINSELS

 "Ek is baie ingestel op slaap en moet minstens sewe uur per nag kry. As 'n sperdatum vir 'n nuwe boek naby is, werk ek dikwels heelnag. Dan is ek poegaai. Ek sal sommer een hele Saterdagmiddag slaap inhaal. "Gesonde voeding is belangrik. Ek was 25 jaar 'n vegetariër en het 'n ystertekort ontwikkel. Ek het geleidelik so 'n bietjie vleis begin eet. Ek probeer om nie in die hardloop iets te gryp nie. As ek af voel of my energie daal, weet ek ek oefen nie genoeg nie. "Ná my vyfde kind was ek baie siek. Ek het migraine gekry en by tye aan chroniese moegheid gely. Sekere dinge laat dit  weer opvlam, soos as ek myself te veel druk met oefening. Ek hou nou by lae impak-oefening soos swem, stap of joga. Ook as ek reis."

EIE TYD

 "Ek probeer om nie naweke te werk nie. Ek het nogal
twee ekstreme: verskriklik energiek, soos die Duracellhasie, maar ek kan ook byna immobiel wees - net rondsit en gesels met my kinders, lees, my eie geselskap geniet. "Daar is onvermydelik tye dat 'n mens dinge afskeep, dalk jou man, of jou kinders of jouself. Dis belangrik dat jy bewus moet wees daarvan, sodat jy weer die balans kanherstel. En 'n plan maak." 

WAT EK NOU    WEET:

*Dis oukei as jy nie altyd super-energiek voel nie, dis deel van die lewe.


*'n Passie vir wat ek doen, is my brandstof. Daarsonder voel ek my energie daal.


*Wees bewus van die tekens wat jou lyf vir jou gee. Ken jou liggaam, sodat jy weet wanneer jy net 'n bietjie moeg is, en wanneer jy moet halt roep.

*Niks klop 'n goeie nagrus nie. Ons onderskat ons liggaam se behoefte om te rus en te herstel.


*Soms is een ding op 'n slag beter as 'n klomp goed op 'n slag. Multitasking is nie altyd die antwoord nie!


*Die heel belangrikste is geloof in God en gebed.